Sekere makelaars lek hul lippe af vir jou pensioen

Wanneer makelaars hul lippe aflek vir jou hardverdiende pensioen, is dit tyd om mooi te kyk wie werklik in jou hoek staan. Ontdek waarom die regte aftreekeuse die verskil kan beteken tussen lewenslange gemoedsrus en ’n finansiële nagmerrie.


Sekere makelaars lek hul lippe af vir jou pensioen

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  7 Desember 2025

Wanneer jy by aftrede moet besluit waar om jou pensioen te belê, is finansiële gemoedsrus goud werd, skryf Nico van Gijsen.

Sommige mense sien uit na hul aftrede. Ander is, om verskeie redes, dalk minder opgewonde.

Alles gaan oor geld.

Daar is min dinge in die lewe wat so belangrik is soos genoeg geld om van te lewe, veral ná aftrede, wanneer jy nie meer die vermoë het om ’n inkomste te verdien nie. Jy moet leef van wat jy bymekaar gemaak het.

Dit is by aftrede dat jy die verantwoordelikheid moet neem vir die voorsiening wat jy vir aftrede gemaak het, of nie gemaak het nie. Dit is dan dat jy moet besluit oor hoe om jou geld te belê. Jy moet só besluit dat jy vir die res van jou lewe van ’n lewensonderhoudende inkomste verseker is.

Jou aftrede kom net een keer. Wat jy het, het jy. Wat jy nie wil hê nie, is dat jou geld voor jou doodgaan.

Hier is ’n paar punte in die verband wat ek graag wil beklemtoon.

Die GEPF

Ek hoor gereeld dat sekere makelaars lede van die regering se pensioenfonds (GEPF) nader en dan aanbeveel dat hulle voor aftrede bedank en hul pensioengeld neem en daarmee ’n private pensioen, gewoonlik ’n lewende annuïteit, aankoop.

Die argument is gewoonlik iets soos: As jy (as GEPF-lid) sterf, is jou geld weg. Of dis politiek.

Hiermee het ek ’n paar probleme.

Jy weet nie hoe lank jy gaan leef nie. Die GEPF waarborg vir jou ’n pensioen vir die res van jou lewe (en jy weet presies wat dit is voordat jy aftree). Jy kry ook ’n jaarlikse verhoging in pensioen, ook gewaarborg.

’n Gade wat jou oorleef, kry ’n lewenslange pensioen (50% of 75% van die oorspronklike pensioen van die lid).

Ek het al vir GEPF-kliënte van my die somme gedoen. As jy ’n soortgelyke inkomste uit ’n lewende annuïteit onttrek as uit jou GEPF-pensioenfonds, neem dit so tussen 10 en 14 jaar voordat jy by die maksimum toegelate onttrekkingskoers van 17,5% per jaar uitkom. Daarna begin jou inkomste noodwendig daal – terwyl jou pensioen uit die GEPF bly groei. Lewenslank.

Natuurlik sal dit afhang van die beleggingsgroei in jou lewende annuïteit. Die waarheid is egter dat hoe hoër die groei is wat jy najaag, hoe hoër is die risiko wat jy aanneem – risiko dat jou kapitaal kan daal.

Nou hoekom sou sulke makelaars hierdie soort aanbevelings doen?

Wel, jy kan nie die geld uit die GEPF direk in ’n lewende annuïteit oorbetaal nie. Jy moet dit eers in ’n uittree-annuïteit of in ’n bewaringsfonds belê en dan die lewende annuïteit aankoop. Dit is twee transaksies.

En as jou geld in die lewende annuïteit is, kry die makelaar deurlopende kommissie. As jy by die GEPF bly, kry hy of sy niks.

Lewende annuïteit teenoor ’n lewensannuïteit

Die keuse tussen ’n beleggingsgekoppelde lewende annuïteit en ’n gewaarborgde lewensannuïteit by aftrede is vir baie mense ook ’n kopseer.

Ongelukkig word hierdie belangrike besluit ook vertroebel deur ’n soortgelyke argument as wat ek hierbo noem. In die lewensannuïteit is jou geld weg.

Ek het al soortgelyke vergelykende somme as vir GEPF lede gedoen – en soortgelyke antwoorde gekry.

’n Gewaarborgde lewensannuïteit, soos met die GEPF-pensioen, koop gemoedsrus. Markskommelinge raak jou nie.

Met die lewensannuïteit, anders as die GEPF-pensioen, kan jy ’n langslewende gade aan die pensioen koppel. Dan, by die dood van die eienaar van die lewensannuïteit, gaan die maandelikse betaling van die pensioen oor na die oorlewende gade. Die volle pensioen (100%, plus jaarlikse verhogings) word aan die oorlewende gade oorbetaal tot by sy of haar dood.

Die geld is nie noodwendig weg ná dood nie. Jy kan die volle bedrag kapitaal verseker by die dood van die langslewende gade, vir byvoorbeeld kinders, as jy wil.

Dissipline die wagwoord

Soos deur die jare voor jou aftrede, is dissipline die wagwoord.

Jy kan nie ’n inkomste uit ’n lewende annuïteit onttrek na behoefte nie; dit is meer ’n geval van na vermoë. Dit is een van die mees opsigtelike stukkies logika en tog sukkel ek soms om dit in mense se koppe te kry.

As jy in ’n lewende annuïteit belê is, moet jy jou pensioen (as persentasie van jou kapitaal) wat jy onttrek, binne realistiese perke hou. Jy kan nie, as jy 9% groei op jou geld kry, teen 12% of 15% of die maksimum van 17,5% per jaar onttrek nie.

Jou kapitaal gaan vinnig minder word.

Ek het ervaring van mense wat te slim was en nie wou luister na raad om liewer ’n lewensannuïteit pleks van ’n lewende annuïteit te koop nie. Hulle wou meer geld hê per maand as wat die lewensannuïteit sou bied. En toe het hulle boonop besluit om hul eie portefeulje te probeer bestuur. Uiteraard kon ek nie sien watter beleggingsopbrengs hierdie selfbestuurde portefeulje gelewer het nie, maar ek het die tekens gelees.

Ek het boodskappe gekry van “dit gaan moeilik”. Oor tyd is risikopolisse, soos gevreesdesiekte-polisse en lewenspolisse, gekanselleer, want die premies was nie meer volhoubaar nie.

Die geld-ellende waarteen ek gewaarsku het, het gou ’n werklikheid geword. Kom liewer klaar met ’n raps minder en kry finansiële gemoedsrus.

Daar is sekere dinge in die lewe wat belangriker is as baie geld, maar daar is min dinge wat

belangriker is as genoeg geld om van te lewe.

Aftrede is lewenslank.

Scroll to Top