Wie sorg vir jou bejaarde ouers as jý sterf? Dis ’n ongemaklike vraag, maar een wat te min mense vra – totdat dit te laat is.
Wie sorg vir jou bejaarde ouers as jý sterf?
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 06 Julie 2025
Ek wonder hoeveel mense dink ‘die kinders sal my versorg wanneer ek oud is’ – asof dit beplanning is. Kinders, hier is voorstelle.
Tog snaaks hoe dinge in die media ’n mens se oog tref waarin jy nie in die minste belangstel nie. Die skindernuus.
Soos byvoorbeeld die dinge oor Elon Musk, voormalige Suid-Afrikaner en voormalige boesemvriend van die egosentriese Amerikaanse president Donald Trump. En voormalige eggenoot van vier vroue.
Baas van Tesla-motors, Starlink-internetdienste en die sosiale kerm-en-kla-app, X. En die pa van 14 kinders.
Dit laat my toe dink aan ’n gesprek wat my ore opgevang het tussen vroue by ’n vleisbraaivuur. Een had toe te vertelle dat sy en haar man twee kinders gaan aanneem.
“Anders is daar niemand om my te versorg wanneer ek oud is nie.” Sjoe.
Is dit nou beplanning?
Maar mettertyd, hoe meer ek met mense en hul finansiële beplanning – of gebrek daaraan – te doene had, het ek begin wonder hoeveel mense só beplan. Dalk nie bewustelik nie, maar niksdoen is eweneens beplanning.
Ek het al die stories gehoor van hoe een ouer baie kinders kan versorg, maar baie kinders kan nie een ouer versorg nie. Dis melodrama, mense; laat dit verbygaan.
Jy het kinders in die lewe gebring, wetend dat hulle versorging gaan nodig kry. Kinders kies nie om ouers te hê nie.
Maak betyds voorsiening
Ek gaan nie oordeel oor ouers wat vandag wel by kinders woon nie. Die omstandighede is wat dit is.
Wat egter belangrik is, is dat daar vir sommige nog tyd is om hieroor te dink en betyds voorsiening vir hulself te maak. Genoeg voorsiening dat jy nie eendag verplig is om by jou kinders heil te soek nie.
Ek ken die probleem. Mense het nie genoeg gespaar vir aftrede nie. Of aftreefondsvoordele word uitgegee aan kinders se studie, kinders se huise, aan kinders geleen en wie weet wat nog alles.
Swak gelddissipline en swak beleggingsbesluite is ander redes. Dink daaroor. Doen wat verstandig is.
Kom ons raak prakties
Daar is ook die ander kant van die storie.
Dis mooi om te sê ons sal vir ons ouers sorg. Dit is edel. ’n Mens los tog nie jou familie op straat nie.
Om egter jou bejaarde ouers by jou te laat woon, plaas ’n finansiële verpligting op jou hele gesin. Op jou huweliks- of lewensmaat, maar ook op jou eie kinders.
Wat moet hulle prysgee? Geld vir sportaktiwiteite wat nie daar gaan wees nie? Slaapkamers wat dalk gedeel moet word?
Die perspektief op die sêding “vir solank my ouers leef” verander heeltemal indien een of albei van hulle langer as die kind self leef. Mense gaan nie in volgorde dood nie.
Die kind se man of vrou gaan die verpligting van versorging moet oorneem. Gaan hy of sy daarmee tevrede wees? Tevrede bly?
Wat as ’n nuwe liefde aanklop? Gaan nuwe liefde tevrede wees om ’n inwonende bejaarde te help versorg?
’n Tehuis vir bejaardes?
Dit sal, indien nodig, en na my mening, beter wees om dan vir die bejaarde ouer liewer plek in ’n tehuis vir bejaardes te kry.
Dan is die ouer op sy of haar eie en tussen tydgenote. Hy of sy behou selfrespek en die probleme waarop ek hier bo wys, raak minder.
Maar nie die onderhoudsverpligting nie. Dink, weer: Wat as die eie kind sterf?
Voorstelle
Dié wat nog kan, weet seker nou hulle moet voorsiening maak. Wat van dié vir wie dit te laat is? Wat kan die kind doen om voorsiening te maak?
Maak seker van genoeg lewensversekering. Onthou, die verpligting van jou bejaarde ouer se versorging rus op jou skouers. Moenie dink dit skuif net aan ná jou dood nie.
Maak jou boedel die begunstigde op die polis, of ’n groot deel daarvan, om vir die bejaarde ouer te kan voorsien. Daar is seker niks ergers in die wêreld as swakheid weens bejaardheid en daarmee saam ook nog geld-ellende nie.
’n Kundige finansiële raadgewer kan die berekeninge doen.
Die ander rede vir lewensversekering is om ook geld aan man en kinders na te laat. Selfs al is jy ’n sogenaamde tuisteskepper is daar ’n geldwaarde aan jou bydrae tot die huishouding. Verseker dit.
Demensie
Demensie en Alzheimer se siekte is ’n werklikheid by ouer mense wat nie geïgnoreer kan word nie.
Dit verg byna die voltydse aandag van die versorger. En dit kan ’n lang en uitgerekte siekte wees. Met finansiële gevolge.
En dit bring my by die rede waarom ek aanbeveel dat indien jy die polisvoorstel hier bo oorweeg, jy dit aan jou boedel laat uitbetaal en nie direk aan die bejaarde ouer nie. Mense met hierdie siekte kan nie met geld werk nie.
Die volgende stap is om in jou testament ’n klousule in te bring wat die opbrengs van daardie polis in ’n testamentêre trust sal plaas. Maak jou ma die enigste begunstigde van daardie trust totdat sy sterf en dan kan die geld uitbetaal aan ander begunstigdes soos jy in jou testament bepaal.
As jy lid van ’n pensioenfonds is of ’n uittree-annuïteit (UA) het, kan jy die bejaarde ouer as ’n begunstigde daarop benoem.
Die trustees van die pensioenfonds of UA het in elk geval die laaste sê en jy kan seker wees indien die bejaarde ouer ’n afhanklike is, sal die geld vir sy of haar versorging aangewend word.



