Wat gebeur met jou pensioen as jy sterf of skei, en hoe raak die aanwasbedeling jou boedel? Nico bespreek die kernfaktore rondom pensioengeld en uittree-annuïteite sodat jy beter kan beplan en verrassings kan vermy.
Hoe gemaak met pensioen as jy sterf of skei?
Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake • 23 Maart 2025
Hou die wette op huweliksgoedere en pensioenfondse in gedagte wanneer dit by aanwas kom as jy sterf of skei, skryf Nico van Gijsen.
Ek kyk na ’n paar belangrike feite oor jou pensioengeld en uittree-annuïteite (UA’s) wanneer jy die dag sterf. Spesifiek waar die huweliksaanwas ter sprake is.
Die huweliksaanwas
Die Huweliksgoederewet (nr. 88 van 1984) bepaal dat in huwelike buite gemeenskap van goed wat die aanwas insluit, wanneer die huwelik beëindig word (deur dood of egskeiding) die gade wie se boedel die minste groei getoon het tydens die bestaan van die huwelik, ’n eis sal hê teen die boedel van die ander gade om die helfte van die verskil in die netto groei tussen die twee boedels.
’n Eenvoudige voorbeeld: By huweliksluiting het elke gade ’n boedel van R1 000. Wanneer een sterf, is (sê maar) die man se boedel R10 000 werd (netto waarde, dus skuldverpligtinge uitgesluit) en sy vrou s’n R4 000.
Die man se boedel het dus met R9 000 gegroei en sy vrou s’n met R3 000. Die verskil is R6 000. Haar aanwas-eis is dus vir R3 000, die helfte van die verskil in groei tydens die huwelik.
Sekere bates word spesifiek uitgesluit, waaronder skenkings en erfenisse.
Pensioengeld tel nie onder hierdie spesifieke uitsluitings nie. En dit, ongelukkig, laat sommige mense ’n wind sluk. Hulle wil dan sommer, omdat pensioengeld nie tel onder die spesifieke uitsluitings nie, dit ook in berekening bring vir die aanwas-eis.
Pensioengeld vorm egter nie deel van jou boedelbates nie.
Die aanwas-eis is teen die boedel van die oorledene. Net bates wat in die boedel val, kan in berekening gebring word.
Egskeiding
Die verdeling van pensioengeld by egskeidings kan dalk verwarring skep.
Pensioengeld kan by egskeiding ter sprake kom. Die verdeling kan dadelik gedoen word, sou die hof so ’n verdeling beveel.
Hier praat ons egter van ’n onderhoudsbevel van die hof, nie ’n aanwas-eis nie. Ander bates sal in berekening gebring word vir die aanwas-eis by egskeiding (net soos by dood), maar nie pensioengeld nie.
Die onmiddellike verdeling van pensioengeld by egskeiding word moontlik gemaak deur art. 37D(1)(d) van die Pensioenfondswet (nr. 24 van 1956), wat in 2007 in die wet ingebring is – om die “skoon breuk” te bewerkstellig.
Pensioengeld val nie in die aanwas-eis nie. Nie by egskeiding nie en nie by dood nie.
Pensioengeld by dood
Wat die vraag laat ontstaan: Wat word dan van pensioengeld by dood?
Art. 37C van die Pensioenfondswet bepaal wat met pensioengeld (ingesluit ’n UA) sal gebeur.
Sonder om te tegnies te raak, die trustees van die fonds het 12 maande om na afhanklikes te soek.
Ongeag of jy ’n begunstigde benoem het om jou pensioengeld ná jou dood te ontvang, die trustees het die finale besluitnemingsmag.
Al word die pensioengeld deur die trustees aan die langslewende gade toegeken, word dit gedoen ingevolge die Pensioenfondswet en nie die Huweliksgoederewet en die aanwasbedeling nie.
Pensioenvoordele verg ekstra beplanning
Goed, nou weet ons wat sê die wet, of dan wette. Hoe beplan jy?
Kom ons sê jy het volwasse kinders (dalk uit ’n vorige huwelik) wat nie van jou afhanklik is nie, of dalk ouers vir wie jy iets wil nalaat, sou jy voor hulle sterf.
Jy weet daar is ’n aanwas-eis teen jou boedel en jy weet jou pensioen vorm nie deel van die aanwas-eis nie.
Juis daarom benoem jy jou ouers of jou kinders as begunstigdes op jou pensioenfonds. En jy sterf salig in die troos dat almal vir wie jy omgee, versorg nagelaat is.
Jou vrou gaan haar deel van jou boedelgroei kry ingevolge die aanwasbedeling. Die kans is ook baie goed dat sy die volle voordeel van jou pensioenfonds sal kry as ’n afhanklike.
En jou kinders, of ouers, sit sonder ’n beduidende deel van jou nalatenskap. Ondanks jou beplanning.
My voorstel
Lewensversekering
Neem lewensversekering uit vir die bedrag wat jy wil hê na jou kinders of ouers moet gaan wanneer jy sterf.
Begunstig hulle direk, anders val die polis in jou boedel en verhoog dit die waarde van jou boedel en gevolglik ook die aanwas-eis teen jou boedel.
Dit gaan ook nie help jy doen ’n testamentêre bemaking van die polisgeld in jou boedel nie. Die aanwas-eis kry voorkeur bo testamentêre bemakings.
Jy kan ongelukkig ook nie ’n polis uitneem en dit aan jou vrou begunstig ten einde haar boedel te vergroot om haar aanwas-eis te verminder nie.
’n Lewenspolis op jou lewe ten gunste van haar val nie in haar boedel vir die berekening van die aanwas nie. Net mooi andersom, as sou jy ’n polis aan jou boedel laat uitbetaal.
Trust
Jy kan deur jou lewe reeds begin voorsiening maak vir jou kinders deur bates na ’n trust oor te dra waarin hulle begunstigdes is.
Daar is niks mee fout nie. Elkeen is vir sy eie boedel verantwoordelik tydens die bestaan van die huwelik – die aanwas kom eers ter sprake by die beëindiging van die huwelik (hoewel daar ’n beskermingsmaatreël is, sou jou vrou meen jy is besig om kwaadwillig jou boedel te verklein).
Oorweeg dit ook om elke jaar geld aan die trust te skenk (R100 000 per jaar word van skenkingsbelasting vrygestel) waarmee die trust dan ’n polis op jou lewe uitneem en die premies betaal.
By jou dood sal die premies plus 6% rente per jaar aftrekbaar wees vir boedelbelasting in jou boedel.