Voordat jy ‘n trust stig, dink mooi – dit kan jou meer kos as wat jy verwag! In hierdie artikel kyk Nico na die werklike voordele en slaggate van trusts in boedelbeplanning, sodat jy ingeligte besluite kan neem.
Dink mooi voordat jy ’n trust skep
Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake • 26 Januarie 2025
Loop maar lig en doen jou huiswerk volledig voordat jy ’n trust gebruik in jou boedelbeplanning, skryf Nico van Gijsen.
Verlede week het ek hier geskryf oor die gebruik van ’n trust in boedelbeplanning. Vandag moet ek byvoeg: Loop maar lig.
Dit is ongelukkig so dat trusts links en regs geskep word, baiekeer deur trustsmouse wat die woord “etiek” nie mooi verstaan nie. Dit gaan oor eie gewin eerder as die kliënt.
En gewoonlik is belasting die wortel wat uitgehang word. Soms as ’n verdraaiing van die feite, soms sommer net as ’n flagrante leuen.
Nietemin, kom ons kyk spesifiek na ’n leser se vraag oor ’n trust wat vir haar aanbeveel is.
Sy is ’n 75-jarige weduwee met ’n Karooplaas ter waarde van sowat R8 miljoen. Haar seun boer tans daar. Hy sal die plaas erf wanneer sy sterf.
Sy woon in haar strandhuis ter waarde van sowat R3,5 miljoen. Die dogters erf die strandhuis.
Sy het ook sowat R1 miljoen se aandele.
Sy vra: Is dit wys om saam met haar seun en boekhouer ’n trust te skep?
Ek kan nie sê of dit wys is nie. In my rubrieke skryf ek nie voor nie. Daar is nooit een plan wat almal geld nie. Wat ek doen, is om lesers te help dink aan wat relevant is.
So, kom ons kyk.
Hoekom ’n trust?
Wat uiters belangrik is met die voorstel om ’n trust te skep, is die hoekom. Om watter rede wil of moet ’n trust geskep word?
Is daar ’n belastingvoordeel wat aan jou voorgehou word? Dis gewoonlik die verkoopsargument.
Vergeet inkomstebelasting. Dis nie relevant nie, tensy die trust gaan sake doen en inkomste verdien. En dan is dit myns insiens in elk geval nie slim nie.
Trusts kos geld om op te rig. Dit kos geld om te bestuur. Die ouditeur werk nie gratis nie.
Trusts moet ’n eie bankrekening hê, of die trust nou sake doen of nie. Daar is dus bankkoste.
Trusts moet jaarliks ’n belastingopgawe indien, of die trust nou inkomste verdien het of nie. En die ouditeur werk nie gratis nie.
Kry ’n volle verduideliking oor hoekom ’n trust, asook hoekom nou, in ag genome jou ouderdom.
Boedelbelasting
Boedelbelasting is ’n groot trekpleister om trusts te smous.
Maar jy is reeds 75 jaar oud. Die waarde vir jou om nou die plaas na ’n trust oor te dra is nie veel nie. Jy gaan net die verdere groei in waarde uit jou boedel kan hou.
Maar teen watter prys?
As jy die plaas aan die trust skenk, is geskenkebelasting en kapitaalwinsbelasting nou betaalbaar. Dit kan ’n aardige bedrag wees.
Jy kan die plaas aan die trust verkoop op ’n leningsrekening. Kapitaalwinsbelasting is steeds betaalbaar. En die agterstallige leningsrekening is steeds ’n bate in jou boedel vir boedelbelasting. Dis net die verdere groei in waarde wat jy uit jou boedel haal.
Jy kan jaarliks jou vrystellingsbedrag vir geskenkebelasting (R100 000) aan die trust skenk waarmee die trust die leningsrekening kan begin terugbetaal.
Maar neem in ag dat jy ook die trust rente moet vra op die agterstallige leningsrekening. As die trust nie inkomste het nie, waarmee betaal hy die rente?
En as jy die trust nie rente vra op die agterstallige leningsrekening nie, beskou Jan Taks dit as ’n skenking en word jy daarop belas.
Trust-oprigter en trustees
Daar bestaan nie so ’n ding dat jy en jou seun en die ouditeur saam ’n trust skep nie. Dit is snert.
’n Trust is ’n ooreenkoms. Niks meer nie, niks minder nie. Dit is nie ’n regsentiteit nie. Dit het nie aandeelhouers nie.
’n Trust word geskep deur die trust-oprigter, dit is jyself.
Die ooreenkoms word opgestel en sal bepaal dat die goed (die plaas) in trust gehou word deur die trustees (wat jou seun en jou ouditeur en jyself kan wees). En hier is die belangrike punt: tot voordeel van die derde party in die ooreenkoms – die begunstigde(s).
Die oomblik dat hierdie ooreenkoms gesluit en die plaas na die trust oorgedra is, het jy geen seggenskap tot jou eie voordeel meer daaroor nie. Dit is nie meer joune nie. Jy sou dit byvoorbeeld nie testamentêr kon bemaak aan jou dogters as jy later sou wou nie.
Sou jy wel besluit om nou ’n trust te skep, is die opstel van die trust-akte van uiterste belang. Doen dit in samewerking met ’n werklike trustspesialis.
Alternatiewe voorstel
Alles omtrent trusts is nie sleg nie. Dit kan ’n uitstekende voertuig wees om bates in te hou – ten gunste van begunstigdes, onthou (lees hier bo).
Dit kan voordelig wees om jou plaas aan ’n trust te bemaak (bespaar baie uitgawes nou) met jou seun en sy kinders byvoorbeeld as begunstigdes. Of dalk selfs met jou dogter as medebegunstigdes.
Jou seun kan die plaas by die trust huur en die boerdery in sy eie naam of in ’n maatskappy bedryf. Só kry jou dogters ook voordeel uit die plaas wat jy besit het.
Dieselfde kan gedoen word met die strandhuis. Dan het die seun ook toegang tot die strandhuis, wat aan die trust behoort en nie jou dogters nie.
Dit versprei die bates meer eweredig onder jou kinders.
Meer nog, só hou jy hierdie bates uit hul onderskeie boedels en kan hulle die voordele van die bates benut sonder om eienaarskap daarvan te hê.
Nog Raad
Tyd is nou om belasting te beperk
As jy belasting in dié belastingjaar wou bespaar, kan jy dit doen deur nou ’n bydrae tot ’n uittree-annuïteit (UA) te lewer.
Dit moet gedoen word voor die einde van die belastingjaar, wat vir ons gewone siele einde Februarie is. Maar om die administrasie betyds afgehandel te kry, doen dit nou.
Die Inkomstebelastingwet (58 van 1962) laat toe dat jy die kleinste van R350 000 of 27,5% per jaar van die hoogste van vergoeding of belasbare inkomste kan aftrek vir bydraes tot ’n aftreefonds, wat dus ’n UA insluit.
Dit is die totale toegelate aftrekking tot alle aftreefondse. Die meeste salaristrekkers dra slegs sowat 15% van hul salaris by tot ’n aftreefonds, wat beteken dat die meeste mense nog sowat 12,5% van hul salaris kan spaar in ’n UA en só minder van hul swaar verdiende geld aan belasting afstaan.
Solank die uiteindelike bedrag nie R350 000 oorskry nie.
Hoeveel bespaar jy aan belasting?
As jou marginale belastingkoers sê maar 30% is, is dit wat jy spaar.
Anders gestel, vir elke R1 000 wat jy belê, bespaar jy R300 aan belasting.
En dan kry jy nog belastingvrye groei daarop ook.



