Wie om as eksekuteur aan te wys

Die aanwys van ’n eksekuteur in jou testament lyk dalk na ’n eenvoudige besluit, maar verkeerde keuses kan rampspoedige gevolge hê—en jy sal nie eers daar wees om die chaos te keer nie. Voorkom onnodige konflik en regsprobleme deur nou die regte keuse te maak


Wie om as eksekuteur aan te wys

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  15 Desember 2024

Die aanstel van jou erfgename sal beslis tot groot konflik lei

Ek wil dat ons vandag ’n bietjie stilstaan by ’n vraag wat ek gereeld van lesers kry: Wie moet jy as eksekuteur in jou testament aanstel?

Maar kom ons neem die vraag selfs verder: Wie móés ek aangewys het?

Hy is dan dood. Hy weet nie van die probleme wat hy agtergelaat het nie. Of, ek dink nie so nie. Ek weet mos nog nie wat daar anderkant aangaan nie.

Maar ek kan sien wat hier aangaan. Onmin en chaos.

Ek sien gereeld sommige mense skryf in mediaverklarings dat “die eksekuteur staan (ná jou dood) in jou skoene”. So asof die eksekuteur na jou belange sal omsien.

Dit is snert. Jy het op hierdie aarde nie meer ’n belang nie. Jy moes daarna omgesien het toe jy die tyd daarvoor gehad het.

Die eksekuteur se werk is om die boedel wat jy nagelaat het te administreer. Kragtens jou testamentêre bepalings en kragtens die reg. Niks meer nie, niks minder nie.

Ek kry gereeld briewe van lesers wat kla oor die eksekuteur. Gewoonlik is dit ’n kind, ’n seun of dogter, wat as eksekuteur aangewys is en dan met boedelbates omgaan asof dit hul eie is. Veral waar hulle ook erfgename is. En van eksekuteurs wat weier om inligting oor die boedel aan ander erfgename (in die meeste gevalle ’n tweede vrou wat nie die ma van die eksekuteur is nie) te verskaf.

As jy niks anders vandag uit hierdie rubriek leer of wil leer nie, doen dan net dit: Moenie ’n erfgenaam as eksekuteur aanwys nie. Jy skep probleme. En dit kan so lelik raak dat jy dalk selfs sou wens jy was liewer dood as jy dit sou sien.

Kom ons kyk na ’n paar hofsake

Om my argument te staaf, kyk ons kortliks na twee onlangse hofsake wat tipies is van dit waarteen ek waarsku.

Die eerste is die saak van Brimble-Hannath teen Hannath en andere (2021), waarin die oorledene se vrou (S) ’n aansoek ingedien het om die eksekuteurs van hul pa se boedel (E en C) as eksekuteurs te verwyder.

S het ’n lewenslange reg op die bewoning en gebruik van die woning waarin sy en die oorledene gewoon het uit die boedel verkry. Die restant (alles anders) is bemaak aan ’n trust waarvan die twee dogters sowel trustees as begunstigdes is. Hulle is ook aangestel as eksekuteurs van die boedel.

E en C gaan toe en stel ’n eis in teen die boedel vir R4 miljoen synde glo ’n lening te wees van die trust om die woning ter sprake te koop. S stel toe ’n eis in teen die boedel ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990).

Ek het al voorheen oor hierdie wet geskryf. Dit is die laaste uitweg vir ’n gade wat, sal ons maar sê, “afgeskeep” is met die bemakings in die testament.

Dit is ’n sterk eis. Maar dit word by die eksekuteur van die boedel ingedien. Lesers kan dus dink wat gaan gebeur as die eksekuteur ook ’n erfgenaam is. En in hierdie geval het dit. S is hof toe. En die eksekuteurs is verwyder in hul hoedanigheid as eksekuteurs.

Belangrik is die opmerkings van regter

Die feit dat albei trustees is van die trust wat die restant van die boedel erf en dan ook nog ’n eis instel teen die boedel (waarvan hulle eksekuteurs is), is teenstrydig met hul fidusiêre verpligtinge.

Hierdie saak moes nooit voor die hof gedien het nie as die partye aan albei kante maar net meer konstruktief met die probleme omgegaan het.

Dit was nie ’n boedel met wafferse bates om mee te begin nie en die koste van die hofsaak het die boedelwaarde erg benadeel.

My eie mening is dat dit die gevolg is van swak boedelbeplanning. Niks meer nie. Niks minder nie.

En dan is daar, ook kortliks, die saak van Beukman teen Pieterse en ander (2024).

Die applikant in die saak, SB, die oorledene se oudste seun, het ’n hofaansoek ingedien om die eksekuteurs van sy pa se boedel, L, die pa se lewensmaat, en ene P as eksekuteurs te verwyder.

Ruimte is te beperk om in die verdienste van die saak in te gaan, maar dit het hier gegaan om die benutting van ’n gastehuis. En ’n twis tussen die een erfgenaam en die ander wat ook as eksekuteur aangestel is.

Die eiser het geslaag in sy eis. ’n Kostebevel is uitgereik en die twee eksekuteurs is aangesê om dit uit hul eie sak te betaal.

Weer eens ’n geval van ’n erfgenaam wat as eksekuteur aangewys is.

Ek kry soms die indruk dat mense eksekuteurs aanstel, byna as ’n soort troosgebaar. “Kyk, ek vertrou jou met my goed.”

En nie om die basiese verpligtinge van ’n eksekuteur na te kom nie.

Die fidusiêre verpligting vereis ’n onbevange benadering tot die administrasie van die boedel. Dit vereis ’n hoë etiese standaard wat deurgaans gehandhaaf moet word.

Dit is, na my mening en wat ek telkemale sien, nie moontlik as jy ’n erfgenaam as eksekuteur aanwys nie. Daar is altyd ’n belangebotsing.


Nog raad

Meer oor eksekuteur

In aansluiting by die hoofrubriek kyk ek kortliks na ’n paar relevante punte oor die rol van eksekuteur.

’n Eksekuteur is niemand se “agent” nie. Hy of sy verteenwoordig nóg die erfgename nóg die krediteure van die boedel.

Die eksekuteur volg nie die persoon van die oorledene nie. Die eksekuteur en die oorledene is twee afsonderlike persone.

Die eksekuteur het ’n fidusiêre plig. Hy moet altyd in goeie trou optree. Maar ook binne die wet.

Hy moet ook optree volgens die bepalings in die testament (binne die wet) en kan nie eie besluite neem nie.

Baie belangrik uit vrae wat ek al gekry het:

  • Waar begunstigdes bewus word van wanadministrasie deur die eksekuteur kan hulle slegs ’n eis instel teen hom nadat die likwidasie en distribusierekening blootgelê is vir inspeksie.
  • As die begunstigdes voor die tyd bewus word van wanadministrasie, of nalatigheid, kan hulle die meester van die hof nader en hom versoek om die eksekuteur te verwyder.
  • As die eksekuteur, of ’n mede- eksekuteur, bewustelik bates in die boedel gebruik, anders as tot voordeel van die boedel, moet hy ’n bedrag gelyk aan dubbel die waarde van die bate aan die boedel oorbetaal.
  • Dit is nie die gebruikswaarde nie, dis die waarde van die bate (tensy die meester vrystelling gee).
Scroll to Top