Die soetste liefde kan suur word as geld ‘n rol begin speel, veral vir enkelouers. Leer hoe om jou hart te volg sonder om jou finansiële sekuriteit en jou kinders se toekoms in die gedrang te bring.
Soek daai liefde, ou girl. Maar pas jou geld op
Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake • 16 Maart 2025
Drukkies, soentjies en nog wat bring ’n lied in die hart. Maar dit is geld wat daaraan die wysie gee, skryf Nico van Gijsen.
“Om te date as enkelma is nie maklik nie, maar sy soek weer liefde.”
Só lees ek in My Hart se Punt met Ernusta (Rapport, 4 Maart) die storie van Tharine Pienaar (31) van Kaapstad.
Nie my gekose onderwerp op ’n Sondag of enige ander dag van die week nie. Ek is nie ’n romantikus nie. Of in die mark vir “nuwe liefde” nie. Maar dit het my oog getref.
My reaksie?
Soek jou liefde, ou girl. Maar pas jou geld op.
Dit is toevallig in hierdie trant dat ek ’n vraag van ’n oupa gekry het. Help my om seker te maak dat, as sy weer trou, daar vir my kleinkinders voorsien word, is sy versoek.
Daar is baie sulke oupas. En oumas. Hierdie geval is nie ’n uitsondering nie.
Die man sterf en die vrou bly agter met die kinders. Die een of ander tyd gaan sy wil aangaan met haar lewe en “soek sy weer liefde”.
Dit is mooi en dit is reg.
Wat volg, is nie altyd so rooskleurig nie. En dit raak die kinders.
Nuwe liefde, nuwe probleme
Jong mense vry entoesiasties, ouer mense vir die toekoms.
En as die vryery ’n sekere punt verbysteek, trek hulle by mekaar in, of trou. Dit is dan dat ek met my geld-oog die spulletjie van die ander kant bekyk. En dinge raaksien.
Die oomblik dat die man – in baie gevalle, maar nie altyd nie – sy intrek geneem het, wil hy baas wees. Dink aan die Ou-Testamentiese vereiste van onderdanigheid aan die man.
’n Voormalige kliënt was ná haar man se dood geldelik goed versorg. Haar geldelike risiko’s is na gekyk en haar beleggings het heel skaflik gevaar. Haar aftrede sou seepglad verloop het.
Toe trou sy weer. En binne drie maande word al die versekering gekanselleer, want “jy het dit nie nodig nie, ek sorg vir jou”.
En volgende wou hy aan my instruksies gee oor hoe om met haar belegging te werk.
Van kleins af was ek maar ’n kalant wat nie gemaklik is met boelies nie en dit was die einde van ons verhouding.
My jongste brokkie nuus uit daardie oord is dat sy kort-kort geld moet leen om aan die lewe te probeer bly.
Dit is net een voorbeeld. Daar is baie meer mense vir wie dit die werklikheid is.
Praat oor geld
Drukkies, soentjies en nog wat bring ’n lied in die hart. Maar dit is geld wat daaraan die wysie gee.
My wenk aan diegene wat nuwe liefde soek of dalk reeds nuwe liefde gevind het, is om daaraan te werk. ’n Goeie verhouding verg werk en aandag. Maar hou jou geldsake uit die slaapkamer uit.
Nuwe liefde is nie beperk tot liefkosings en sulke dinge nie. Saam intrek skep ’n wedersydse verpligting van onderhoud en versorging.
En die kinders?
Hulle moet nou deel.
Is daar genoeg om te deel? Is daar genoeg, sou die nuwe geliefde oor ’n paar maande of ’n jaar nuwe horisonne beloer? Of lepel in die dak steek?
Daar is geldelike eise wat dan gestel kan word. Eise teen jou persoonlike bates omdat julle ’n wedersydse plig op onderhoud en versorging onderneem het. Dieselfde persoonlike bates waaruit jou kinders versorg sou word.
Ek kan nie ’n plan voorstel wat almal gaan pas nie, want elkeen se omstandighede verskil. ’n Kundige finansiële beplanner kan vir jou baie beteken.
Maar julle gaan moet praat oor geld. En julle gaan moet ooreenkom oor geld.
Dit is jy wat nuwe liefde vind. Dit is jy wat ’n nuwe lewe begin. En dit is jy wat daarvoor verantwoordelik is dat jou kinders nie onnodig ’n prys vir jou nuwe liefde betaal nie.
Maak gebruik van polisse om jou geld in te belê wat aan ’n trust begunstig is, sou jy sterf, veral voordat hulle volwasse is. Die dood wag nie op jou om te besluit nie.
’n Trust kan ’n baie goeie instrument wees om bates, soos eiendom, in te hou. Wat dan beskerm is teen eise teen jou persoon.
En moenie jou testament vergeet nie.
En oupa?
Moenie inmeng nie. Jy het nie die sêkrag wat jy dalk voorheen gehad het nie. Teen kussingpolitiek gaan jy nie staande bly nie – en as jy wil sterk staan, kan jy dalk nog jou kleinkinders ook verloor.
Gee raad. Maar doen dit beleefd en nie vanuit die hoogte nie. Onthou net, die besluit is nie joune nie.
Kyk na jou testament. Bemakings aan kleinkinders (minderjariges) moet liefs aan ’n trust gedoen word. Met onafhanklike trustees.
Jy kan die wêreld se vertroue in die kinders se ma hê, maar hoe sterk gaan sy staan as die wolf aan die ander kant van die kinders se deur klop?
Onthou, sy het daardie nuwe verhouding ook om te bestuur.
As dit jou wens is om vir die kinders te voorsien vir geleerdheid eendag, maak gebruik van ’n polis spesifiek vir daardie doel. Dit sal dan op ’n sekere datum uitbetaal.
Jy het ook die sekerheid dat die geld in niemand anders se sakke kan beland nie, want die versekeraar is onder kontrak om die geld te betaal aan die begunstigde wat jy aanwys.
Iets anders om te oorweeg, is om die premies op so ’n polis aan jou lewe te koppel sodat, sou jy sterf, die versekeraar die premies sal volhou totdat die polis uitkeer.



