Hoekom is jy banger vir boedelbelasting as vir doodgaan?

Is jy banger vir boedelbelasting as vir die waarheid daaroor? Nico van Gijsen ontbloot die mites wat mense duur te staan kom.


Hoekom is jy banger vir boedelbelasting as vir doodgaan?

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  25 Januarie 2026

As jy val vir onkundige raad oor boedelbelasting, kan jy jouself in ’n lelike strik bevind, skryf Nico van Gijsen.

Ek dink regtig sommige mense is banger vir boedelbelasting as vir doodgaan.

Die plannetjies wat ek hoor gemaak word om boedelbelasting te probeer vermy, laat my soms die laaste paar hare uit my kop wil trek. En die mense is ernstig.

Ernstige onkunde, selfs van diegene wat voorgee om te weet. Met ernstige geldelike gevolge vir die arme siele wat dalk liewers daarop moes fokus om gesonder en langer te leef as om dood-belastingspeletjies te probeer speel.

Hier is ’n vraag van ’n leser.

Is dit beter (volgens die “finansiële raad” wat hy ontvang het) om ’n bestaande polis (spaarpolis) nou deels te laat uitbetaal en dan met die geld ’n lewende annuïteit te koop?

Die rede? Die polis is onderhewig aan boedelbelasting. ’n Lewende annuïteit is nie.

Die polis

’n Polis op iemand se lewe is ’n geagte bate in dié persoon se boedel wanneer hy sterf. Al betaal dit uit aan ’n begunstigde.

Dit is dus onderhewig aan boedelbelasting.

Maar om sommer nou 20% (die boedelbelastingkoers vir boedels onder R30 miljoen) van die poliswaarde te wil gaan aftrek vir boedelbelasting, is net om mense bang te maak vir boedelbelasting. Dit werk eenvoudig nie só nie.

Die polis sal opgeneem word in die oorledene se boedel, maar boedelbelasting word net gehef op die belasbare boedel. En dit is ná alle aftrekkings, soos skuld, belastings en bemakings aan ’n oorlewende gade. En ná aftrekking van die art. 4A-korting (R3 500 000) soos toegelaat in die Boedelbelastingwet (45 van 1955).

En dan betaal die begunstigde van die polis ook net die pro rata-deel van die boedelbelasting (sou daar wees) wat deur die polis geskep is.

Die lewende annuïteit

Hier is die belangrikste punt.

Jy kan nie ’n lewende annuïteit koop met diskresionêre geld nie. Om dus die polis te wil laat uitbetaal en ’n lewende annuïteit met die geld te koop, kan nie gedoen word nie.

Jy kan ’n lewende annuïteit net koop met verpligte geld – geld afkomstig uit ’n aftreefonds, soos ’n pensioenfonds of uittreeannuïteit.

Om hierdie plan te laat werk, sou die persoon dus eers die polis moes laat uitbetaal met kapitaalwinsbelastinggevolge in die polishouersfonds en dan met die geld ’n uittreeannuïteit moes koop en dan uittree uit die uittreeannuïteit om ’n lewende annuïteit te kan koop.

Simpel en duur. Om wat te bereik?

Om geld waartoe jy toegang het, te gaan vasmaak in ’n belegging waar jy nie toegang tot jou geld het nie, anders as om ’n maandelikse inkomste (pensioen) te onttrek?

Belastings by dood

As jy nou al hierdie dinge gaan doen het waarna ek pas verwys het en jy het ’n lewende annuïteit gekoop (en waarskynlik het jy twee keer kommissie betaal, want dis twee produkte wat jy moet aankoop) om boedelbelasting te systap, kom ons kyk na die verdere belastingprentjie.

Ek het hier bo genoem van ernstige “geldelike gevolge”.

Met ’n lewende annuïteit

Goed, die lewende annuïteit is buite jou boedel vir boedelbelasting. En jy het iemand begunstig. Maar wat nou?

Die begunstigde het nou twee opsies.

Hy kan eerstens ’n maandelikse inkomste uit die lewende annuïteit onttrek. Dit moet tussen 2,5% en 17,5% per jaar wees. Onttrek hy meer geld as wat hy aan beleggingsgroei kry, gaan die kapitaal verweer en word sy inkomste al hoe kleiner.

Boonop is hierdie inkomste belasbaar teen sy marginale koers; ons neem aan hy het ook ander inkomste, byvoorbeeld ’n salaris. Die belastingkoers kan tot 45% wees.

Tweedens, die begunstigde kan die polis in geld omskep. Dis belasbaar tot ’n koers van 36%, na gelang van die bedrag.

En dit om ’n pro rata-deel van die boedelbelasting van 20% (as daar is) te probeer systap?

Dom verby.

Met die polis

By die dood van die polishouer word die begunstigde die nuwe eienaar van die polis. Dit hoef nie eers in geld omgeskep te word (met, soos genoem, kapitaalwinsbelastinggevolge) nie.

Hy hoef net sy deel van die boedelbelasting te betaal (as daar is).

Wat kan hy doen?

Eerstens, hy kan die polis net so los vir verdere kapitaalgroei vir ’n latere neseier, byvoorbeeld om mettertyd sy eie aftrede te help finansier.

Hy is vrygestel van belastings, want belasting in ’n polis word gehef in die polishouersfonds en nie in die hande van die polishouer nie. Hy hoef niks aan Jan Taks te verklaar nie.

En die belasting is ook baie gunstig. Dis 30% op inkomste, teenoor tot 45% vir ’n individu. En net 12% kapitaalwinsbelasting teenoor tot 18% vir ’n individu.

Tweedens, sou hy ’n behoefte hê aan inkomste, kan hy inkomste uit die polis onttrek. En dis belastingvry.

Ja, belastingvry.

Dis omdat belasting in die polishouersfonds gehef word en nie in die hande van die polishouer nie.

Ter afsluiting net ’n opmerking.

Ons praat hier om van ’n polis wat reeds waarde het in ’n lewende annuïteit te wil omskep. Dis nie ’n vergelyking tussen ’n polis en ’n lewende annuïteit nie. Elkeen het sy eie kenmerke, voordele en belastinggevolge.

En dan, jy kan jouself in ’n lelike strik vasloop as jy probeer om sonder die nodige kundigheid gespesialiseerde produkte en hoogs tegniese belastings teenoor mekaar te probeer afspeel.

Min mense het werklik al die kundigheid om reg daaraan te laat geskied. Kry hulp.

Scroll to Top