Moet jy jou geld nou al weggee of eerder bemaak? Slim boedelbeplanning kan jou help om belasting te minimaliseer en jou hardverdiende rykdom vir jou geliefdes te bewaar
Moet ek my geld bemaak of nou al skenk?
Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake • 19 Januarie 2025
Wat kan ons as gewone, spaargedrewe sterflinge doen om die vruggies van ons arbeid nie onnodig aan belasting bloot te stel nie, vra Nico van Gijsen.
Kort ná die begin van die nuwe jaar lees ek dat Suid-Afrika ses dollar-miljardêrs het. En die afgelope week kom daar toe nog een by.
Dit, liewe lesers, is ryk. Gemeet nogal in dollars, nie rande nie. Stinkryk.
En, lees ek verder, hul rykdom het onderskeidelik in 2024 met miljarde rande toegeneem.
Ons los maar die name van die sewe rykes. Lesers wat belangstel, kan dit gaan google.
Ek lees wel dat die maatstaf vir die bepaling van hierdie mense se rykdom hul onderskeie “netto batewaarde” is.
My mening?
Ek glo nie iemand met daardie rykdom hou al sy bates in sy eie naam nie.
Ek glo hulle beheer bates van miljarde dollars. Maar dat dit deel van hul individuele netto batewaarde is, betwyfel ek baie sterk.
As dit waar sou wees, neem gerus kennis, Jan Taks. Jy kan solank jou lippe aflek vir die miljarde rande se kapitaalwins- en boedelbelasting die dag wanneer die ouens die emmer skop.
Maar ek glo daar is lankal daaraan gedink en daar is strukture opgerig – baie komplekse strukture – wat die uitgebreide bates sal beskerm. In die vorm van netto batewaarde is hul rykdom nie.
Boedelbeplanning
Ek kyk kortliks na wat die rykes doen om hul welvaart te beskerm en wat ons as gewone spaargedrewe sterflinge kan doen om die vruggies van ons arbeid te beskerm, te groei en nie onnodig aan belasting bloot te stel nie.
Die sleutelwoord is boedelbeplanning.
Die beginsel van boedelbeplanning is die skep van welvaart, die benutting van daardie welvaart en die beskerming daarvan vir jou naasbestaandes. Daar is baie onderafdelings wat die geheel van boedelbeplanning help vorm, maar dit is die vertrekpunt.
Een van die maniere om belasting te beperk, is om min te hê. Moenie ryk wees nie. Gee jou geld en goed weg.
Maar jy het daarvoor gewerk, dit gaan mos dom wees.
Dit is juis die ding. Jy wil die voordeel van die goed en die geld hê sonder om die goed of geld te besit.
Byvoorbeeld, deur die maksimum te spaar in ’n uittree-annuïteit is die geld uit jou boedel vir boedelbelasting en jy betaal geen belasting op die groei nie. Dit nadat die premie wat jy gespaar het, ook reeds aftrekbaar was.
Jy kan ’n deel van jou bates aan jou vrou skenk (as jy die man is met die welvaartskeppende voordeel) sodat sy, wat ’n mindere of geen inkomste het nie, teen ’n laer koers belas word.
En hoop dan sy bly lief vir jou.
Jy kan dit onder jou kinders verdeel. En hoop hulle gaan mors dit nie uit en jy eindig in finansiële ellende nie.
Of jy kan gebruik maak van ’n inter vivos-trust (in lewe).
Trusts
Jy kan alles hier bo regkry deur die bates na ’n trust oor te dra. Die vrou en kinders kan voordeel trek en jy ook. Dit terwyl jy die belasting op inkomste in die trust tussen julle kan verdeel en só uiteindelik minder belasting in totaal afstaan.
Ja, daar is wetgewing geskep wat die misbruik van hierdie voordele inkort. Dis een van die redes waarom ek so sterk voel teen die aanwending van trusts om verkeerde redes.
Trustbates val normaalweg nie in jou boedel nie. En dit is omdat trustbates nie joune is nie. Dit behoort aan die trust. Dit word namens die trust bestuur deur trustees tot voordeel van die begunstigdes.
As jy dit oorweeg om ’n trust te gebruik in jou boedelbeplanning, moet jy aanvaar dat jy nie meer ’n sê oor die bates het nie. Nie as jy die voordele van die trust wil geniet nie.
Sou jy wel seggenskap behou oor die trustbates en dit tot jou voordeel kan aanwend, is die kans baie goed dat daardie bates as jou bates beskou kan word vir byvoorbeeld kapitaalwins- en boedelbelasting.
Pasop vir dié een. Dit is die trustprobleem wat byna almal pootjie.
Maatskappye
Die heel rykes – soos die mense na wie ek hier bo verwys – maak ook gebruik van maatskappye om hul ondernemings te bestuur.
Om bates in ’n maatskappy te hou, ondanks die stories wat soms om braaivleisvure vertel word, beteken nie die bate is uit jou boedel nie. Die bate self is, ja.
Maar jou aandele in die maatskappy is ’n bate en soos wat die maatskappy in waarde toeneem, só neem jou aandele se waarde toe en só neem jou netto batewaarde toe. En Jan Taks wag.
As die maatskappy egter deur die trust besit word, kan dit in ’n mate voorkom word omdat die waarde-toename in die trust plaasvind.
Sommige meen dit is ’n goeie manier om beheer oor bates te behou, want die direkteur van ’n maatskappy is nie onderhewig aan dieselfde fidusiêre en etiese vereistes as die trustee van ’n trust nie.
Maar jy kan die pot mis sit. Beheer oor die bates in ’n maatskappy wat deur die trust besit word, kan eweneens daardie batewaarde in jou boedel laat beland.
Dis baie kortliks van die tegnieke wat gebruik kan word om welvaart te beskerm. Maar daar is baie slaggate.
Kry kundige finansiële raad voordat jy enigiets aanvang.
Nog Raad
Skenk soms beter as bemaak
’n Vraag wat ek gereeld van lesers kry, is: Bemaak ek aan my kind wanneer ek sterf of skenk ek dit nou?
Die vraag gaan oor belasting.
Uit ’n suiwer belastinghoek gesien: Dit kan goedkoper wees om te skenk as om te bemaak.
Op ’n skenking onder R30 miljoen is die skenkingsbelastingkoers 20%. Dieselfde koers geld boedelbelasting op boedelbates onder R30 miljoen. Bo die bedrag is die belastingkoers 25%.
Maar 20% belasting is nie dieselfde in albei gevalle nie.
Ons los maar die skenkingsbelastingvrystelling (R100 000 per jaar) en aanvaar dat boedelbelasting wel betaalbaar gaan wees in jou boedel (ná die R3,5 miljoen-vrystelling).
Kom ons sê jy wil jou kind R1 miljoen gee. Die belasting wat jy daarop gaan betaal, is R200 000. Dus 20% van die skenkingsbedrag.
Bemaak jy aan jou kind R1 miljoen uit jou boedel ná boedelbelasting, is belasting van R250 000 betaalbaar.
Dit is 25% van die bedrag wat bemaak word.
Dit is weens die manier waarop die belasting bereken word. Met geskenkebelasting word die belasting gehef op die bedrag wat geskenk word.
Met boedelbelasting word die belasting eers afgetrek en dit wat oorbly, is wat die kind gaan kry.



