’n Eksekuteur kan jou boedel glad laat verloop—of die bron van groot erfenisdrama wees. Vind uit hoekom jou keuse van eksekuteur krities is, en hoe verkeerde besluite ná jou dood duur kan kos.
Eksekuteur kan self die vlieg in erf-salf wees
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 30 November 2025
Hou die sentiment uit jou testament wanneer jy besluit oor jou eksekuteur, skryf Nico van Gijsen.
Ek wil vandag ietwat dieper kyk na die rol en funksie van eksekuteurs.
Ek het al by verskeie geleenthede in hierdie rubriek hieroor geskryf. Die getal navrae en klagtes (ondersteun deur die getal hofsake) sê vir my alles is nie pluis nie.
En dit begin by die aanwys van ’n eksekuteur in die testament. ’n Vertroueling, die plaaslike prokureur of boekhouer saam met wie weekliks gholf gespeel word, of ’n kind, word maklik as eksekuteur aangestel. Soms met onaangename gevolge vir naasbestaandes.
Laat ek dit duidelik stel: Jy het nie ’n vertroueling nodig om ná jou dood jou boedel te beredder nie. Dit is ’n regsproses wat streng volgens die Boedelwet (wet 66 van 1965) uitgevoer moet word. Dit het met jou verhouding rondom die vleisbraaivuur of op die gholfbaan niks te doen nie.
Laat ek dit ook maar sê: ’n Regs- of rekeningkundige graad maak nie outomaties van jou ’n knap eksekuteur nie. Veelsydigheid is ’n aanwins. Maar loop lig vir die man met 12 ambagte en 13 ongelukke.
Dit in die algemeen. Kom ons delf nou dieper.
Probleme met die eksekuteur
Daar is seker nie ’n week wat verbygaan dat ek nie navrae, eintlik klagtes, van lesers oor eksekuteurs in ’n familielid se boedel kry nie.
Te verwagte kom dit baiekeer van erfgename of mense wat glo hulle is erfgename. Die waarheid is ook dat ek nooit iemand ontmoet wat so agter geld aan is soos sommige erfgename nie. Die ou is nog skaars koud en begrawe of hulle begin navraag doen.
Ek praat nie van hulle nie. Hulle is altyd daar en sal altyd daar wees.
Ek praat van mense wat geen antwoord kry van ’n eksekuteur nie, selfs waar die boedel ’n jaar, twee jaar en langer neem om afgehandel te word. Hulle loop hulle vas teen algemene arrogansie.
En dan hoor ek van mense wat in ’n testament as eksekuteur genoem word en, nog voor die aanstellingsbrief van die meester, sommer al begin boedelbates uitdeel. Natuurlik gaan iemand kla. Hulle is geregtig daarop. Want dit is verkeerd.
Soms kry ons ook flagrant onetiese optrede van sommige mense wat as eksekuteur aangestel is. ’n Kollega vertel verlede week van ’n boekhouer wat ’n jare lange vriend van die oorledene was en sy boekhouding hanteer het wat, nadat hy as eksekuteur in die vriend se boedel aangestel is, skandalige bedrae in sy finale rekening vir die boekhouding geëis het.
Hy keur self die eise teen die boedel goed. ’n Vriend tot die dood toe. Maar net tot die dood toe.
Eksekuteur het ’n fidusiêre plig
Kom ons kry eers die sentimentele snert van “die eksekuteur staan in die oorledene se skoene” uit die weg. Dit is nie só nie.
Die eksekuteur tree nie op as ’n agent vir enigeen nie. Hy verteenwoordig nie die erfgename of die krediteure van ’n boedel nie. Hy het geen prinsipaal nie. Die eksekuteur tree op binne sy eie verantwoordelikheid, maar hy kan nie goedsmoeds bates verdeel soos hy wil nie.
Hier is die belangrikste punt: ’n Eksekuteur tree op in ’n fidusiêre hoedanigheid. Hy moet te alle tye in goeie trou optree, maar ook binne die reg. Sy optrede word gerig deur die testament en die reg.
Kan die eksekuteur boedelbates koop?
Die eksekuteur staan in ’n fidusiêre hoedanigheid teenoor die boedel. Dit is dus duidelik dat indien die eksekuteur, of mense na aan hom, bates uit die boedel wil koop, daar dadelik ’n konflik van belange opduik tussen sy persoonlike wens om die eiendom goedkoop te koop en sy plig teenoor die boedel.
Vroeër is dit gereël deur die gemene reg, maar intussen is dit in die Boedelwet opgeneem – art. 49(1) – wat dit baie duidelik stel: Indien die eksekuteur, of sy gade, ouer, kind, vennoot, werkgewer, werknemer of agent eiendom uit die boedel koop, onderhewig aan enige bepaling in die testament, sal dit as nietig beskou word.
Wat kan jy as testamentêre begunstigde doen?
In die geval waar die wanadministrasie van die boedel of die gebrek aan optrede deur die eksekuteur ’n verlies tot gevolg het, kan die begunstigdes teen hom optree. Maar hulle kan nie ’n eis teen hom instel voordat die likwidasie- en distribusierekening oopgestel is vir inspeksie nie.
Dit is eers dan dat die begunstigdes ’n reg het om dit wat hulle toekom, op te eis.
Indien die begunstigdes egter bewus raak van wanadministrasie of nalatigheid voordat die rekening oopgestel word vir inspeksie, kan hulle die meester van die hof of die hof self nader om die eksekuteur te verwyder.
Voorkom die probleme
Dit is kortliks ’n paar probleme, en optrede, indien daar probleme sou wees. Maar soos met baie probleme kan jy dit voorkom.
Hou die sentiment uit jou testament wanneer jy oor jou eksekuteur besluit. Jul goeie verhouding voor jou dood het met die afhandeling van jou boedel net mooi niks uit te waai nie.
As ek ’n voorstel kan doen vir diegene wat nie toegang het tot die vereiste kundigheid wat ek hier bepleit nie, gaan kyk op Fisa se webblad vir ’n fidusiêre spesialis. Jy kry dan die gemoedsrus van bewese kundigheid en voldoening aan die vereiste van aanspreeklikheid vir professionele en etiese optrede.



