Ons groet – met ’n nuwe begin

’n Einde bring altyd ’n nuwe begin – en so is dit ook met finansiële onafhanklikheid. Soos Rapport oorgaan na ’n nuwe era, is dit die perfekte tyd om jou finansiële doelwitte vir 2025 te stel en seker te maak jy bly in beheer van jou toekoms.


Ons groet – met ’n nuwe begin

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  22 Desember 2024

Maak finansiële onafhanklikheid jou doelwit vir 2025

Die einde van hierdie jaar bring vir ons ook die einde van ’n era. ’n Era wat vir my persoonlik baie beteken het.

Lesers weet teen hierdie tyd dat Rapport in sy gedrukte vorm – die koerant – vandag sy leeftyd afsluit. Vir my het dit ook by ’n keerpunt gebring.

Ek dog eers dit is ’n goeie tyd om saam met die einde van die papiergedrukte koerant sommer ook halt te roep met die rubriek Raad met Jou Rande, wat ek al sedert 1998 skryf.

Maar ek en die redakteur het gesels. Die rubriek is baie gewild.

Ons sal dus in sy nuwe elektroniese vorm met die rubriek voortgaan.

Dit is immers nie Rapport se sterfbed nie. Dit is ’n wedergeboorte om pas te kan hou met die vereistes van ’n nuwe tyd en ’n nuwe uitdaging.

Ek het oor die jare ’n verhouding met lesers opgebou wat ek wil laat voortleef so lank ek kan. Sommige het kliënte geraak. En vriende. Ander kon ek met ’n woord hier of ’n verwysing daar help.

Lesers se briewe het vir my idees vir rubrieke gegee. Omdat ek gereeld moes nalees oor wette en regulasies om lesers te kon help, of om rubrieke te kan skryf, is my parate kennis van die finansiële wêreld gedurig lewend gehou.

Ek het dit baie geniet en hoop om dit vir nog ’n tyd lank te kan doen.

Dit is vir my ’n bietjie swaar om van die papierkoerant afskeid te neem. Ek was immers by met sy geboorte in 1970 toe Die Beeld met Dagbreek en Landstem saamgesmelt het om Rapport te word.

Nie as joernalis nie, maar as fotograaf. ’n Snotkop-laaitie wat net wou foto’s neem vir die koerant. Sonder salaris het ek soggens op kantoor kom sit en wag om op stories uit te gaan. Dit was belangriker vir my om as fotograaf erkenning te kry as om ’n salaris verdien.

So het ons saam gegroei

Ná ’n hele paar jaar in die polisiemag is ek terug koerante toe. As fotograaf. My polisiematriek wou maar net nie die deur oopmaak om ’n verslaggewer te kon word nie. Tot eendag (by Die Burger) toe ek op eie inisiatief ’n storie skryf en dit verskyn op die voorblad. ’n Hele enkelkolom wyd en so 10 cm diep.

Dit was die begin. Ek was joernalis. Of só het my ego my laat verstaan.

Jare se deeltydse studie het gevolg. En later ’n pos as joernalis by Rapport. Nog later, toe ek so ’n bietjie van ’n naam begin kry het, het ek by Sanlam se mediaskakelafdeling ingeval en het ek die wêreld van finansies ontdek. Nóg verdere studie het gevolg, terwyl ek oor naweke steeds by Rapport se Kaapstadse kantoor uitgehelp het met subredakteurswerk.

In 1998 het Rapport my gevra om hierdie rubriek te skryf. Elke Sondag. Tot vandag toe nog.

Dit maar die geskiedenis van hierdie rubriek en hoe my eie pad saam met Rapport geloop het. Alles om my te bring by vandag se eintlike boodskap.

Hierdie jaar is vir ons verby. Die toekoms lê en wag. Ons is mos in die tyd van die jaar waar Nuwejaarsvoornemens geneem word. Moenie dat joune saam met die Oujaarson sak nie.

Jy kan enigiets bereik wat jy wil

Dit neem net die moed van jou oortuiging, fokus op wat nodig is en volhard daarin.

Stel vir jouself finansiële doelwitte. Nee, nie om ryk te word nie. Haalbare doelwitte. Geluk is belangriker as groot rykdom.

Doen die beste wat jy kan met wat jy het. Al beteken dit dat jy soms “sonder salaris moet werk” om jou ideale te verwesenlik. Doen dit.

Vermy die dinge wat jou aandag aflei. As jy dit toelaat, gaan dit later jou pad vir jou bestuur en jy verloor beheer. Soos om te veel skuld aan te gaan om dinge te bekom wat jy nie werklik nodig het nie.

Skuld is sweerlik die grootste enkele slaggat om jou finansiële drome te kan verwesenlik. Dit is die maklike uitweg waarmee jy jouself kan paai, wanneer die bult na werklike finansiële sukses te steil raak.

Moenie in daardie versoeking kom nie. Dit kan baie maklik die spiraal wees na ’n diep gat van finansiële ellende waaruit baie mense net nooit die lig sien nie.

Skuld, of dan om al jou geld uit te gee, is die grootste enkele oorsaak vir finansiële ellende. Nie net vir jou nie, maar ook vir die mense na aan jou. Dit lei daartoe dat jy in ’n verleentheid is die dag wat jy aftree. Dat jy op ander (kinders) aangewese gaan wees vir verblyf en selfs onderhoud. Dit lei daartoe dat as jy die dag jou kop neerlê daar nie genoeg geld is om jou verpligtinge teenoor gade en kinders na te kom nie – en hulle sit met jou skuldprobleem.

Skuld kan maak dat boedels nie afgehandel word nie. Eenvoudig omdat daar nie genoeg geld is nie.

Maak dit ’n Nuwejaarsvoorneme. Ek wil finansieel onafhanklik wees. Ek wil my eie geldbaas wees. Ek wil nie ander in die oë kyk nie.

Net soos die papierkoerant se dae verby is, is die jaar verby. Die tyd vorentoe is nie verby nie.

Jy kan nog beheer oorneem. Doen dit.


Nog raad

2025 – droom jy van ’n eie saak?

Hoe lyk jou Nuwejaarsvoorneme? Droom jy van ’n eie saak? Hou op droom. Maak werk daarvan. Só doen jy dit:

Begin

Moenie wag nie. Begin. As jy bang is jy gaan finansieel sukkel, begin dan sommer terwyl jy ’n ander inkomste het. Fokus op die werk, op dit wat jy kan bied en nie op die geld wat jy nog gaan verdien nie.

Skuld

Skuld bring nie geldverligting nie. Skuld bring gelddruk. Met ’n eie saak loop jy ’n groot addisionele risiko as jy met ’n skuldlas sukkel. Moenie dat skuldverpligtinge die rede wees waarom jy misluk nie.

Die somme

Beplan jou geldsake vooruit. Stel ’n begroting op. Hoeveel is nodig om van te lewe? Besnoei waar jy kan, nie waar jy moet nie.

Ken jou mense in die besluit en praat die moontlike gevolge deur as dinge nie dadelik uitwerk nie, sodat almal verstaan. Dan kan daar nie verwyte wees nie, eerder begrip en ondersteuning – twee van die kernpilare vir ’n beginner.

Geduld

Rome is nie in ’n dag gebou nie. Dit neem so drie jaar vir ’n saak om te wys hy is volhoubaar. Daar kan tye wees waarin jy nie geld verdien nie. Byt vas.

Scroll to Top