Pasop vir die fonds wat die vorige jaar se held was

Jy het dalk verlede jaar se wenfonds op jou radar, maar pasop—groot groei beteken nie blywende sukses nie. Nico kyk na die gevare van agteruit kyk in beleggings en hoe jy jou geld slim vorentoe kan bestuur.


Pasop vir die fonds wat die vorige jaar se held was

Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake  •  01 Februarie 2025 

Die jaar 2025 was nog skaars uit sy doeke, toe sien ek al hoe mense op ’n streep elke denkbare beleggingsfout maak. Sommige met entoesiasme.

Hoekom, kan ek net raai. Dalk ’n nuwejaarsvoorneme om meer te spaar?

Spaar is ’n goeie voorneme. Ons moet almal meer spaar.

Maar dan gaan hulle en neem onnosel besluite. Gaan belê in die fondse wat verlede jaar en die jaar voor dit die spreekwoordelike ligte uitgeskiet het. Die klassieke fout: Belê as die fonds presteer het en verkoop wanneer hy geval het.

Pasop vir gierigheid

Ek onthou goed toe ek jare gelede my eerste tree in hierdie bedryf gegee het. ’n Beleggingsraadgewer met wie ek kontak gehad het, had hierdie wyse woorde: Pasop vir die fonds wat verlede jaar 30% groei getoon het. Hy kan volgende jaar 30% val.

En dit het ek deur die jare oor en oor gesien. Die uitskieter-fondse hou nie lank aan met uitskiet nie. As jy daarin belê, moet jy baie lang termyn dink, want hoe groter die groei, hoe groter die kans dat hy jou geld op kort termyn gaan verloor ook.

Die waarheid is dat as jou fonds 30% gegroei en toe weer 30% geval het, jy nie terug is waar jy begin het nie. Jy het in werklikheid dan 8% van jou kapitaal verloor.

Om dan weer terug te kom na waar jy was, is 30% se groei nie genoeg nie. Jy moet nou 42,86% groei kry net om jou te kry waar jy was toe jy begin het. Hopelik alles in een jaar, anders verloor jy jaar op jaar weer.

Toets jouself

Suid-Afrikaanse eiendomsaandele is ’n baie goeie beleggingsklas. Hy het verlede jaar 29,8% groei gehad. Tyd om te belê, nè?

Maar wat sou jou reaksie wees as ek Suid-Afrikaanse eiendomsaandele aanbeveel het ná 2018, toe hierdie aandeleklas ’n negatiewe -25% opgelewer het? Of ná 2019 met ’n groeisyfer van -0,4%? En die jaar daarna (2020) toe jy sou moes kyk na ’n verdere negatiewe syfer van -35,5%?

Nie baie sou my toe glo dis nou die tyd nie.

Maar het jy dit gedoen, het jy met die Suid-Afrikaanse eiendomsaandele in 2021 groei van 38,6% gehad. Nie te versmaai nie.

En in 2022 sou jy seker weer kwaad vir my geword het (en baie sou verkoop het) met ’n negatiewe opbrengs van -1,9%.

Maar het jy vasgebyt, sou jy in 2023 ’n goeie 10,7% groei gehad het, met die verdere groei van 29,8% in 2024.

Gesels met die werklike kenners. En daarmee bedoel ek nie diegene wat die mark probeer voorspel nie. Dit kan niemand doen nie.

Vergeet van die slim buurman. Praat oor rugby by die braaivleisvuur, nie geldsake nie. En moenie alles glo wat jy lees nie; elkeen probeer maar spog met sy prestasie.

Jy soek nie verlede jaar se wenners nie. Jy wil vorentoe kyk. Vergeet van oornag-rykdom. Jy wil eerstens nie jou geld verloor nie. Dan eers kom die groei.

Praat met iemand wat jou risiko verstaan nog voordat hy of sy enige produk of fonds aanbeveel. Vermy die gladdebek-smous wat net produkte aan jou wil afsmeer. Werk moet gedoen word vóórdat die produk ter sprake kom.

