Om vir jou ouers te sorg is edel, maar saambly sonder beplanning kan jou duur te staan kom. Goedhartigheid kan ’n finansiële en belasting-slagyster word.
Sorg vir jou ouers, maar wees versigtig vir saambly
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 18 Januarie 2026
Moenie dat jou goedhartigheid vir jou ’n finansiële slagyster stel nie. Dit geld ouers én volwasse kinders. En dit gebeur omdat mense nie behoorlik beplan het nie, skryf Nico van Gijsen.
Ons sorg vir mekaar. Byvoorbeeld kinders wat vir hul onvermoënde ouers sorg. Dit is reg en dit is mooi.
Waarvoor jy moet ligloop, is dat jou goedhartigheid nie vir jou ’n nansiële slagyster stel nie. Dit gebeur. En dit gebeur omdat mense nie behoorlik beplan het nie.
Neem dit ter harte. Wat jy doen, het ’n nansiële gevolg. En gewoonlik ook ’n belastinggevolg.
Ek bepaal my vandag by die versorging van bejaarde ouers, wat om die een of ander rede nie genoeg voorsiening gemaak het vir hul laat jare nie.
Daar is baie redes voor. Soos ’n gebrek aan gelddissipline. Of hulle het bloot nooit ’n groot genoeg inkomste verdien om te kon spaar nie. Dit is nie die onderwerp vandag nie.
Ek wil vandag kyk na die versorging van ouers, nie die oorsake daarvoor nie.
Hoe om dit nié te doen nie
In my eerste voorbeeld het die persoon vir sy skoonouers ’n huis gekoop. Dit is in die skoonpa se naam geregistreer, met die veronderstelling dat by sy (skoonpa se) sterfte die huis teruggaan na die skoonseun wat die huis vir hom gekoop het.
Maar skoonpa se testament lees toe nie só nie. Die huis en alles anders van skoonpa is aan sy eie seun bemaak.
Wat kan ons goedhartige skoonseun doen?
Eintlik niks nie.
Eerstens is die reg teen hom. Enige ooreenkoms aangegaan met iemand anders oor hoe om te bemaak, is wat ons noem ’n pactum successorium. En dit is onaanvaarbaar.
Die kort verduideliking hiervoor is dat so ’n ooreenkoms die testateur se reg beperk om sy goed te bemaak. En, sou daar ná sy dood ’n twis ontstaan oor die wyse waarop hy bemaak het, is die een party in die ooreenkoms reeds dood en kan hy nie kom verduidelik nie.
Vermy ooreenkomste met enigeen oor hoe om bates te bemaak. Dit is in elk geval nie bindend nie. Testeervryheid in ons land word baie hoog aangeskryf en so ’n ooreenkoms beperk daardie vryheid.
Maak ’n ander plan.
Maar daar is nog
Die huis val nou in skoonpa se boedel. Hy het dit aan sy seun bemaak.
Nou is daar ‘n bakleiery. Die skoonseun sal moet hof toe om te probeer bewys hy en sy skoonpa het ’n ooreenkoms gehad. Hóé gaan moeilik wees. Skoonpa is onbereikbaar.
Die regskoste, ongeag watter kant die beslissing val, kan die hele erfenis tot niet maak. Onthou, skoonpa is gehelp, juis omdat hy nie geld had nie.
Dan is daar ook nog die ontvanger van inkomste. As Jan Taks uitvind van dié goedhartige huiskopery, kan skoonseun ook nog opgeskroef word vir geskenkebelasting op die waarde van die huis wat hy nie verklaar het nie.
Die ander kant van dieselfde probleem
Daar is ook ouers wat by hul kinders gaan inwoon en self betaal vir byvoorbeeld die aanbou van ’n woonstel of kamer.
Of hul eie huis aan die kind oordra en dan ’n woonstel vir haarself (gewoonlik ’n ma, want vroue leef langer) laat aanbou.
En kort voor lank is ma in die pad. Byvoorbeeld, sy mag nie uit haar kamer kom as die kind se vriende kom kuier nie.
Of, soos ek onlangs weer gehoor het, die ma het ’n kamer laat aanbou om in te woon, maar nou eis die skoondogter dat ma moet verkas.
Dit kan onhoudbaar raak. Onthou, sy is die een kind se ma. Die ander kind is maar net gaaf. Vir solank dit hom of haar behaag.
En dan is daar die dood van die kind aan wie die huis oorgedra is, of aan wie se huis die woonstel aangebou is. Dit val in sy boedel. Dit vererf soos hy bemaak het, gewoonlik aan sy vrou. En die probleem is onmiddellik daar. Ma kan sonder huisvesting sit.
Moontlike oplossing
Ek kan nog baie skryf oor die probleme, maar ek meen die boodskap is: Deurdink alles en kry iemand wat kundig is met boedelbeplanning om jou raad te gee.
My eerste stukkie raad is om nie by ’n kind in te trek nie. En veral ook om nie jou geld in sy of haar huis te steek nie. Jy is onmiddellik blootgestel aan nansiële ellende en afhanklik van hulle.
Behou jou onafhanklikheid en behou jou waardigheid.
En vir die kinders wat graag hul ouers wil onderhou, doen dit verkieslik op ’n plek van hul eie, of selfs in ’n tehuis vir bejaardes.
Die Inkomstebelastingwet (58 van 1962) maak spesiek daarvoor voorsiening (in art. 56(2)(c)) dat bona de-bydraes tot die onderhoud van enige persoon vrygestel is van geskenkebelasting. Solank Jan Taks meen dit is billik, bygesê.
Wil jy wel bydra in die vorm van huisvesting in eiendom wat deur jou besit word, moet dit liewer nie aan die ouer oordra nie, weens die probleme wat ek hier uitgelig het.
Oorweeg dan liewer, as julle sekerheid soek vir die inwonende ouer, ’n beperkte reg daarop soos ’n habitatio – woonreg – of ’n usus – gebruiksreg.
Die gebruiksreg sal aan die houer die reg gee om saam met sy of haar familie daarin te woon, maar dit is al. Met die woonreg sal hy of sy ook die eiendom aan ’n derde party kan verhuur.



