Hoe om ’n nagmerrie-testament te vermy

Die opstel van ’n testament is ’n kritieke stap in boedelbeplanning. ’n Swak opgestelde testament kan ongewenste gevolge hê en probleme veroorsaak vir die mense wat jy eintlik wou bevoordeel.


Nota: Hierdie artikel is ʼn vertaling van die oorspronklike artikel soos gepubliseer in TWK Agri: Radius se Herfs publikasie. Die oorspronklike artikel (in Engels) kan ook hier gelees word.

Hoe om ’n nagmerrie-testament te vermy

Deur Louis van Vuren • TWK Agri: Radius • Maart 2025 publikasie

Die opstel van ’n testament is ’n kritieke stap in boedelbeplanning. ’n Swak opgestelde testament kan tot ernstige gevolge lei en onnodige probleme veroorsaak vir diegene wat jy eintlik wou bevoordeel.

Om hierdie risiko’s te beklemtoon, kyk ons na twee werklike gevallestudies wat die uitdagings illustreer en wys waarom professionele advies noodsaaklik is.

Opponerende eise oor boedelvoordele

John wou verseker dat sy eggenoot ‘n blyplek sou hê na sy dood. Sy testament het sy hele boedel bemaak aan ‘n trust met sy twee dogters as die enigste trustees en begunstigdes, onderhewig aan ‘n lewenslange reg vir sy eggenoot om die huis te bewoon waar hulle (John en sy) gewoon het. Klink tot dusver goed.

Niks anders is aan die eggenoot bemaak nie en, na John se dood, was sy ontevrede. Sy het ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) ’n eis van meer as R6 miljoen teen John se boedel ingestel.

Hierdie wet het ten doel om langslewende gades te beskerm teen onterwing deur die oorlede gade in omstandighede waar die oorlewende onvoldoende middele van onderhoud het. Sy het egter geen stawende inligting verskaf oor hoe sy by hierdie bedrag uitgekom het nie.

Die twee dogters, as eksekuteurs van die boedel, het ’n kundige agent aangestel om administrasie te hanteer. Terselfdertyd het hulle, in hul hoedanigheid as trustees van die trust, ’n eis van R4 miljoen teen die boedel ingestel vir ‘n beweerde lening wat die trust aan hul pa verleen het om die huis te koop waaroor die weduwee die lewenslange verblyfreg geërf het. Indien albei hierdie eise toegestaan word, sou die boedel insolvent wees.

Die weduwee, wat nie die ma van die twee dogters was nie, het die hooggeregshof genader vir ‘n bevel om die twee dogters as eksekuteurs te verwyder. Sy het aangevoer dat daar ‘n botsing van belange is.

Die hof was nie tevrede dat die saak, wat redelik opgelos kon word, in die hof beland het nie. Uiteindelik het die hof beslis dat die dogters as eksekuteurs verwyder moes word, aangesien hulle ’n direkte finansiële belang in die boedel se uitkoms gehad het.

Botsing van belange oor inkomste versus verblyf

Pieter het ‘n eiendom besit waarop ‘n gastehuis geleë was. Sy lewensmaat, Kate, het die gastehuis bestuur en sy testament het bepaal dat sy ná sy dood op die eiendom kon aanbly sonder om huur te betaal terwyl sy voortgaan om die gastehuis te bestuur.

Die eiendom is in gelyke dele aan Kate en Pieter se seun, James, bemaak. Die netto inkomste (wins) van die gastehuis moes gelykop tussen Kate en James verdeel word. As James egter sou kies om in een van die ander geboue op die eiendom te bly, sal hy sy reg op die helfte van die wins van die gastehuis verbeur. Die res van die boedel is ook in gelyke dele aan Kate en James bemaak.

Dit klink na ‘n regverdige reëling om na beide Kate en James om te sien. Pieter het ook Kate en sy vorige belastingkonsultant, Anne, as eksekuteurs aangewys. Na sy dood het Kate en Anne egter  ‘n ander siening as James ingeneem oor verskeie punte rakende die interpretasie van Pieter se testament.

Hulle het ook geweier om vir hom insae te gee in die boedeladministrasie en gastehuis se inkomste. Hulle het beweer dat die gastehuis nie deel van die boedel was nie en dat Kate alle beheer daaroor moes hê.

James het die hof genader om hulle as eksekuteurs te laat verwyder weens Kate se botsing van belange, Anne se gebrek aan onpartydigheid en vir ‘n behoorlike interpretasie van die testament. Die hof het met James saamgestem en bevestig dat hy as mede-eienaar van die eiendom geregtig was op sy helfte van die gastehuis se wins. Verder is die eksekuteurs weens hul onpartydigheid en botsing van belange verwyder.

Belangrike lesse geleer

Hierdie twee sake beklemtoon die volgende sleutelaspekte wanneer jy ’n testament opstel:

  • Wees bewus van botsings van belange: Die risiko van ‘n botsing van belange word baie werklik as jy ‘n nabye familielid, eggenoot of lewensmaat die eksekuteur in jou boedel maak, behalwe as die langslewende gade alles erf.
  • Kry professionele advies: Dit is belangrik om professionele advies in te win wanneer ‘n tweede gade of lewensmaat, sowel as kinders uit ‘n vorige verhouding, as begunstigdes of eksekuteurs betrokke is.
  • Maak seker jou testament is duidelik: Professionele bewoording kan help om latere geskille en waninterpretasies te vermy.
  • Eksekuteurs en trustees moet onpartydig wees: Die hof beskou ‘n eksekuteur in ‘n bestorwe boedel en ‘n trustee in ‘n trust as in ‘n posisie van trust geplaas en is onderhewig aan ‘n plig om op ‘n onpartydige wyse op te tree, dit wil sê in die beste belang van die boedel of trust en almal wat daarby mag baat.

Om ’n nagmerrie-testament te vermy, is dit dus belangrik om vooruit te beplan en seker te maak dat jou wense duidelik en regverdig geformuleer is.

Scroll to Top