Jy dink dalk jou verloofring is ’n belofte vir die toekoms, maar jou testament dra die finale sê – en as jy dit nie op datum hou nie, kan die verlede se vergete bepalings jou geliefdes uitwis. Hierdie skokkende verhaal wys hoe ’n enkele dokument die verskil kan maak tussen sekuriteit en wettige stryd ná jou dood.
Jou testament praat harder as verloofring
Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake • 02 Maart 2025
’n Verloofde het min beweegruimte wanneer ’n aanstaande se testament nooit verander is nie en die verlede aan die deur kom klop om erfgeld op te eis, skryf Nico van Gijsen.
Sy lyk was nog nie eens van die ongelukstoneel verwyder nie, toe is die familie en ander naasbestaandes al aan die stry oor wie het ’n reg op wat.
En sommige is sommer dadelik reg om te kom vat.
Ons wat in die finansiële en fidusiêre bedryf werksaam is, sien dit gereeld. Familie, naasbestaandes en erfgename wat nie kan wag om hul hande op die oorledene se goed te kry nie. Baie keer baklei hulle so onder mekaar dat familie- en vriendskapsbande, wat oor jare heen gesmee is, vir altyd daarmee heen is.
Lesers wat al die National Geographic-fliekmakers Dereck en Beverly Joubert se uitstekende natuurprogramme op TV gekyk het, sal weet hoe ’n pak hiënas te kere gaan by ’n karkas. Net so.
En ek is regtig jammer om te moet waarsku: Moenie sommer aanvaar jou familie gaan anders optree nie. Die hartseer oor jou dood is een ding. Die gierigheid oor jou goed ’n totaal ander.
Dit is vir jou om te sorg dat dit nie gebeur nie – en as daar onenigheid sou ontstaan, dat daar sekerheid is vir diegene aan wie jy sekerheid wou bied.
Begin deur iets in jou kop reg te kry.
Jy gaan nie “dalk eendag iets oorkom nie”. Jy gaan dood. Vir seker.
Sê dit. Ek gaan dood. En dan is daar niks meer wat ek aan enigiets kan doen nie.
Dié wat agterbly, gaan geraak word deur jou goeie finansiële beplanning. Of die gebrek daaraan.
Dit is dié dag dat net jou testament gaan praat (as jy een het). Jy sal weg wees, hopelik in ’n saliger omgewing sonder beurtkrag en belasting.
My inleidende paragraaf is nie spreekwoordelik nie, dit is feitelik. Die man is al sowat twee dekades gelede geskei. Hy het betreklik onlangs nuwe liefde gevind. Hulle het saam ingetrek, verloof geraak en sou binnekort trou.
Maar hy het nie, sover ons weet, sy testament gewysig nadat hy geskei is nie. En alles daarin is bemaak aan sy eksvrou.
Wat sê die wet?
Art. 2B van die Wet op Testamente (7 van 1953) bepaal dat waar ’n persoon te sterwe kom binne drie maande nadat hy geskei is en daardie persoon het voor die egskeiding ’n testament opgestel, sal die testament uitgevoer word asof sy gade voor hom dood is. Tensy dit duidelik uit die testament blyk dat die testateur bedoel het om sy voormalige gade te bevoordeel, ondanks die egskeiding.
In Afrikaans beteken dit bloot die volgende:
- As jy sterf binne drie maande nadat jy geskei is (en nie ’n nuwe testament opgestel het nie en jou eks is aangewys as erfgenaam), sal jou eksvrou nie kan erf nie. Dit is dan asof sy voor jou gesterf het. Haar erfgename sal (per stirpes) in haar plek van jou erf.
- Maar ná die drie maande, as jy nie ’n nuwe testament opgestel het nie, word geag dat jy bedoel het om haar te laat erf.
In die geval onder bespreking is die eksvrou geregtig op haar erfenis ingevolge die testament, synde dit voor die egskeiding opgestel is en die drie maande tydperk sedert die egskeiding lank reeds verloop het.
Sy nuwe verloofde het nie ’n voet om op te staan nie. Nie wat enige reg om te erf betref nie.
