Wanneer jy in ’n uittree-annuïteit belê, dink jy dalk jy het ’n slim plan vir jou naasbestaandes – maar het jy regtig al die gevolge in ag geneem? Nico werk lig op die verskuilde risiko’s en onthul die fynskrif wat jou kan help keer dat iemand aan die kortste ent trek.
Uittree-annuïteite: Keer só dat iemand aan die kortste ent trek
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 27 April 2025
Die probleem met finansiële produkte in die algemeen is dat mense nie altyd verstaan hoe dit saamgestel is of wat ál die gevolge is wanneer hulle daarin belê nie.
’n Leser bel my vandeesweek en sê onder meer hoe hy groot bedrae geld in ’n uittree-annuïteit belê om vir naasbestaandes voorsiening te maak.
Ek kon hoor hoe hy na asem snak toe ek aan hom sê hy moet mooi dink, dis nie altyd die beste nie.
Daarom wil ek vandag kyk na uittree-annuïteite (UA’s) en na die verskillende faktore ter sake wanneer jy in dié produk belê.
Die probleem met finansiële produkte in die algemeen is dat mense nie altyd verstaan hoe die produk saamgestel is nie of wat die gevolge (ál die gevolge) is wanneer daarin belê word nie.
Ongelukkig sien ek ook dat sommige finansiële raadgewers nie die kliënt reghelp nie, maar eerder fokus op die kortste pad na sy of haar kommissie.
En hoeveel meer oortuiging het die raadgewer nou nodig as om die belastingvoordele van ’n UA te beklemtoon? Wie wil dan nie bespaar op belasting nie?
So, kom ons kyk.
Belastingvoordele
’n UA is beslis ’n belastingvoordelige spaarproduk. Binne perke (die minste van R350 000 of 27,5% van inkomste) is bydraes tot ’n UA belasting-aftrekbaar.
Sou jy dus in die marginale belastingkoers van byvoorbeeld 30% val, kry jy effektief met elke premie in ’n bepaalde jaar groei van 30% op jou belegging. Net daar. Nog voor enige verdere sent se opbrengs.
En elke jaar daarna geld dieselfde op verdere bydraes, met boonop 30% meer op jou beleggingsgroei (vir solank jy in die 30%- marginale belastingkoers val) as jou buurman wat in dieselfde fondse, maar nie in ’n UA nie, belê is.
En dan het jy ook nog die voordeel dat jou UA nie vatbaar is deur skuldeisers nie. Maar daar is meer.
Aftrede
’n UA is ’n spaarproduk vir aftrede en word gereël deur die Pensioenfondswet (24 van 1956).
Dis bedoel om voorsiening te maak vir jou aftrede.
Ja, jy kan dit anders ook aanwend. Ek weet van mense op pad na aftrede wat dit as ’n belastingvrye spaarmedium gebruik om ná aftrede die premies op hul mediese skema te finansier.
Vir diegene wat nie tot ’n werkgewer-aftreefonds behoort nie, is spaar in ’n UA sonder teenspraak die mees logiese en belastingvriendelke manier van spaar vir oudag.
Selfs diegene wat wel tot ’n werkgewer-aftreefonds behoort, kan met vrug bykomend gebruik maak van ’n UA. Byna niemand het genoeg om te kan aftree met net die voorsiening in hul werkgewer-aftreefonds nie.
Maar daar is meer.
UA by dood
Weer eens het ons die belastingvoordeel as verkoopspunt.
By dood val die geld in ’n UA nie, soos wat die geval is met ander beleggings, in jou boedel vir boedelbelasting nie.
Met ’n UA kan jy ’n begunstigde aanwys, wat die voordeel van die UA kry ná jou dood. Die geld gaan nie eers deur jou boedel nie. Dit is dus ook vrygestel van ander boedelkoste, onder meer die eksekuteurstarief.
En hier is nou ’n baie belangrike wenk vir almal wat hier lees: Maak seker waar jy ook al ’n UA uitgeneem het en ook by jou werkgewer-aftreefonds, dat jy ’n begunstigde vir die voordele uit die fonds aangewys het.
As jy dit nie doen nie, kan dit ’n reusebelastingimpak op jou sterftevoordeel hê. Met minder geld vir jou naasbestaandes.
Maar daar is meer.
Trustee-besluite
Met al dié voordele, is dit ’n goeie produk om voorsiening te maak vir ander ná jou dood, soos wat ons leser se plan is?
Loop lig.
Art. 37C van die wet bepaal dat die trustees van die fonds, wanneer hulle kennis kry dat die lid van die fonds oorlede is, eers moet uitvind of daar afhanklikes is voordat enige voordele aan ’n begunstigde oorgedra kan word.
Let op die “moet” in die vorige paragraaf en ook dat “begunstigde” nie noodwendig voor in die tou staan nie.
Kortom, die trustees het die finale sê oor wie gaan voordeel trek uit jou aftreefonds.
Iemand wat jy nie bedoel het bevoordeel moet word nie, kan wel die voordeel kry, terwyl iemand wat jy wou bevoordeel, dalk aan die kortste ent kan trek.
Hier is ’n werklike voorbeeld:
’n Man het vir sy lewensmaat sy hele boedel nagelaat, onder meer ’n woonhuis, twee motors en ’n paar miljoen rand se beleggingsgeld.
Volgens sy beplanning is sy pensioenfondsvoordele aan sy bejaarde ma begunstig.
Die lewensmaat hoef toe net te noem dat hy die oorledene se lewensmaat was en toe gee die trustees sommer aan hom die pensioenfondsvoordeel ook. Ma kry toe niks.
Net ter volledigheid. Ons kon namens die ma uiteindelik darem die helfte van die pensioengeld kry. Maar nie alles nie.
Maar daar is meer.
My voorstel
Jy kan wel nie in jou testament bepaal wat met jou pensioenvoordele moet gebeur by jou dood nie.
Maar as jy beplan het om soos die leser, of die man in die voorbeeld wat ek noem, jou pensioenfondsvoordeel aan iemand spesifiek na te laat, kan jy wel jou testament daarvoor gebruik.
Maar nie vir die fondsvoordele nie.
Jy kan bates, soos ’n huis, of ander beleggings aan iemand bemaak wat dalk ’n afhanklike is, maar dan ’n voorwaarde stel vir daardie bemaking.
Hy of sy kan hierdie goed van jou erf op voorwaarde dat afstand gedoen word van enige voordeel uit die pensioenfonds. Dit kan werk.