In ‘n wêreld waar vertroue misbruik word, is dit noodsaaklik om jou finansies te beskerm teen diegene wat Bybelverse gebruik om jou te mislei.
Oppas vir die geldwolwe met Bybelversies
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 29 Junie 2025
Maak seker die blinkstefaans met die fantastiese geldstories het ’n lisensie en kwalifikasies om finansiële raad te gee. Moenie val vir foefies nie, waarsku Nico van Gijsen.
In verlede Sondag se Rapport lees ek die opskrif “Slinkse Romeo: Eers Jesus-boodskappies, toe raak hy romanties”.
Normaalweg sou ek so iets nie lees nie; my belangstellings lê daar buite in die natuur, nie in ander se sekslewe nie.
Maar my onmiddellike reaksie hierop kon ek nie keer nie. Ja, dog ek, volgende is seker haar geld. En toe ek verder lees, toe bevestig die berig dit vir my.
En ek wonder: Hoeveel keer gaan ons nog van sulke gevalle lees? Hoeveel keer het
Rapport (om maar een te noem) nie al oor soortgelyke gebeure geskryf nie?
Leer mense dan nie?
En hoeveel kere is dit nie (alleen) vroue wat só gevang word nie? Eers die Romeo en ’n romantiese verhouding, en ná die groot liefde ’n geld-verdriet.
Kan ek nog ’n keer daarteen waarsku? Is die stories in die koerante dan nie genoeg om mense te waarsku nie?
Maar ek wil tog probeer. Hier is ’n paar moenies, of dan gevaartekens.
Geloofslagoffers
Lesers wat oud genoeg is om die fliek The Godfather (’n Mafiabaas) te onthou, sal daardie veel aangehaalde wysheid van die godfather onthou: “Keep your friends close, but keep your enemies closer.”
Die Romeo-geldwolwe, glo ek, noem dit “hou jou slagoffers naby”. En hoe maklik kan dit nie wees as jy geloof kan bysleep nie. Baie mense wil vertrou en as jy eers daardie vertroue gewen het, is jou pad oop om vir diegene wat liefde soek, liefde te belowe.
En dan hul geld te steel.
Die kerk, of kerkverhouding, word al deur die jare misbruik om ander uit hul geld te verneuk, om te verkrag en selfs om jong kinders te molesteer. Dit is een werklikheid rondom geloof.
Moet dus nie dink dat alles net soet en mooi is waar jy gaan om te aanbid nie. Hou jou oë oop.
Beleggingsgeleenthede
Verlede Sondag se storie oor Yolandi Botha (35) vertel juis hoe daar vir haar ’n sakegeleentheid aangebied is.
Elke enkele piramideskema, elke enkele Ponzi-skema, word “verkoop” as ’n beleggingsgeleentheid. Kyk gerus deur die media, hoeveel van hierdie skelms het nie hulself bemark deur geloof nie.
Die ander groot bemarkingsmetode vir hierdie skelms is natuurlik deur sportpersoonlikhede te gebruik.
Wees ’n bietjie meer sinies oor wat jou vertel word. En hou jou geld. Vra jou af: Hoekom die geleentheid vir my aanbied? Hoekom nie vir mense met meer geld nie?
Ek ken die antwoord hierop: Mense wat regtig geld het, pas dit op. Hulle val nie vir foefies nie.
Die pastore
Ek hoor baie van mense wat geld belê by hul pastoor. Gewoonlik daardie kerke met die grootste geboue wat op ’n Sondag die meeste lawaai met die grootste orkeste maak.
Hoekom op dees aarde hulle dit wil doen, weet ek nie.
Hoekom sal die pastoor beter rente aanbied as wat jy op ’n belegging kan kry? Wat doen hy met jou geld? Of betaal hy jou uit die geld wat ander by hom belê?
Die belangrikste vraag is egter: Hoekom sal jy jou geld by die pastoor belê? Hy het teologie geswot (of hy is een van daardie met net ’n gladdebek), nie finansies nie.
As jy glo jou beleggingspastoor is die eerlike een, laat my weet of hy elke jaar vir jou ’n IRP5 uitreik sodat jy belasting op daardie rente kan betaal. As hy dit nie doen nie, dan is hy skelm. En belê jy by ’n skelm. En is jou geldjies in gevaar.
Jy het toegang tot die beste finansiële kundigheid en die beste batebestuurders. Gebruik hulle. Alles is eerlik en jy het sekerheid.
Ander geldwolwe
Daar is ’n ander kategorie geldwolwe ook. Hulle kan die kerk as skyn van hul eerlikheid aanbied. Of nie.
Hoewel ek glo die meeste van hulle is vrek skynheilig.
Dit is die geldwolf wat gelisensieer is. Die produkte wat hy verkoop, is goedgekeurde produkte. Meestal.
Maar soos enige geldwolf, kan hierdie ouens gierigheid op ’n afstand ruik. En dit is dan dat hulle met ander produkte vorendag kom. Produkte wat nie goedgekeur is nie, maar die wêreld se opbrengste belowe. En hulle doen dit willens en wetens.
Ek hoor van gevalle waar tot 10% kommissie betaal is. Sonder belastingopgawes. Kontant. En oorsese reise.
Kyk uit vir hierdie blinkstefaanse. Dit is ’n tipiese Rooikappie-wolf. Hulle lyk net soos ouma, maar dit is net om jou geld beter te kan sien.
Maak seker
’n Gek en sy geld word maklik geskei. Moenie dat jy mislei word deur buitefaktore wat met beleggings niks te doene het nie.
Jy werk hard vir jou geld; pas dit op.
Voor jy geldstories praat, vra om sy lisensie te sien om finansiële raad te mag gee. Vra om sy kwalifikasies te sien.
Kyk na die produk wat hy aanbeveel: Is dit goedgekeur?
Het hy eers ’n analise gedoen oor wat jou behoeftes is? Die belofte van groot opbrengs is nie ’n behoefte-ontleding nie. Dit is bloot ’n gery op die rug van jou gierigheid.
Vra hoe word hy betaal en deur wie. Kry dit op skrif.
En moenie die storie glo van “dit kos jou niks,; die versekeraar betaal my” nie.
Jy betaal. Op die een of ander manier betaal jy altyd.