Vermy die bogstories oor jou aftreegeld

Is jy al vertel jou pensioengeld verdwyn as jy sterf? Nico van Gijsen wys hoekom dit ’n bogstorie is – en hoe verkeerde raad jou aftrede kan knou.


Vermy die bogstories oor jou aftreegeld

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  11 Januarie 2026

Maak oop jou oë wanneer dit by aftrede kom en vermy al die bogstories oor jou pensioen, skryf Nico van Gijsen.

Ek is omtrent oorval met navrae van lesers, e-posse en selfs telefoonoproepe, ná my rubriek laat verlede jaar: Sekere makelaars lek hul lip pe af vir jou pensioen.

Die meeste van hulle is lede van die staatsdienspensioenfonds, die GEPF. En die meeste van hulle had dieselfde storie waarteen ek gewaarsku het in my vorige rubriek: Makelaars wat aanbeveel dat hulle bedank en hul pensioengeld laat uitbetaal, anders is jou kapitaal weg wanneer jy sterf.

Daarom het ek besluit om vandag ’n bietjie skerper te fokus op die GEPF. Dit geld eweneens ander vastevoordeel-tipe pensioenfondse.

Net eers die kernboodskap: Kry dit tog net uit jou kop dat “jy jou kapitaal verloor wanneer jy sterf”.

Jy verloor jou lewe. Jy is dood. Jy verloor alles wat jy het. Jy kan niks saamvat nie. Wat jy nié verloor nie, is jou kapitaal as pensioentrekker en lid van die GEPF.

Die rede is baie eenvoudig, jy hét geen kapitaal nie. Jy is lid van die fonds met vaste, gewaarborgde pensioenvoordele lewenslank. Daar is nie kapitaal ter sprake wat jy kan verloor nie, dit bestaan net in die koppe van onetiese makelaars wat geld uit jou wil maak.

Daar is twee soorte pensioenfondse – vastebydraefondse en vastevoordeelfondse.

Vastebydraefondse

In ’n vastebydraefonds dra jy tot die fonds by totdat jy aftree. By aftrede moet jy dan die geld in die fonds gebruik om vir jou ’n private pensioen aan te koop.

Die volle naam van hierdie aangekoopte pensioenfonds is beleggingsgekoppelde lewende annuïteit (daar is natuurlik ook die opsie van ’n gewaarborgde lewensannuïteit, maar ek gaan nie vandag daarop in nie).

Die sleutelwoord hier is “beleggingsgekoppelde”. Dit beteken jy neem self verantwoordelikheid vir die groei, of nie, in jou kapitaal. In ’n bulmark kan jy goeie groei kry. In ’n beermark kan jou kapitaal verweer.

Maar jy moet steeds geld onttrek, jou pensioen, om van te leef. Jy kan dus, in ’n beermark, ondervind dat jy meer onttrek as wat jy aan groei kry.

En dan is daar natuurlik sommige mense wat in elk geval meer trek as die groei wat hulle kry. Bloot omdat hulle nie nodige geldelike dissipline het nie. Nog lank voor hul dood verval hulle al in armoede.

Vastevoordeelfondse

’n Vastevoordeelfonds, soos die GEPF, werk heel anders. Jy maak bydraes tot die fonds terwyl jy werk en by aftrede bied die fonds jou ’n gewaarborgde pensioen vir lewenslank.

Daar is nie kapitaal nie. Daar is ’n lewenslange pensioen. Gewaarborg.

Jy hoef jou nie te bekommer oor markskommelinge en kapitaal wat verminder as gevolg daarvan, of as gevolg van onttrekkings wat nie tred hou met die beleggingsgroei nie.

Sou jy voortydig uit die GEPF bedank – dus nie aftree nie – word ’n bedrag aan jou uitbetaal. Dit is die aktuariële waarde op daardie tydstip.

Jou pensioen, daarenteen, sou jy uit die fonds aftree, word bepaal deur jou laaste twee jaar se salaris. Jy gooi dus geld weg deur vroeg te loop.

Sou jy bedank en die geld onttrek, is kwaai belasting jou voorland. En om een leser se spesifieke vraag te beantwoord: Die R550 000 wat by aftrede teen ’n nul-koers belas word, geld nie wanneer jy bedank en jou geld onttrek nie.

Dit sal net geld as jy dit eers oordra na ’n uittree-annuïteit, of bewaringsfonds en dan uit dáárdie fonds aftree.

Die meer voordelige aftree-belastingskaal is van toepassing op die gratifikasie (kontantbedrag) wat jy kry by aftrede uit die GEPF.

En in die GEPF kry jy boonop ’n medieseskema-toelae. Andersins sou jy dit self moes aankoop.

By dood

Soos ek hierbo noem, is daar nie kapitaal wat wegraak by dood nie. Jy het deur die jare heen gespaar vir ’n pensioen.

As jy ’n kar koop, is jou geld weg. As jy énigiets koop, is jou geld weg. In die geval van die GEPF is jy lewenslank gewaarborg van ’n pensioen. Met gewaarborgde groei.

By dood is jou gade ook verseker van ’n lewenslange pensioen. Die standaard is 50% van jou pensioen.

Maar jy kan by aftrede kies om vir hom of haar ’n pensioen van 75% van jou pensioen te verseker. Met jaarlikse verhogings.

Natuurlik kom dit nie gratis nie. Die ekstra pensioen vir die oorlewende gade moet gefinansier word deur óf jou eie pensioen óf jou gratifikasie.

My aanbeveling is gewoonlik om dit uit jou gratifikasie te finansier. Om twee redes.

Jy kry dan die maksimum pensioen vir jouself, jy staan nie ’n deel af om jou oorlewende gade se bykomende pensioen te finansier nie.

En jy bespaar op belasting. Die gratifikasie word belas soos enige kontantonttrekking by aftrede en as daar minder is om te belas – omdat jy jou gade se pensioeninkomste wil verhoog – gee jy minder vir Jan Taks.

Politiek

Sommige makelaars bring politiek in. Verregse politiek. “Hulle” gaan jou geld steel.

Dit is snert.

Wat ek geleer het, is dat ons regse vriende so blind soos molle is vir die werklikheid van die lewe. Hulle glo wat hulle vertel word, nie wat hulle sien nie.

Moenie dat hierdie tipe politiek jou aftrede knou nie. Maak oop jou oë.

Soos ek einde verlede jaar hier geskryf het, aftrede is vir lewenslank.

Scroll to Top