As jou uittree-annuïteite jou groot plan vir finansiële gemoedsrus is, moet jy seker maak dat Jan Taks nie ‘n groter hap as nodig neem nie! Leer hoe ‘n enkele besluit jou boedelbelasting kan beïnvloed—en watter slim strategieë jou erflating kan beskerm.
Hou kop met uittree-annuïteite, als draai om belasting
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 04 Mei 2025
Kyk, Jan Taks gaan vir jou niks pasella gee nie, maar deurdink hierdie twee scenario’s oor uittree-annuïteite en boedelbelasting.
Ek het verlede week hier geskryf oor uittree-annuïteite (UA’s) en gedag ek het omtrent alles aangeraak wat nodig is.
Maar toe kry ek ’n vraag van ’n leser. Sy finansiële raadgewer, skryf hy, sê dat ’n UA wel by dood in jou boedel val as jy nie ’n begunstigde aangewys het nie. En dat dit dan onderhewig is aan boedelbelasting.
Dit is natuurlik nie só nie.
Laat ek net eers beklemtoon wat ek verlede week hier genoem het. Maak seker dat jy begunstigdes aanwys op jou UA (en jou werkgewer-aftreefonds as jy een het). As jy dit nie doen nie, sal die geld in jou boedel val – onderhewig natuurlik aan die besluit van die trustees wat betref afhanklikes (lees gerus weer verlede week se rubriek).
Geld in jou boedel beteken dat skuldeisers teen jou boedel daaruit betaal kan word, die restant-erfgename daaruit bevoordeel kan word (in teenstelling met wie jy dalk sou wou bevoordeel) en dat dit ook ingereken word vir die eksekuteurstarief.
Kortom, met een lakse versuim (om ’n begunstigde aan te wys), maak jy een van die belangrikste voordele van ’n UA ongedaan.
Maak seker jy het ’n begunstigde aangewys.
Boedelbelasting
Al beland die geld van jou UA in jou boedel omdat jy nie ’n begunstigde aangewys het nie, is daar nie boedelbelasting daarop betaalbaar nie.
Laat ek verduidelik. Dis meer kompleks as net ’n “nee”. Ons het twee scenario’s. En alles draai om belasting.
Soos ek verlede week hier geskryf het, as jy in ’n UA (ook in jou werkgewer-aftreefonds) spaar, is jou bydraes tot die fonds aftrekbaar vir belasting, ingevolge art. 11F van die Inkomstebelastingwet (58 van 1962), binne die perk van die minste van R350 000 of 27,5% van inkomste per jaar.
Kom ons noem dit “aftrekbare bydraes”.
Jy kan natuurlik meer tot die fonds bydra. Soveel as wat jy wil.
Dit wat jy meer bydra as die toegelate aftrekbare bedrag wat ek hierbo noem, kan jy in opvolgende jare vir belasting aftrek, mits jy binne die toegelate perk vir daardie jaar bly.
Dit, daardie gedeelte van jou UA-fonds wat jy nie kon aftrek nie, kan ons noem “nie- aftrekbare bydraes”.
Ons deel dus die spreekwoordelike UA-fonds in twee: die deel gefinansier deur “aftrekbare bydraes” en die deel gefinansier deur “nie-aftrekbare bydraes”.
Vóór Maart 2015 was dit moontlik om boedelbelasting te vermy deur kontant in ’n UA te belê, aangesien die UA nie as eiendom of geagte eiendom in die oorledene se boedel opgeneem kon word nie. Dit was in geheel van boedelbelasting vrygestel.
’n Lekker manier vir mense met baie geld om boedelbelasting daarop te systap.
Maar in 2019 is ’n nuwe art. 3(3)(e) in die Boedelbelastingwet (45 van 1955) ingebring en van toepassing gemaak op alle UA-bydraes (ingesluit ander aftreefondse) sedert 1 Maart 2016.
Die artikel bepaal kortliks (om dit meer verstaanbaar vir almal te maak) dat die waarde van ’n UA uitgesluit is vir boedelbelasting – al betaal die bedrag kontant uit aan jou boedel by dood.
Maar dit is beperk tot die “aftrekbare bydrae” (plus natuurlik die groei daarop).
Die “nie-aftrekbare bydrae”, of dit nou aan die boedel uitbetaal, of aan iemand begunstig word, word in die oorledene se boedel opgeneem as geagte eiendom en as sodanig is dit aan boedelbelasting onderhewig.
Aftreefonds-belasting
Die logiese vraag is nou seker: Hoe word jou geld uit ’n aftreefonds dan belas by dood? Jy gaan beslis nie enigiets pasella van Jan Taks kry nie.
Ons het gesien die “nie-aftrekbare bydrae” van jou UA-voordeel val in as geagte bate in jou boedel en is aan boedelbelasting onderhewig.
Die res van die UA, die “aftrekbare bydrae”, word belas ingevolge par. 3 van die tweede skedule van die Inkomstebelastingwet en wel volgens die skaal wat geld by aftrede uit ’n fonds.
Die wet hanteer dit asof jy die dag voor jou dood uit die fonds afgetree het.
Kortliks beteken dit dat indien die fonds die volle bedrag kontant uitbetaal, is R550 000 belasbaar teen ’n nul koers, terwyl die res belas word teen onderskeidelik 18%, 27% en 36%, na gelang van die bedrag. Die 36% is betaalbaar op alles bo R1 155 000.
Neem net kennis dat die belastingsom wat gemaak moet word, ook vorige kontantbedrae uit aftreefondse in ag neem. Die R550 000 is ’n eenmalige vergunning.
En verder, dit geld net gevalle waar die fondsvoordeel kontant uitbetaal. Indien die begunstigde kies om ’n annuïteit met die geld te koop, is inkomstebelasting betaalbaar deur die begunstigde op die annuïteitsinkomste.
Beplan slim
Dit alles laat ’n paar interessante vrae ontstaan as jy finansiële beplanning doen.
Is boedelbelasting teen 20%, nadat jy eers ’n korting van R3,5 miljoen op jou netto boedel gekry het, regtig so sleg?
Dink byvoorbeeld dat jy al die jare belastingvrye groei op daardie geld, die “nie-aftrekbare bydrae” ingesluit, kon kry.
En wat as jy sou besluit om liewer nie dood te gaan nie?
Wel, dan kan jy gewoonweg uittree uit die fonds. Die aftreefonds-belastingskaal geld die kontantbedrag wat jy neem. Maar die deel wat jy uit jou “nie-aftrekbare bydrae” in kontant neem, is aftrekbaar vir die belasting.
En daar is nog.
Ná aftrede kan jy uit die “nie-aftrekbare bydrae”, ingevolge art. 10C van die Inkomstebelastingwet, ’n belastingvrye pensioen onttrek.



