Erflatings bring nie net beloftes van finansiële voordele nie, maar ook verrassings, uitdagings en gesinsdramas—so, het jy regtig die reg om te erf? Nico ontbloot die harde realiteite van erfenisse en wys hoekom ’n deeglike, regmatige proses noodsaaklik is om twis en finansiële verliese te voorkom.
Het jy werklik die reg om te erf?
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 20 April 2025
Kies die eksekuteur van jou boedel volgens vermoë en kwalifikasies, nie uit sentiment nie.
Jou geld en jou goed is soms oogluikend meer gesog wanneer jy oukant se kant toe begin staan.
Ek hoor van die vrou wat geld by haar pa wil leen teen haar erfenis. En toe aan hom probeer verduidelik hoe dit eintlik net ’n korttermynlening sal wees.
En van die een wie se aftrede afhang van die erfenis uit haar pa se boedel. Sy moet haar aftrede aanhou uitstel.
Nou die vraag: Het erfgename ’n reg om te erf?
Uitdeel van boedelbates
Lesers vra gereeld oor mense wat sommer links en regs goed begin uitdeel ná die dood van ’n familielid.
Hulle mag nie. Nie eens as die testament bepaal dat die persoon aan wie die goed uitgedeel is, dit moet erf nie.
Dis boedelbates. ’n Sekere proses moet gevolg word.
Eers moet die testament (en elke ander testament deur die oorledene verly) by die meesterskantoor ingedien word. ’n Eksekuteur moet dan aangestel word om die boedel te administreer.
Bates kan eers tussen erfgename verdeel word ná goedkeuring deur die meester, nadat alle boedelverpligtinge nagekom is.
As dié proses nie gevolg word nie, gaan sien so gou moontlik ’n prokureur om die onwettige optrede te staak. Al raak dit familie. Dis gewoonlik juis familie wat ander se erfporsies probeer steel.
Erfgename en legate
Laat ek ook eers die tegniese aspekte uit die weg ruim voordat iemand my probeer teregwys. Ons kry legate en ons kry erfgename.
’n Legaat is iemand aan wie ’n spesifieke bemaking gedoen is. “Ek bemaak my strandhuis aan sus Miemie.”
’n Erfgenaam kry sy of haar bemaking uit dit wat oorbly in die boedel nadat alle boedelkoste, skuld, belasting, ensovoorts, verhaal is. Ja, ook eers nadat sus Miemie haar strandhuis gekry het. Legate tel voor erfgename.
Maar kom ons bly by “erfgename”; almal verstaan dit beter en vir ons doel vandag gaan die verskil nie saak maak nie.
Die regte van erfgename
Solank as wat die bron van die boedel steeds skop en asemhaal, het niemand enige reg om te erf nie. Hulle het nie eens ’n hoop nie.
Hulle kan wens en bid vir ’n geldjie, maar dis al.
Testeervryheid in Suid-Afrika is ’n baie sterk reg. Enigeen kan bemaak aan wie hy of sy wil. Mits dit nie teen etiese en maatskaplike norme is nie.
Jou reg om te erf, ontstaan eers ná die dood van die persoon en net as die oorledene bates aan jou bemaak het.
Selfs dan is dit nog nie ’n afdwingbare reg nie. Dis in die vroeë stadium van boedelbereddering eintlik nog net ’n hoop om te kan erf.
Soos ek hierbo noem: Alle boedelverpligtinge en eise teen die boedel moet eers afgehandel word. Hieronder tel ook ’n huweliksaanwas-eis.
Eers dán word die erfgenaam se reg om te erf ’n afdwingbare reg. Uit dit wat oor is in die boedel.
Probleme vir erfgename
Die probleme vir erfgename kom baie keer uit ’n gebrek aan genoegsame likwiditeit in die boedel om boedelverpligtinge, soos skuld, belasting en sterfbedkoste, te dek.
Maar dit kom ook deur die optrede, soos ek hierbo noem, van die een of ander persoon, baie keer ’n ouer broer wat dink hy kan maak en breek soos hy wil, wat goed na willekeur uitdeel.
Soos die man wat by sy ma se dood al haar geld uit haar bankrekening onttrek het voordat die bank van haar dood kennis geneem het. Haar agterstallige belasting kon dus nie betaal word nie. Die gevolg is dat dit nou, ná 10 jaar, ’n bankkrot boedel is wat nie gefinaliseer kan word nie.
En hier is ’n baie belangrike punt: As jy ’n erfgenaam is, moenie sommer dokumente teken nie. Jy teken baie keer jou reg om ten volle te erf weg. Kry kundige bystand.
Jou testament
Ek het dit voorheen hier geskryf: Jou testament is die belangrikste dokument wat jy in jou lewe gaan opstel. Maak seker dit voldoen aan jou vereistes.
As jy geld aan jou kind geleen het teen sy of haar erfporsie, moet jy dit in jou testament duidelik stel.
Moet die skuld verhaal word by jou dood? Of vorm dit deel van die kind se bemaking?
Het jy dit in ag geneem by die bemakings aan jou ander kinders? Weet hulle daarvan?
Kinders vlieg mekaar gou in die hare as dit lyk of die een meer kry as die ander. Hulle word maklik weer twee jaar oud lank voordat jy witbene gemaak het.
Maak gebruik van kundiges om jou testament op te stel. Onthou ook wat ek gereeld skryf: Gratis beteken presies dit wat dit is – niks.
Kies jou eksekuteur volgens vermoë en kwalifikasies, nie uit sentiment nie. Dis baiekeer kinders wat as eksekuteurs aangewys word wat die grootste probleem skep met die verdeling van bates ná jou dood.
Hulle verstaan nie hul pligte nie en dink baiekeer dis ’n volmag om te kan maak soos hy of sy wil.
Bêre jou testament op ’n veilige plek waar jou naasbestaandes ná jou dood toegang sal hê. Maar bêre ook ’n oorspronklike kopie by ’n onafhanklike instelling of persoon.
Dit kan ’n twis voorkom as moontlike erfgename hul “regte” wil begin afdwing.