Het sy dan geen regte nie? Hulle het tog beoog om te trou.
Die oplossing?
Alles is darem nie verlore nie. Hier is ’n paar voorstelle.
Nuwe testament
Doen navraag by sy bank of hulle nie dalk vir hom intussen ’n nuwe testament opgestel het nie. Banke is daarvoor lief om saam met jou nuwe bankrekening sommer ’n testament ook te wil opstel.
Of by makelaars, prokureurs of rekenmeesters met wie hy ’n verhouding of kontak gehad het. Dalk lê daar êrens ’n nuwe testament.
Skenkings
Enige skenkings wat die oorledene in lewe aan sy lewensmaat gedoen het, is blywend. Dit kan nie deur die eks of enigiemand anders gevat word nie.
Kyk na dié wet
Die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (27 van 1990) is van toepassing op alle huwelike wat bevestig is ná 1 Julie 1990 en deur die dood beëindig word.
Danksy die 2021-Bwanya-uitspraak in die hooggeregshof in Kaapstad en die latere bekragtiging deur die konstitusionele hof dat die eng definisie van ’n gade in die Wet op Intestate Erfopvolging (81 van 1987) ongrondwetlik is, kan ons nou met vrymoedigheid aanvaar dat dit ook deurgevoer sal word na die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades.
Konsepwetgewing is reeds ingedien. Ons almal wag in spanning dat die parlement sy alie in rat moet kry daarmee.
Maar intussen kan ons op grond van die konstitusionele hof se bevinding aanvaar dat die wet ook van toepassing is op mense wat in ’n langtermynverhouding is wat bedoel is om permanent te wees en ’n verpligting op wedersydse onderhoud aangegaan het. En dus nie noodwendig getroud hoef te wees nie.
Dit bepaal dat die langslewende gade (die wyer definisie) ’n eis kan instel teen die boedel van die oorledene vir redelike onderhoud totdat sy (of hy) sterf, of weer trou, in soverre sy (of hy) dit nie kan doen uit eie vermoë nie.
Die eis het dieselfde krag as die eis van ’n minderjarige kind. Moet dit nie ligtelik opneem nie.
Die eis word direk by die eksekuteur ingestel.
My voorstel is dat jy dit doen deur ’n prokureur as jy nie rondgemors wil word nie. En kry ’n aktuaris om die kwantum van die eis te bereken.
Nog Raad
Erfgoed en pensioengeld
In die hoofrubriek het ek redelik breedweg die situasie beskryf rakende ’n testamentêre bemaking aan iemand uit ’n vorige huwelik en waar die testament nooit gewysig is om vir ’n nuwe lewensmaat of gade te sorg nie.
Hier wil ek kortliks verwys na pensioengeld van die oorledene spesifiek.
Enige pensioen, of uittree-annuïteit (UA), val nie in jou boedel by dood nie.
Dit val dus nie in vir boedelbelasting nie. Dit word ook nie in berekening gebring vir die eksekuteurstarief nie.
Jy kan dit ook nie in jou testament bemaak nie, juis omdat dit nie deel uitmaak van jou boedel nie.
Wat nou van die probleem, soos ek in die hoofrubriek bespreek het, as die oorlede sy eksvrou as die begunstigde op sy pensioen benoem het en dit ook nooit verander het nie?
Die goeie nuus vir die nuwe vrou (verloofde in dié geval) is dat enige benoeming as begunstigde van ’n pensioenfonds (wat ’n UA insluit) ondergeskik is aan ’n besluit deur die trustees van die fonds.
Art. 37C van die Pensioenfondswet (24 van 1956) bepaal dat die trustees van die fonds eers moet seker maak oor afhanklikes voordat pensioengeld uitbetaal kan word.
En ’n nuwe verloofde wat reeds saam ingetrek het en waar wedersyds vir mekaar gesorg is, sal meer afhanklik wees as iemand van wie jy twee dekades (in ons geval onder bespreking) geskei is en jy nie vir haar onderhoud verantwoordelik was nie.