Alle risiko is nie sleg nie

As ek praat van risiko en die beperking van risiko, beteken dit nie jy moet alle risiko ten alle koste vermy nie.

Ek sien dít ook en dit is ’n ewe groot sonde met beleggings as jy hoop om vir jouself welvaart te skep. En welvaart moet tog ons einddoel wees wanneer ons spaar, nie so nie?

Ek weet van iemand wat uit die staatsdiens bedank, sy pensioengeld laat uitkeer en dit op aanbeveling van ’n makelaar in ’n vyfjaar-inkomstepolis belê het.

Die polis het aan hom ’n skaflike inkomste betaal vir die vyf jaar. Toe keer die oorspronklike beleggingsbedrag uit en dit word weer belê.

Klink na goeie risikobestuur, nè? Gewaarborgde inkomste vir vyf jaar en jou kapitaal daarna terug, gewaarborg.

Maar kom ons kyk na die syfers.

Die persoon se kapitaal het elke jaar gekrimp met inflasie, want dit groei nooit. Die R3 miljoen wat hy 30 jaar gelede só belê het, het vandag die koopkrag van net sowat R638 536 vergeleke met daardie tyd.

Het hy sy geld behoorlik belê en inkomste onttrek gegrond op die deel van die beleggingsgroei bó inflasie sodat sy kapitaal net gelyk aan inflasie (gemiddeld 5,7% per jaar) gegroei het oor die jare heen, sou hy nou met ’n stewige neseier van meer as R14 miljoen gesit het.

Dit is wat gebeur as jy bang is. Of as jou makelaar produkte smous (teen 3%-kommissie elke keer wanneer hy die geld herbelê) eerder as om onbevange finansiële raad met die fokus op jou behoeftes te gee.

Selfs wanneer jy aangewese is op ’n inkomste uit jou kapitaal, moet jy ’n mate van beleggingsrisiko neem. ’n Deel van jou geld moet in aandele belê wees om groei te kry, anders gaan inflasie jou vang.

Werklike risiko moet aandag kry wanneer jy jou beleggingsbesluite neem.

Dit is belangrik om die tydhorison te bepaal. Dit is belangriker as om die “wen-aandele” te kies.

En kry tog eers raad en vra dan oor die produk.


Nog Raad

Voorlopige belasting – maak seker

Die keerdatum vir die indien van belastingopgawes as jy ’n voorlopige belastingbetaler is, is einde Januarie.

Wie is ’n voorlopige belastingbetaler?

In par. 1 van die vierde skedule van die inkomstebelastingwet (wet 58 van 1962) kry ons ’n volledige definisie vir wanneer jy ’n voorlopige belastingbetaler is.

Maar hier is ’n makliker weergawe.

As jy enige inkomste anders as jou salaris of vergoeding ontvang waarop belasting ingevolge die Lopende Belastingstelsel (LBS) nie gevorder word nie, is jy waarskynlik ’n voorlopige belastingbetaler.

Eenvoudig gestel, as jy werk vir iemand doen en betaal word sonder dat belasting afgetrek word, is jy waarskynlik ’n voorlopige belastingbetaler.

En daardie inkomste sluit in beleggingsinkomste. Nie inkomste wat jy uit jou beleggings onttrek nie. Dit is gewoonlik belastingvry as dit diskresionêre beleggings is. Ons praat van die groei op jou beleggings.

Dit sluit in rente betaal deur jou bank. En natuurlik huur-inkomste as jy eiendom verhuur.

Die groei in belastingvrye spaarplanne en aftreefondsprodukte is natuurlik uitgesluit.

As jy ’n voorlopige belastingbetaler is, moet jy twee keer per jaar op jou verwagte inkomste vir die jaar vooruit, of dan voorlopig, belasting op daardie inkomste betaal.

Einde Augustus is die tweede betalingsdatum.

Scroll to Top