Maak 2026 jou jaar sonder skuld

Skuld verdwyn nie vanself nie – dit word net duurder. Maak 2026 die jaar waarin jy ophou skuld maak, begin spaar en die krag van saamgestelde rente vir jóú laat werk.


Maak 2026 jou jaar sonder skuld

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  28 Desember 2025

Jou sondes kan jou dalk vergewe word, maar nie jou skuld nie. Dit bly. So, besluit eerder vanjaar om jou skuld minder te maak en meer te spaar. Dit kan jou ryk maak, skryf Nico van Gijsen.

Ons is nou net mooi tussen Kersfees en Nuwejaarsdag. Dit is ’n goeie tyd om opnuut te besin oor wat verby is en ook ’n tyd om dankie te sê. Daar is altyd iets om voor dankie te sê. As jy dit nie sien nie, maak oop jou oë.

Dit is vir baie ook tyd vir Nuwejaarsvoornemens. Daar is nog ’n dag of wat oor vir jou om te dink.

Begin sommer deur te dink aan die Nuwejaarsvoorneme wat jy vir vanjaar gehad het. Wat het daarvan geword? Waarmee het jy begin en toe opgehou? Watter het nooit van die grond af gekom nie?

Die ding met Nuwejaarsvoornemens is dat hulle geneem word wanneer jy rustig is. Vakansietyd. En dan lyk alles mos moontlik. Dinge soos “ek wil vanjaar gewig verloor” of “ek wil weer begin oefen”. Dit bly mos maar altyd gewild.

Maar hier is die waarheid: Dit is iets waarmee jy nie onmiddellik hoef te begin nie. Jy kan “vir oulaas” nog lekker vet tjoppies eet en lui wees. Uitstel laat enigiets mos moontlik lyk. Maar gaan dit gebeur?

Ek is nie ’n dieetkundige nie, maar ek weet van geld. So, hier is my voorstelle.

Nuwe skuld

Weet één ding. Jou sondes kan jou dalk vergewe word, maar nie jou skuld nie. Dit bly. Dit kos jou net al hoe meer geld elke dag vir solank as wat daardie skuld uitstaande is.

My heel eerste voorstel vir die nuwe jaar is eenvoudig: Moenie nuwe skuld maak nie. Dit is regtig nie so moeilik nie. Dit kos net ’n bietjie ruggraat en deursettingsvermoë.

Dit is nie nodig om vriende en bure te probeer beïndruk nie. As jy dit nie kan bekostig nie, is dit waarmee jy wil spog, in elk geval vals en jy lieg maar net vir jouself.

As jy wil huis koop, dan sê ek dit is goeie skuld. Dit is ’n bate wat in waarde behoort toe te neem. En jy woon daarin, wat ’n besparing elders teweegbring. Gaan gerus so ’n raps hoër as wat jy gemaklik kan bekostig. Ek het dit gedoen, en vandag is ek bly. Al moes ons die gordel vir ’n tydjie ’n bietjie intrek.

Maar ander skuld? Los dit.

Ou skuld

Wat as jy reeds baie of selfs te veel skuld het?

Ek moet bieg, daar was ’n tyd – lank, baie lank terug – dat ek ook nie mooi gedink het oor die gevolge van skuld nie. Totdat ek op ’n dag besef het: Skuld maak ’n mens arm.

Dit is erg as jy die hele maand werk, maar aan die einde het jy byna geen geld nie, want alles gaan om skuld te delg. En jy weet die rente maak die skuld net nóg meer; dit is erg verby.

Ek hoor van mense wat elke maand ál die rekeninge in ’n hoed gooi en met ’n trekking besluit wie om te betaal. Of ná hul Nuwejaarsvoorneme kredietkaarte versnipper. Familietwis en depressie volg.

Dít is nie hoe jy die probleem oplos nie. Kyk vir wie skuld jy wat en begin ernstig om van jou skuld ontslae te raak. Jy kan ook jou bank vra vir hulp om alles te konsolideer en dan betaal jy net die bank terug. Maar jy moet dan nie weer skuld maak nie.

As dinge te erg is hiervoor, is ’n skuldberader dalk ál oplossing. Maar, en neem dit asseblief ter harte, gaan spreek dan sommer ’n sielkundige ook.

Glo my, as jy so diep in die skuld is, het jy ’n erger probleem as wat jy dink.

Spaar

Skuld maak jou arm. Jy betaal meer vir alles wat jy op skuld koop, want jy betaal rente daarop. Gewoonlik saamgestelde rente. Dit is rente op rente.

As jy byvoorbeeld vir R1 000 koop en oor vyf jaar afbetaal teen 14% rente per jaar, wat maandeliks saamgestel word, betaal jy in totaal R2 005.61 vir daardie aankoop van R1 000.

Jou totale rente betaalbaar daarop is nie 70% (5 jaar X 14%) nie. Jy het eintlik oor die vyf jaar 93% rente betaal. As ons dít nou deel deur die vyf jaar, sien ons dit werk uit op ’n gemiddeld van 18,6% rente per jaar, nie 14% nie.

En dit is hoekom Albert Einstein na saamgestelde rente verwys het as die sterkste krag in die heelal.

Nou kom ek by my eintlike punt: Hoekom gebruik jy nie eerder hierdie selfde vermenigvuldigende krag om vir jouself welvaart te skep eerder as om toe te laat dat dit jou verarm nie?

Die som werk mos op dieselfde manier anderkant toe om: As jy R1 000 spaar en jy kry groei van 14% per jaar daarop, sal jy aan die einde van vyf jaar die R2 005,61 op die belegging hê. Pleks van iets wat teen daardie tyd al waarskynlik naby aan waardeloos is.

Los nou daardie belegging van jou vir nog vyf jaar. Dan is dit R4 022.47. Ja, skerp lesers sal opmerk dat die ekstra vyf jaar nie net die bedrag verdubbel het nie, dit is méér as dubbeld. Hoekom? Omdat jy rente op rente kry. Saamgestelde rente.

En dit net deur ’n eenmalige R1 000 te belê, pleks van iets op skuld te koop. Neem dit ook ter harte as jy dalk ook vir ’n kleinkind ietsie wil wegsit.

Tyd en rente saam sál jou ryker maak. Dit kan nie anders nie.

Scroll to Top