Moenie die mark probeer ‘speel’ nie

Jy mag dalk dink jy kan die mark uitoorlê, maar die waarheid is dat dié speletjie jou net geld gaan kos. Leer eerder hoe om jou beleggingsrisiko slim te bestuur en bly weg van die lokval van verlede jaar se “wenfondse.”


Moenie die mark probeer ‘speel’ nie

Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake  •  09 Februarie 2025

Volg dié wenke om jou beleggingsrisiko te bestuur

Ek het verlede week hier gewaarsku teen die najaag van beleggingsfondse op grond van hoë opbrengste die vorige jaar.

Dit kan jou beleggingsrisiko verhoog.

Jy kan dalk besig wees om een van die grootste beleggingsondes te pleeg – jy koop wanneer die mark (of dan daardie fonds) hoog is.

En hier is nou ’n feit soos ’n koei: Mense wat só redeneer oor beleggings, is gewoonlik ook dieselfde mense wat wanneer die mark geval het (en hy gaan val), kwaad word vir wie ook al hulle kan kwaad word behalwe hulself en dan daardie fondse verkoop. En hul (minder) geld herbelê in die toppresteerder van verlede jaar.

Ek hoor nou die dag van iemand wat ’n paar jaar lank by sy bure loop en vertel het van die wonderlike opbrengs wat hy kry. Glo ’n hele paar miljoen rand ryker geword. Hy wou aan al die bure klasgee in beleggingspraktyk.

Dit was skaars ’n oogknip later toe het hy niks. Hy moes selfs sy huis verkoop.

In ’n neutedop is dit die kern van baie mense se probleme.

Dis die klassieke ou storie van mense wat dink hulle weet, maar weet eintlik nie, wat luister waar hulle nie moet luister nie, wat alles vir soetkoek opeet wat aan sekere media verskaf word deur die woordvoerders van die groot beleggingshuise.

Gaan lees maar weer verlede week se rubriek.

Jeremia het genoeg klaagliedere geskryf. Ek los eers en kyk na wenke oor hoe om jou risiko te bestuur – die ander risiko’s.

 2025 – wat kan jy verwag

 Laat ek in die kristalbal kyk na wat die toekoms inhou.

Of kom ons kyk eerder na hoe ’n paar gerekende fondsbestuurders met wie ek gereeld gesels, die toekoms voorspel, asook hul verwagtinge vir die beleggingsgroei.

Maak gereed vir ’n wipplankrit. Daar is baie onsekerheid in die wêreld en hier om ons. Vrees vir ’n wêreldwye verlangsaming oorheers die opgewondenheid oor inflasie wat ’n bietjie afgekoel het.

Bekommernis oor ’n “harde landing” is wel ietwat laer, hoewel die gefluister oor resessies wat op pad is, meer hoorbaar word.

Terloops, “harde landing” beteken ’n “regstelling” in die mark. Dis wanneer die mark tuimel en daardie hoë opbrengsfondse van verlede jaar en die jaar voor dit op hul plek gesit word. Reggestel word.

My boodskap?

Moenie vrees nie. Wees bewus van die omstandighede en kyk verder as verlede jaar se “wenfondse” as jy wil hê jou geld moenie te veel “reggestel” word nie.

Beplan jou beleggings

 Die skep van welvaart is ’n reis wat jy onderneem. Jy is eenvoudig nie die een oomblik hier en die volgende oomblik by jou bestemming nie.

Dít gebeur net in droomland.

Droom van groot rykdom gaan jou nêrens bring nie. Jy moet beplan.

Hier volg nog ’n paar wenke:

  • Kry kundige finansiële raad. Jy kan so slim en boekgeleerd wees soos jy wil, maar as jy nie opleiding en kundigheid het oor finansiële beplanning nie, is die kans baie goed dat jy aan die kortste ent gaan trek.
  • Dit is baie maklik om jou beleggings self te doen oor die internet, maar as jy nie weet waarheen en waarmee nie, is die kans baie goed dat jy êrens langs jou welvaartpad gaan verdwaal.
  • Jou vermoë (beskikbare geld), jou tydhorison (soos jou ouderdom), jou persoonlike omstandighede (huishoudelik en beroep), jou finansiële behoeftes (is dit vir aftrede of ’n oorsese vakansie?), alles speel ’n rol in jou besluitneming oor hoeveel, wat en waar.
  • Kyk na jou finansiële risiko’s. Het jy verpligtinge teenoor jou gesin? Is hulle versorg as jy sou wegval lank voordat jy ryk geword het van al die spaar? Het jy skuld? Skuld is duur. Dit is beter om eers skuld af te los. Kyk na die belastings rondom jou belegging. Dit kan jou beleggingsgroei nogal skade aandoen.
  • Diversifiseer. Dit bring my terug by die punt hierbo en verlede week oor die fokus op die wenfondse van die verlede. Al jou geld in een of twee fondse is bitter swak beleggingsdissipline. Versprei jou risiko, belê in meer as een fonds. In fondse wat nie korreleer nie. Jy wil nie dat alles saam tuimel wanneer die “regstelling” kom nie – en dit gaan kom.
  • Emosie. Hou emosie uit jou beleggingsbesluite. Dit is een van die redes waarom ek altyd ’n kundige finansiële raadgewer sal aanbeveel. ’n Mens sien nie jou eie emosies raak nie. Geld dryf emosie, glo my. Emosie sal selfs die mees onnosele geldbesluit regverdig. Moenie in dié slaggat trap nie.
  • Politiek. Veral ons Suid-Afrikaners (sommige van ons) is lief om alles aan politiek te wil koppel. Net omdat ons (ek en baie ander) nie so dol is oor die korrupte spul ANC-kaders wat ons land besteel nie, beteken nie ons moet ons oë toemaak vir die mooi en die goeie in ons land nie. En hier is heelwat groeigeleentheid vir diegene wat net hul oë wil oopmaak.
  • En ’n laaste wenk, wat seker alles wat ek hier en verlede week geskryf het, in een sin saamvat: Moenie die mark probeer “speel” nie. Niemand kry dit lank genoeg reg om net die groeijare te vang en die “verloorjare” te systap nie.

Nog Raad

Verhuring van eiendom – die belasting

Baie mense belê in residensiële eiendom om welvaart te skep.

Ek kyk kortliks na hoe werk die belasting op hierdie inkomste.

Belasting word volgens die heersende belastingskaal bereken. Die huurgeld word bygetel by jou ander inkomste vir die jaar (byvoorbeeld ’n salaris of pensioen) en dan saam belas. Die belasting is betaalbaar in die jaar waarin die inkomste verdien word.

Sou jy ’n deposito neem, is hierdie deposito uitgesluit van jou belasbare inkomste.

Maar net as dit gehou word om later weer terugbetaal te word aan die huurder. Indien nie, moet dit ingebring word by jou inkomste vir die jaar en is dit dan belasbaar.

Wat van belastingaftrekkings?

Hier is die alfa en omega van inkomstebelasting. Verstaan dit en jy verstaan inkomstebelasting.

Slegs uitgawes aangegaan in die verdien van inkomste word toegelaat as ’n aftrekking. Die uitgawes moet in die geval van verhuring aangegaan word in die tyd dat die eiendom verhuur word.

Die aftrekkings sluit in diensgelde en erfbelasting, verbandrente, advertensies en agentskaptariewe of eiendomsagente.

Die koste van huisverbeteringe of aanbouings is nie aftrekbaar vir inkomstebelasting nie. Dit kan wel bygetel word by die basiskoste van die eiendom vir die berekening van kapitaalwinsbelasting by die verkoop van die eiendom.

Scroll to Top