Vroeë aftrede uit die staatsdiens klink aanloklik, maar dit kan jou duur te staan kom. Lees hoekom jou gratifikasie en belasting ’n tweede kyk verdien voordat jy besluit.
Dink mooi voordat jy vroeg aftree uit staatsdiens
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 01 Februarie 2026
As jy ’n inkomstebelastingprobleem het, is jy bevoorreg, skryf Nico van Gijsen.
’n Leser het dié week ’n navraag oor die hantering van die pensioengratifikasie
betaalbaar by aftrede vir lede van die Staatsdienspensioenfonds (GEPF).
Vroeë aftrede
Die normale aftreeouderdom vir lede van die GEPF is 60 jaar. Die fonds maak egter
voorsiening vir vroeë aftrede. Die reëls bepaal kortliks die volgende:
Die voordele betaalbaar by aftrede word bepaal deur die getal jare diens. Diegene met
minder as 10 jaar diens kry net ’n gratifikasie (kontantbedrag), bereken volgens hul
aktuariële belang in die fonds.
Uiteraard moet hierdie geld oordeelkundig belê word. Dit kan na ’n bewaringsfonds of ’n
uittreeannuïteit (UA) oorgedra word met geen belastinggevolge nie. Die persoon kan dan met die geld in die bewaringsfonds of UA ’n private pensioen aankoop. Dít is die slim roete.
Lede met meer as 10 jaar diens ontvang ’n vaste maandelikse pensioen bereken volgens jare diens en salaris oor die laaste twee jaar van diens. Hiermee saam is daar ook ’n kontantbedrag, of gratifikasie, wat uitbetaal.
By vroeë aftrede (voor 60 jaar oud) is daar ’n vermindering in die pensioen en
gratifikasie, wat bereken word teen 0,33% vir elke maand tussen normale
aftreeouderdom en die vervroegde datum.
Dink dus maar mooi voordat jy entoesiasties raak oor vroeë aftrede.
Ek bepaal my nou verder by die gratifikasie by normale aftrede vir diegene met meer as
10 jaar diens.
Belasting op die gratifikasie
Hier moet ons eers onderskei tussen die gratifikasie vir mense met diensjare voor 1998
en diegene wat daarna eers lid van die GEPF geword het.
Die jare diens voor 1998 moet in ag geneem word vir die berekening van belasting,
aangesien daardie jare vrygestel is van belasting. Jy betaal dus net belasting op die
gratifikasie vir die diensjare ná 1998.
Die belastingskaal waarteen die gratifikasie belas word, is presies dieselfde as vir enige
kontantbedrag by aftrede uit ’n pensioenfonds of UA. GEPF-lede kry dus ook die
voordeel van die eerste R550 000 wat teen ’n nulkoers belas word. Die res van die geld
word belas op ’n glyskaal van 18%, 27% en 36%, na gelang van die bedrag.
Die verskil teenoor lede van privaat pensioenfondse of UA’s is dat die volle gratifikasie
(uitgesluit, soos genoem vir die jare voor 1998), volgens die skaal genoem belas word. GEPF-lede het nie die geleentheid om byvoorbeeld net die R550 000 te neem en die res belastingvry oor te dra na ’n bewaringsfonds of UA nie.
En dit, glo ek, is omdat die gratifikasie nie deel vorm van die pensioengewende deel van
die fondsvoordele nie. Dit is ’n bykomende voordeel.
Wat om nié te doen nie
Goed, jy het afgetree en jy sit met ’n lekker vet neseier. Hoe nou?
Hier is die moenies (as ek mag voorskryf):
Moenie die geld vir jou kinders gee of leen nie. Moenie jou seun se sukkelende saak
probeer red nie (ek het hieroor al te veel pynlike stories van lesers gehoor).
Moenie nou sommer ’n duur kar gaan koop nie. Moenie goedsmoeds op ’n duur oorsese vakansie gaan geld mors nie.
Die harde werklikheid is dat baie mense by aftrede skielik gekonfronteer word met meer
geld as wat hulle in hul lewe tot hul beskikking gehad net. En dan dink hulle hulle is ryk.
Jy is nie skielik ryk nie. Jy het bloot al die geld bymekaar wat jy vir die res van jou lewe
nodig gaan hê om van te lewe. Noem dit ’n neseier. Respekteer dit.
Wat kan of behoort jy te doen?
Kan jy die geld, soos die leser vra, in ’n uittreeannuïteit belê en dan jaarliks die
maksimum toelaatbare aftrekking vir inkomste doen? Neem kennis, dit is nie noodwendig R350 000 per jaar nie. Die toelaatbare aftrekking is 27,5% per jaar van inkomste, tot ’n maksimum van R350 000.
En die geld verder belastingvry laat groei? En dan later uittree, ’n lewende annuïteit
aankoop en dan inkomstebelasting betaal op die pensioen wat jy onttrek?
En voordeel trek uit die feit dat die lewende annuïteit buite jou boedel val vir
boedelbelasting?
Dis die vrae. En die antwoord is: Ja, jy kan.
Ek wil vra: Hoekom?
Hoekom wil jy nabelaste diskresionêre geld gaan vasmaak in ’n verpligte belasbare
belegging? Die belasting op groei in ’n lewende annuïteit is wel vry van belasting, maar
jou geld is vas. Jy kan nie geld onttrek soos jy dit benodig nie, jy is beperk tot die 2,5%
en 17,5% per jaar. En dít is wel belasbaar.
Ons kan belastingsommetjies maak tot volgende Sondag toe. Maar ons moet oppas om
toe te laat dat die belastingstert die beleggingshond swaai.
Daarom: Belê daardie kontantbedrag. Wyslik. As jy werklik so bevoorreg is om ’n
inkomstebelastingprobleem te hê, is daar maniere om beleggings te struktureer wat jou
belastings kan beperk.
Die voordeel van ’n diskresionêre belegging is dat jy enige tyd toegang tot jou geld het.
En dit wat jy, anders as uit ’n lewende annuïteit, onttrek, is belastingvry.
Verdere redes?
Min mense maak genoeg voorsiening vir gevreesde siektes. Dit kan op jou pad lê. Met ’n goeie belegging het jy die geld.
As jou geld mooi groei, kan jy daarvan neem en oorsee gaan vakansie hou. En dan wag
totdat die verdere groei die bedrag aangevul het, en dan kan jy weer gaan.
Jy moet slim werk met geld, nie belastingspeletjies probeer speel nie.



