Só kan jou kinders rykdom skep vir eendag

Wat as jou kinders reeds in hul 20’s kan begin om werklik rykdom te bou? Dié artikel wys hoe ’n vroeë begin en slim keuses oor tyd ’n enorme finansiële verskil kan maak.


Só kan jou kinders rykdom skep vir eendag

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  04 Januarie 2026

Ek glo die wysheid kom regtig maar eers met die ouderdom. Ook geldwysheid.

Dit is jammer, want as jong mense hierdie wysheid vroeër kon bekom, sou hulle vroeër groter welvaart vir hulself kon skep.

Dit is dus goed as ouer mense wat die wysheid bekom het, dit met hul kinders en kleinkinders deel.

In my laaste week van werk verlede jaar, vra ’n leser of sy haar kleinkinders, in hul 20’s, kan aanraai om in ’n uittreeannuïteit te belê. Is dit die beste?

Kom laat ek eers iets uit die weg ruim. Die woord “beste” hoort nie in ’n gesprek oor beleggings nie. Ek weet baie mense loop rond en smous “beste”, maar dis twak.

Daar is nie “beste” nie. Daar is wel “toepaslik”. Daar is wel “na vermoë”. Daar is wel “na behoefte”. Maar “beste”? Nee.

Kom ons kyk na die vraag oor spaar in ’n uittreeannuïteit vir iemand van sê 25 jaar oud.

Termyn

Een van die belangrikste faktore met spaar in ’n uittreeannuïteit, of UA, is dat jy voor die ouderdom 55 jaar nie by jou geld kan uitkom nie.

Ja, ek is bewus van die tweepotstelsel, waar jy een keer per jaar geld uit die spaarkomponent van jou aftreefonds kan onttrek. Maar, regtig, dit is een van die simpelste gedagtes waarmee ons regering nóg vorendag gekom het.

Ons sit reeds met ’n gebrek aan aftreevoorsiening, nou maak hulle dit nog makliker vir nog meer mense om te min geld bymekaar te maak vir aftrede.

Dit eers daar gelaat.

Die punt is jou geld is vas totdat jy 55 jaar oud is. Maar niemand behoort op 55 af te tree nie, so kom ons werk op 60 jaar. Dit is 40 jaar vorentoe.

Dit is tyd in die mark wat vir jou welvaart skep. En 40 jaar is ’n goeie tyd.

As jou kleinkinders op 25 jaar oud begin om net R1 000 per maand te spaar, wat elke jaar met inflasie van 5% verhoog en met ’n gemiddelde jaarlikse groei van sê maar 12%, sal hulle by aftrede op 60 jaar ’n heel skaflike neseier van R16 508 080 opgebou het.

En dit, al was dit nie baie geld om mee te begin nie, is die welvaartskeppende gevolg van jonk begin en die voordeel van tyd te hê.

Belasting

Die ander oorwegende faktor met spaar in ’n UA is sy belastingvoordeel terwyl jy spaar. Jy wen op twee vlakke.

•             Belasting en die premie

Jou premie wat jy spaar, is aftrekbaar vir belasting tot ’n maksimum van R350 000 of 27,5% van jou inkomste per jaar. En dit wat jy nie kon aftrek nie, omdat dit meer was as die toegelate aftrekbare bedrag, is oordraagbaar na opvolgende jare, om dan afgetrek te word.

En dit wat jy oor die hele termyn wat jy spaar nie alles kon aftrek nie, kan jy ná uittrede uit die UA belastingvry as ’n pensioen onttrek.

In syfers?

As jy soos hier bo R1 000 per maand spaar en jou marginale belastingkoers is 30%, dan spaar jy in werklikheid net R700. Die ander R300 kry jy pasella in die vorm van belasting wat jy bespaar.

Anders gestel, jy kry ’n R1 000-beleggingsvoordeel vir net R700.

•             Belasting en beleggingsgroei

In die UA self word ook geen belasting gehef op groei nie, wat in ander soorte beleggings wel belasbaar sou wees.

Die groei op rente- en huurinkomste van ’n gewone belegging word belas as inkomste. Die groei in kapitaal in ’n gewone belegging is onderhewig aan kapitaalwinsbelasting (KWB) by die verkoop van die aandele.

In die UA-belegging is daar geen belasting nie.

Jy kry selfs belastingvrye groei op die pasella gedeelte van jou premie waarna ek hierbo verwys – dit wat jy reeds vir belasting kon aftrek.

En daar is nog ’n bonus. Wanneer jy sterf, val die UA buite jou boedel vir boedelbelasting, terwyl ander beleggings nie uitgesluit is nie.

O ja, en skuldeisers kan ook nie beslag lê op jou belegging in ’n UA nie.

Is dit die beste?

Kom ons kom terug na die vraag hier bo. Is ’n UA, met al sy voordele, die beste spaarmedium?

Net uit ’n belastingoogpunt sou ’n mens baie maklik kon sê ja. Belasting is die een faktor in die beleggingswêreld wat jou kan seermaak.

Die risiko met groei is ’n ander een, maar dit is heelwat makliker om te bestuur met die hulp van ’n finansiële beplanner wat sy of haar storie ken.

Van belasting kan niemand wegkom nie. So, uit ’n belastingoogpunt alleen sal ek dalk waag om dit die beste te noem.

Maar daar is ander oorweginge ook as jy wil rykdom skep.

Jy wil dalk nie al jou geld gaan vasmaak in ’n belegging waaruit jy nie jou geld kan onttrek voor ’n sekere ouderdom nie.

Daarom sal my aanbeveling wees om meer as een belegging te maak.

Spaar soveel jy kan in ’n UA, tot die maksimum belastingvoordeel wat jy kan kry.

Spaar dan ook in ’n diskresionêre belegging vir groei. Maar kry ook raad oor belasting, want dit kan jou seermaak en daar is maniere om dit te bestuur.

En dan kort jy ’n derde spaarplan, die een vir onvoorsiene uitgawes, of te wel, jou noodplan.

Scroll to Top