Word jy bloot verlei of dalk doelbewus mislei deur advertensies wat belowe dat geen mediese toetse vir lewensdekking nodig is nie? Nico van Gijsen verduidelik waarom hierdie ‘gemaklike’ kortpad jou gesin duur te staan kan kom.
Moenie jou laat mislei — gaan dokter toe, Pappa!
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 23 November 2025
Hoekom sal ’n versekeraar polisse adverteer op grond daarvan dat geen mediese ondersoek nodig is nie, vra Nico van Gijsen.
Kom ons begin met ’n taalles.
Aan die ontbyttafel vandeesweek vra ek vir my vrou: Wat is die verskil tussen mislei en verlei? Wat ek toe sommer self antwoord.
Mislei, verduidelik ek, het ’n verkeerde gevolg. Verlei het ’n prettige gevolg. Haar kyk en haar stil glimlag het my laat dink dalk moet ek maar liewer die dik boek nader trek.
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, oftewel die HAT, is ietwat minder genuanseerd. As jy iemand mislei, is jy besig om iemand “op die verkeerde spoor” te bring. Bedrog word ook genoem.
Deur iemand te verlei, kan jy daardie persoon “tot sonde of kwaad” bring. Of tot iets “onverstandigs”. Soos die slang vir Eva. ’n Meisie kan blykbaar verlei word. Oor mans is die dik boek stil.
Dit wat betref die taalles. Hier is die finansiële boodskap.
Is dit ’n poging om mense te mislei, of te verlei, as ’n versekeraar lewenspolisse smous en dan byna oorbeklemtoon dat geen mediese onderskrywing nodig is nie? Jy kan soveel miljoen rand se lewensdekking kry sonder ’n mediese ondersoek.
My vraag is hoekom?
Uit die versekeraar se oogpunt
Hoekom sal ’n versekeraar polisse adverteer op grond daarvan dat geen mediese ondersoek nodig is nie?
Die sterftekurwe loop vir alle versekeraars dieselfde. Die risiko wat gedek moet word, is vir almal dieselfde en moet binne ’n bepaalde sakemodel tog met ’n winsmotief bestuur word.
As mense met skete en kwale ’n hoër risiko inhou as ander, hoekom sal ’n versekeraar dan nie met ’n mediese ondersoek wil seker maak dat sy risiko bestuurbaar is nie? Hoekom sal hy die risiko loop dat iemand met ’n kort lewensverwagting ’n polis van ’n paar miljoen kom koop, sonder dat die versekeraar sy belang probeer beskerm?
Die tarief vir lewensdekking word bereken oor die normale lewensverwagting van die aansoeker. Daarom is mans se polisse byvoorbeeld duurder as dié van vroue van dieselfde ouderdom. Vroue het ’n langer lewensverwagting as mans. Die versekeraar kry dus oor ’n langer termyn premies met die versekering van vroue.
En ek wonder, waar word kliënte mislei, of verlei? Besluit maar watter een. Of steek daar iets meer sinister in die “geen mediese ondersoek”?
Iets soos die aanname, of verwagting, dat genoeg mense gaan jok op hul aansoekvorms, wat dan as ’n rede (verskoning) aangewend kan word om nie uit te betaal wanneer geëis word nie?
Ek beskuldig niemand. Ek vra. Bygesê, ek lees ook die hofsake hieroor.
Uit die kliënt se oogpunt
Hoekom sal dit vir ’n kliënt belangrik wees om ’n lewenspolis te kan koop sonder om vir ’n mediese ondersoek te gaan?
Dit is gratis. Die versekeraar betaal daarvoor, net ingeval iemand koste as ’n rede wil noem.
As jy vir daardie gratis mediese ondersoek gegaan het, weet jy dat jy gesond is. Of jy weet daar is iets fout met jou en jy kan mediese hulp kry.
Dit is vir my so logies dat ek skoon skaam is om dit te moet noem.
Die rede waarom iemand ’n polis sal wil koop en die feit dat geen mediese ondersoek gedoen hoef te word nie, weeg so swaar, dan wonder ek hoe swaar weeg sy etiek. Hoe swaar weeg sy basiese eerlikheid? Wat word doelbewus weggesteek? Is daar ’n vrees vir iets, wat onderduk kan word deur dit te verswyg?
Weet dit: Versekeraars oorweeg hul risiko op lewenspolisse met elke enkele aansoek. Ons noem dit onderskrywing.
Jy kan óf onderskryf word in die aansoekstadium deur te gaan vir ’n mediese ondersoek óf jy kan onderskryf word in die eisestadium wanneer die polis moet uitbetaal.
Dit is wanneer onderskrywing plaasvind in die eisestadium dat na jou antwoorde op die vrae gekyk word. Veral: Wat het jy daarin verswyg?
Jy wil seker wees jou polis betaal uit. Dis tog gemoedsrus waarna jy soek.
Uit my oogpunt
Nee, dit is nie net my oogpunt nie. Dit is die siening van enige verantwoordelike finansiële beplanner, of raadgewer. Dit is wat gedryf word deur die Finansiële Beplanningsinstituut van Suid-Afrika (FPI), waarvan ek lid is. Dit is wat gedryf word deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA).
En dit is deeglike finansiële raad wat voldoen aan jou behoeftes, wat toepaslik is vir jou risiko’s en jou naasbestaandes se omstandighede.
Ek het hier bo genoem van die onderskrywingsrisiko waaraan jy jou blootstel deur polisse te koop sonder om ’n mediese ondersoek te ondergaan.
Ek dink dit is veral mense wat byvoorbeeld aan gevaarlike sportsoorte deelneem wat kan dink dis een manier om die moeilike vrae en dalk verhoogde premies te systap.
En ek dink aan rokers – wat weet hulle gaan met ’n verhoogde premie belaai word as hulle medies ondersoek word – wat die ondersoek sal wil vermy om ’n goedkoper premie te kan kry.
Ons het ’n geval gehad waar iemand ’n polis uitgeneem het vir gevreesde siekte en ná die mediese ondersoek is die polis toegestaan, maar met ’n kwaai premiebelading.
Toe die persoon twyfel omdat dit so duur is, was ons antwoord: As jy op grond van jou huidige mediese toestand so belaai word, het jy hierdie polis nodiger as wat jy dink.
Die mediese ondersoek kan tot jou voordeel wees. Moet jou nie laat mislei of verlei deur advertensies nie.



