Daar is ’n gesprek wat baie belangriker is as rugby-debatte om die braaivleisvuur – een wat jou geld direk raak. Kapitaalwinsbelasting is vol slaggate, en as jy nie oplet nie, kan dit jou duur kos.
Hier’s ’n belangriker gesprek as die een oor Eben die oogarts
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 21 Desember 2025
Kapitaalwinsbelasting kan ’n groot invloed op jou finansiële lewe hê. Pasop vir ’n slang of twee in die gras, skryf Nico van Gijsen.
Is Eben Etzebeth ’n closet-oogarts?
Sal die Bokke verder as die kwarteindstryd in die 2027-Rugbywêreldbekertoernooi vorder as hulle, soos geagte rugbyskrywers verwag, teen die All Blacks te staan kom?
Lekker onderwerpe vir die vleisbraaivure, meen ek.
Maar hier is iets anders. Met ’n bietjie meer toepaslikheid op jou geldsake.
Ek het verlede week hier geskryf oor kapitaalwinsbelasting (KWB). En spesifiek gefokus op die KWB-gevolge, met voorbeelde van hoe om jou KWB te bereken, sou jy jou woonhuis (primêre woning) verkoop.
Net kortliks weer ’n algemene punt of twee oor KWB.
KWB is nie ’n aparte belasting nie. Dit is inkomstebelasting op kapitaal. Jou KWB by die verkoop (of van die hand sit) van ’n bate word bereken deur die basiskoste af te trek van die verkoopprys (of markwaarde). Ek het ook gewys op die KWB-uitsluitings, soos die R40 000 per jaar vir individue en die R2 miljoen sou dit ’n primêre woning wees wat jy verkoop.
Gaan lees gerus verlede week se rubriek as jy meer wil weet.
Ons kyk nou na ’n paar gebeure waar KWB ’n invloed op jou finansiële lewe het.
KWB op jou beleggings
Ons belê ons geld om rykdom te skep. En glo my, Jan Taks wil sy deel daarvan hê. Dit doen hy deur belasting te hef op die groei in jou beleggings (uittree-annuïteite en die belastingvrye spaar uitgesluit).
As jy ’n Suid-Afrikaanse inwoner is, word jy op die groei in jou diskresionêre beleggings belas. Ja, selfs geld wat oorsee belê is.
Op rente- en huurinkomste in jou belegging word jy jaarliks belas as inkomste.
Op die geld wat jy in aandele het, hetsy deur effektetrusts, of in direkte aandele, betaal jy nie jaarliks inkomstebelasting op die groei nie. Maar jy betaal KWB wanneer die batebestuurder van daardie aandele verkoop.
Solank as wat jy nie die aandele verkoop nie, is daar dus nie belasting betaalbaar nie.
Weens die manier waarop KWB bereken word, is jou KWB-betaalbaar ’n maksimum van 18% op die groei. Jou rente- en huurinkomste is belasbaar teen jou marginale koers, ná die jaarlikse vrystelling van die eerste R23 800 vir mense onder 65 jaar en R34 500 vir diegene daarbo.
Die jaarlikse uitsluiting vir KWB is R40 000. Nota: KWB is ’n uitsluiting, nie ’n vrystelling nie
KWB tussen gades
In die geval waar ’n bate van die hand gesit word wat deel vorm van die gemeenskaplike bates van ’n egpaar wat binne gemeenskap van goed getroud is, word daardie transaksie beskou asof dit in gelyke dele gedoen is deur elkeen afsonderlik. Die KWB-uitsluiting geld ook vir elkeen om die helfte.
Sou die bate egter nie deel van die gemeenskaplike boedel vorm nie – dit is uitgesluit van die gemeenskaplike bates – sal die een wie se bate dit was, aanspreeklik wees vir die KWB daarop.
KWB by dood
By dood word geag dat die oorledene afstand gedoen het van sy of haar bates ten gunste van die bestorwe boedel gelyk aan die markwaarde van die bates op die dag van dood.
Dit beteken dat KWB ter sprake kom. KWB is betaalbaar deur die boedel op daardie bates wat aan KWB onderworpe is, byvoorbeeld vaste eiendom, beleggings in aandele, ensovoorts.
Dan word die gewone som gedoen, waaroor ek verlede week geskryf het, om die KWB-verpligting te bepaal. Met die verskil dat in die jaar van ’n persoon se dood is die KWB-uitsluiting R300 000 en nie R40 000 nie.
Erfgename verkry die bate teen dieselfde waarde as wat dit in die boedel opgeneem is (op enkele uitsonderings na wat nie hier van toepassing is nie). Vir die erfgenaam is dit dan sy of haar basiskoste, sou hy of sy die bate later van die hand sit.
Maar vir ’n oorlewende gade werk dinge anders.
Bates wat aan ’n oorlewende gade oorgedra word, of dit testamentêr of intestaat vererf, of dit deel vorm van ’n aanwas-eis, volgens ’n herverdelingsooreenkoms is, of ’n eis ingevolge die wet op onderhoud van langslewende gades, is onderworpe aan wat ons noem die oorrol van die basiskoste.
Die boedel betaal nie op daardie bates KWB nie. Die oorlewende gade verkry die bate teen die basiskoste wat dit vir die oorlede gade gehad het. Wanneer die gade die bate eendag van die hand sit, of sterf en dit in sy of haar boedel beland, word KWB gehef vanaf die basiskoste wat dit oorspronklik vir die eerssterwende gade gehad het.
Maar nou, en dit is baie belangrik, daar is ’n slang of twee wat hierdie reël gif kan voer.
- Met bates wat aan ’n trust bemaak is ten gunste van ’n oorlewende gade, geld hierdie oorrol van die basiskoste net as die oorlewende gade ’n gevestigde reg het. Vergeet dus daarvan om vir die trustee ’n diskresie te gee.
- Die oorrol geld ook nie in daardie gevalle waar die eksekuteur bates verkoop het en die opbrengs van die verkoop aan die oorlewende gade oordra nie.
- Bates oorgedra as deel van ’n eis om onderhoud deur ’n oorlewende gade teen die boedel sal eweneens nie kan voordeel trek uit die oorrol van die basiskoste nie.
Hierdie laaste paar punte, veral, wys net op die belangrikheid om behoorlike boedelbeplanning te laat doen. ’n Testament alleen is net nie goed genoeg nie.



