Kyk vorentoe as jy belê, nie in die truspieël

Moenie jou beleggingsreis met ‘n truspieël aanpak nie—dit lei tot finansiële ellende! Bou eerder volhoubare groei deur jou bates slim te versprei en risiko’s te beperk.


Kyk vorentoe as jy belê, nie in die truspieël

Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake  •  09 Maart 2025

Die sleutel tot goeie opbrengste oor tyd lê daarin dat jy nie alles in een beleggingsklas, een indeksfonds of een ekonomie belê nie, skryf Nico van Gijsen.

Neem al jou geld en belê dit in Suid-Afrikaanse aandele. Verkoop jou strandhuis en ander bates en belê dit in Suid-Afrikaanse aandele.

Suid-Afrikaanse aandele het die afgelope jaar (tot 28 Februarie) groei van 22,6% getoon. Suid-Afrikaanse effekte, ’n baie risikobeperkende beleggingsklas, het ’n tamaaie 17,6% groei opgelewer en Suid-Afrikaanse eiendomsaandele ’n glad-nie-te-versmaaide-nie 21,3%.

Daarenteenoor het wêreldwye aandele (in randterme) ’n 11,4%-opbrengs gelewer en in dollarterme 15,1%.

Dié soort finansiële raad – om al jou geld in ’n sekere bateklas of in een ekonomie te belê – klink vir gereelde lesers seker vreemd komende van my, nè?

Dit is. Ignoreer dit.

Ek wil hiermee net probeer wys op die onnoselheid van die soort finansiële raad wat sommige raasbekke gedurig op sosiale media en in betaalde redaksionele kolomme uitblaker.

Soos: Belê alles oorsee. Kyk hoe goed is die opbrengste daar.

Maar dis opbrengste uit die verlede. Om jou reis na welvaartskepping met jou oë op die truspieël gefokus aan te pak, is mos gatoorkop, is dit nie?

Neem my inleidende “beleggingsraad” met ’n kruiwa sout.

Dis nie hoe dinge werk nie.

Die groeisyfers wat ek hierbo aanhaal, is wel korrek. Maar dis steeds die groeisyfers van verlede jaar. Die jaar wat was. Nie die jaar wat kom nie.

Jy doen nie beleggingsbeplanning oor opbrengste uit die verlede nie. Dis truspieël-beleggings. Jou kans op ’n beleggingsongeluk is net so groot as wanneer jy jou motor só bestuur. Dis amper seker.

Die verdere belangrike punt is dat jy en jou omstandighede uniek is. Nie almal se behoeftes is dieselfde nie. Nie almal se geldelike risiko’s is dieselfde nie. My beleggingsplan gaan nie noodwendig nommerpas wees vir jou én jou buurman nie.

Finansiële raad om die braaivleisvuur

Dit verstom my hoeveel gewig sommige mense bereid is om te heg aan wat ek noem braaivleisvuur- finansiële raad, of “raad” van die buurman of die kollega by die werk.

Dis skynbaar vir sommige mense van meer waarde as die raad van gerekende en ervare finansiële raadgewers. Ek sien dit. Kollegas in die bedryf sien dit.

Dis dié braaivleisvuur-raad wat sommige beleggers hul eie “navorsing” laat doen om bevestiging te kry vir wat hulle wíl weet. Nie wat hulle móét weet nie.

Wat hoor ek?

“Ek gaan (die een of ander) indeks volg. Kyk hoeveel beter presteer hy as wat my belegging die afgelope jaar gevaar het”

“Ek wil al my geld in dollar belê. Kyk hoe vrot is die rand. Suid-Afrika is in sy peetjie.”

Of: “Ek het besluit om in kommoditeite te belê. Dis die beste beleggingsklas, want mense het altyd die kommoditeite nodig.”

Die werklikheid

Die waarheid is dat geen beleggingsklas altyd die beste vaar nie. Ons sou vir seker al ons geld daarin belê het, sou ons nie?

Die waarheid is ook dat geen ekonomie altyd die beste vaar nie.

Dinge is maar op en af in die beleggingswêreld. Die sleutel tot goeie opbrengste oor tyd lê daarin dat jy nie alles in een beleggingsklas, alles in een indeksfonds of alles in een ekonomie wil belê nie.

Gierigheid en emosie is die dryfkrag agter sulke dom besluite. Nie verstand en logika nie.

Ek wonder hoeveel beleggers het die afgelope jaar seergekry, of is aan die begin van ’n lang seerkryproses, omdat hulle nie hul geld behoorlik versprei het nie. Of omdat hulle nie ’n behoorlike risiko-ontleding gedoen het nie.

Kom ons kyk.

Amerika en die dollar was vir ’n baie lang tyd die geur van die maand. Lank genoeg dat beleggers gedink het dit gaan vir ewig só aangaan.

Maar diegene wat byvoorbeeld hul geld so ’n jaar of twee gelede uit Suid-Afrikaanse aandele onttrek het, het die goeie groei die afgelope jaar misgeloop.

Laat ek byvoeg: Die 22,6% groei is in die alle-aandele-indeks. In daardie poel is aandele wat nie so goed gevaar het nie en aandele wat baie beter as 22,6% gegroei het.

Die Trump-chaos

Ons het almal verwag dat die wêreld in ’n chaos gedompel sou word met Donald Trump as president van Amerika. Maar nie die skaal en spoed waarmee hy dit regkry nie.

Benewens sy boelietaktiek en die kommerwekkende hand-om-die-blaas-verhouding met pres. Wladimir Poetin van Rusland, is sy tariewe op invoer besig om die wêreld heel deurmekaar te krap.

Justin Trudeau, premier van Kanada, het reeds in reaksie sy land se eie tariewe aangekondig. Tik jy aan my, dan pik ek jou.

Hoe raak dit ons beleggings?

Ons sien reeds verkope in die mark vir kommoditeite is aan die toeneem. Grootskaalse verkope beteken ’n daling in waarde, en jou beleggingsgeld word minder.

’n Swakker arbeidsmark (weens die hoë tariewe) beïnvloed groei in inkomste, verbruikersvertroue en besteding.

Alles in ’n neutedop?

Dit hou niks goeds in vir ons gewone siele wat probeer om vir onsself welvaart te skep nie.

Moet jy alles nou onttrek en in Suid-Afrikaanse aandele belê? Nee, natuurlik nie. Lees wat ek hier bo skryf.

Kry kundige finansiële raad. Versprei jou bates om jou risiko te beperk en groei te bewerkstellig.

Albei is belangrik.

Fokus dan op die lang termyn en bly kalm.

As julle vleis braai, bespreek die tjop en die dop. Nie jou beleggings nie.

Scroll to Top