Pasop vir die vals note van selfaangestelde kenners en misleidende “nuus”, want gratis raad kos jou dikwels die duurste. Vind uit hoe om die geraas uit te doof en te sorg dat jou geldsake nootvas bly.
Sorg só dat jou geldsake nootvas bly
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 16 November 2025
Pasop vir ‘gratis raad’ – dis ’n gekreun op een noot, en die noot is boonop vals, skryf Nico van Gijsen.
Ek is seker ons almal wat rugby kyk, het al daardie vals note by die sing van ’n volkslied voor die wedstryd ervaar.
Vir die wat dit nog nie agtergekom het nie, kyk gerus. Die kameradraers en hul TV-regisseurs, veral daar in Europa, is mos lief daarvoor om tydens die sing van ’n volkslied op die gesigte van die spelers in te zoem. So ook die klankopnemers.
Die gevolg is dat ’n pragtige volkslied, melodie en woorde, heeltemal kan wegraak agter die enkelnoot-gekreun van ’n span testosteroon-geoliede baljagters.
Nie net het rugbyspelers nou nie juis die fraaiste ou gesiggies om na te kyk nie, hul stemme is meesal ook nie wat ek sal noem operagehalte nie. Laat ek dit reguit stel: Hulle sing vals.
Trek nou ’n lyn hiervandaan deur na jou finansiële beplanning. Daar is eweneens vals note wat die melodie en die woorde kan laat wegraak totdat jy later heeltemal van stryk af is.
Wat is die melodie en die waarde van goeie finansiële beplanning?
Dit moet vir jou welvaart skep. Dit moet sorg dat jou finansiële risiko’s bestuur word. Jy moet die waarde daarvan kan geniet terwyl jy leef, en ná jou dood moet dit oorgaan na jou nageslag. Dit is reg en dit is mooi.
Ek kyk vandag na ’n paar van die vals note wat die melodie van ’n goeie finansiële plan kan bederf en die waarde van die woorde heeltemal kan laat wegraak.
Die grootbekke op sosiale media
Sommige mense is lief daarvoor om stellings op sosiale media te maak waarvoor hulle geen aanspreeklikheid hoef te aanvaar nie.
Soos om sommige versekeraars te wil verdoem, wetende dat hul swak ervaring aan hul eie swak oordeel toe te skryf is.
Soos om mense aan te moedig om “al hul geld in buitelandse fondse” te belê. Dit toe die buitelandse aandelemark op ’n hoogtepunt was. Ek wonder hoeveel mense het geld verloor deur die simpel raad te volg van koop terwyl die mark hoog is.
En noudat die mark geval het, sien ek nie aanbevelings om nou buitelandse aandele te koop nie. Nee, nou is dit buitelandse trusts wat die alfa en die omega is, ongeag wat jou finansiële behoeftes en doelwitte is.
Dit is vals note wat die finansiële lied laat wegraak.
Ek dink regtig die tyd het aangebreek dat mense in die finansiëledienstebedryf wat uitsprake op sosiale media maak deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) bekyk word. Dit is na my mening finansiële raad wat gegee word waarop mense te goeder trou reageer. Daar behoort aanspreeklikheid te wees.
Die hoofstroommedia
Laat ek eers sê: Nuus is belangrik, en in die meeste gevalle is dit verantwoordelik.
Die vals klanke kom wanneer mense geld betaal vir ruimte in die media om hul skewe, selfverrykende snert as nuus, of finansiële raad, aan te bied. Die media gee aan hulle status en geloofwaardigheid.
Die deursnee-leser het nie die kundigheid om die kaf van die koring te skei nie. Hy hoor net die vals sanger en mis die lied wat gesing word.
En dan is daar die gehamer in sommige (gerespekteerde) media op die koste en die kommissie van finansiële produkte.
Hier is die waarheid.
Ek het male sonder tal oor die 27 jaar wat ek hierdie rubriek hanteer, my wrewel uitgespreek teen die gejag na kommissie, pleks van verantwoordelike, toepaslike finansiële raad. Soveel so dat ek al uitgekryt is vanuit byna alle hoeke. Dit is geboekstaaf.
Maar hier lê die probleem.
Nie almal is vermoënd genoeg om vir finansiële raad te betaal nie. Wat word van hulle? Koop hulle maar direk by ’n versekeraar? Of belê direk by ’n batebestuurder?
Ek weet baie probeer dit. Ek weet baie loop die pad na finansiële verdriet. Leer dit tog. Vir niks kry jy niks.
Dit is sommer net los gedagtes oor ervarings die afgelope week – die rugby ingesluit.
Sit die klank af
Wanneer die vals stemme opklink, help dit om maar net die klank af te sit. Jy hoef nie na al die stories te luister nie – veral ná die rugby by die vleisbraaivuur, of op sosiale media.
Soos ek ’n kliënt vandeesweek geadviseer het: Wanneer iemand jou finansiële raad gee, soos waar om te belê, of dat jy ’n trust moet oprig, wees beleefd en sê dankie, ek sal dit met my finansiële beplanner bespreek.
My raad vandag is:
- Kry vir jou ’n kundige finansiële beplanner (of raadgewer). My keuse sal ’n gesertifiseerde finansiële beplanner met die betiteling CFP® wees. Dan is jy verseker van bewese kundigheid en iemand met lidmaatskap van die finansiële beplanningsinstituut (FPI), wat onder meer ook te alle tye etiese optrede vereis.
- Maak seker daar word holisties na jou geldsake gekyk. Dit is nie ’n produk-lied nie, maar ’n allesomvattende langtermyn- finansiële lied.
- As iemand vir jou sê sy of haar werk is gratis, moet die gevaarligte flikker. Gratis raad is presies dít werd wat jy daarvoor betaal.
Ek het vandeesweek iemand se testament gelees, en nadat ek na die persoon se bates en laste gekyk het, kon ek binne vyf minute vir die persoon letterlik derduisende rande aan die eksekuteurstarief en nog derduisende rande aan boedelbelasting bespaar.
Die “gratis” testament-opsteller het dit alles misgekyk. Of waarskynlik net gefokus op sy gruwelike eksekuteurstarief.



