Trump-tariewe: Moet nie nou kop verloor nie

In ’n wêreld waar markte oornag tuimel en ekonomiese voorspellings net so vinnig verander soos Trump se tariewe, is paniek jou grootste vyand. Hierdie artikel wys hoe ’n koelkopbenadering nie net jou belegging kan red nie, maar dalk selfs geleenthede kan ontbloot te midde van die chaos.


Trump-tariewe: Moet nie nou kop verloor nie

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  13 April 2025

Nie almal word op dieselfde manier geraak deur faktore wat ’n rol speel in markbewegings en die ekonomie nie, skryf Nico van Gijsen.

Beleggingsmarkte oor die wêreld heen het die afgelope week omtrent die aapstuipe gekry toe pres. Donald Trump van Amerika sy dreigement oor invoertariewe tot uitvoer gebring het.

Aandelemarkte wêreldwyd het Maandag erg in die rooi getuimel.

Ekonome, sien ons op die nuus, verwag hoë inflasie in Amerika. Sommige dink aan ’n moontlik wêreldwye resessie. Werkloosheid is op pad en belastings gaan verhoog, hoor ons.

Teen Dinsdag het baie markte oor die wêreld heen al weer ’n groen grafiek boontoe begin wys.

Teen Woensdag was veral die Chinese markte weer diep in die rooi nadat Trump verhoogde tariewe van 104% op hulle laat neerdaal het.

Wat dit aan ons wys, is hoe sensitief die mark is vir enigiets anders as “normaal”.

En dit laat mense vra: Wat doen ek? Moet ek my geld skuif? Waarheen?

Die belangrike punt om te verstaan, is dat nie almal se behoeftes en vermoëns dieselfde is nie.

Hier is voorbeelde.

Die wisselkoers

Iemand laat my vandeesweek weet dat die rand sowat 5% in waarde teenoor die dollar verloor het. Om ’n politieke punt te maak, glo ek.

Ja, dit beteken dat alles wat ons uit Amerika aankoop, nou 5% duurder is. Maar daar is ook ’n ander waarheid.

Diegene wat geld in Amerikaanse dollar belê, het eensklaps groei van 5% op hul belegging gekry. So moenie te suur wees nie.

En dan is daar uitvoer. Boere wat byvoorbeeld vrugte uitvoer, kry ook 5% meer.

Daar is altyd meer in ’n krisis. Dis onnodig om ’n beklemming om die hart te kry as iets verander.

Hou jou oë oop vir geleenthede.

Rentekoerse

En dan is daar rentekoerse. Daal rentekoerse, is diegene met skuld tog te bly. Hulle betaal dan minder af op hul skuld. Of maak nog skuld. En help inflasie aan, waaroor almal dan ongelukkig is.

Vir baie afgetredenes is ’n verlaging in rentekoerse nie so goed nie; hulle kry dan ’n laer opbrengs waarvan hulle moet leef.

Dis maar net ’n paar los gedagtes om te wys dat nie almal op dieselfde manier geraak word deur faktore wat ’n rol speel in markbewegings en die ekonomie nie.

Bly kalm

My raad is om nie nou kop te verloor nie. Bly kalm. Trump se tariewe is nie die einde van die wêreld nie.

Deur nou koelkop te bly, kan jy keer dat jou spaargeld met net ’n spreekwoordelike pilletjie of ’n stropie weer op koers gaan kom, pleks van ’n lang besoek in die waakeenheid. Of erger, die begraafplaas.

Moet jou nie nou steur aan beleggingsvoorstelle om die gevolge van die tariewe of die ietwat hoër wisselkoers teen te werk nie. Wat daar is, is reeds daar. Dis nou te laat.

Paniek lei tot emosionele besluite. As jy met geld werk, is dit fataal.

As jy goeie finansiële raad gekry het en jou beleggingsportefeulje is saamgestel vir die lang termyn en dis goed gediversifiseer, moenie nou daaraan krap nie.

Vermy in dié stadium “herposisionering”. Jy kan ’n ligte verkoue in longontsteking omskep of selfs dodelik maak.

Effektetrustfondse

Ek wil nie hier ’n debat begin oor die voor- of nadele van passiewe indeksfondse teenoor bestuurde fondse nie.

Daar is genoeg daarvan in die media vir dié wat daaroor wil lees. Meestal afkomstig uit die bemarkingsafdelings van wie ook al die tersaaklike fonds bestuur.

Die punt wat ek wil maak, is dat ek maar te bly is dat my eie geld en die geld van my kliënte in bestuurde effektetrustfondse belê is.

Ons het almal so ’n ligte klap van die mark gekry, maar dis hanteerbaar. Ons moet so nou en dan verwag om ’n bietjie te laat glip. Dis normaal.

Dis die indeksfondse wat baie keer die seerste kry in krisisse soos dít. As die indeks val, soos ons nou sien, dan val jou totale beleggingswaarde. En jy kan niks daaraan doen nie.

Baie keer is die groei in indeksfondse ook maar bloot te danke aan die groei van ’n stuk of 10 aandele in daardie indeks. Nie al die aandele in die indeks nie. Dit verhoog jou risiko.

Met ’n belegging in effektetrustfondse het jy ’n fondsbestuurder wat aandele koop en verkoop, gewoonlik binne ’n mandaat van die batebestuursmaatskappy. Daar is beweeglikheid, die fondsbestuurder is nie gebind aan ’n indeks nie.

Ja, soms as ’n mens opbrengste vergelyk, lyk die een beter en volgende keer lyk die ander weer meer rooskleurig.

Maar een ding weet ek: Die indeksfonds kan nooit die indeks klop nie. Jy kan nie eens dieselfde opbrengs kry nie, want daar is koste wat verhaal word.

Nietemin, ek wil nie die een bo die ander stel nie. Dis net in tye soos dié dat ek liewer ’n fondsbestuurder wil hê wat kan skuiwe doen eerder as om passief toe te kyk hoe my geld deur die Trumps van die wêreld bestuur word.

Om op te som wat die twee soorte fondse betref, meen ek daar is plek vir albei in ’n beleggingsportefeulje. Maar dan ook net enkeles wat ek sal aanbeveel.

Uiteindelik is my boodskap vandag eintlik: Doen liewer niks as wat jy nou jou beleggingsamestelling gaan verander. As jy vir die lang termyn belê het, dink lang termyn.

Scroll to Top