Wil jy weet hoe om jou spaargeld se groei te beskerm teen die taks-wolf wat altyd om die hoek loer? Ontdek hoe slim beplanning jou kan help om die taks-wolf op afstand te hou — en dalk selfs ’n belastingvrye pensioen ná aftrede te geniet.
Hou só die taks-wolf weg van jou groei
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 19 Oktober 2025
Wie sal nie opgewonde raak by die gedagte aan ’n belastingvrye pensioen ná aftrede nie? Dit is moontlik. Met dissipline, skryf Nico van Gijsen.
Ek kyk vandag na ’n interessante vraag waarin ek my die afgelope week vasgeloop het: Hoe spaar jy en systap belasting op groei?
Ons ken almal die storie: Jy betaal belasting op jou inkomste. Dan belê jy ’n deel daarvan, soos ’n verantwoordelike mens behoort te doen, sodat jy nie afhanklik word van ander nie. En dan word jy nog op die beleggingsgroei ook belas.
By dood, nadat jy reeds tot in die grond in belas is, wag boedelbelasting ook nog op dié geld.
Maar daar is maniere om belasting op jou beleggings te beperk.
Belastingvrye spaar
Die een wat onmiddellik na vore kom, is om in die belastingvrye spaarproduk te belê. Maar regtig, is dit die moeite werd?
Jy is beperk tot R500 000 wat jy kan spaar oor ’n leeftyd teen ’n maksimum van R36 000 per jaar.
Jy spaar met ná-belaste geld. Dit is nadat Jan Taks eers inkomstebelasting daarop gehef het. Die groei op jou belegging is weliswaar belastingvry.
Maar jy het in elk geval ’n jaarlikse rentevrystelling op beleggingsgroei van R23 800 as jy onder 65 jaar oud is en R34 500 as jy ouer is. En jy het ’n jaarlikse uitsluiting van R40 000 op kapitaalwins.
By dood val die totale bedrag gespaar in jou boedel vir boedelbelasting. Gebruik dié produk, maar regtig, dit is niks om oor opgewonde te raak nie.
Polisspaar
Jy kan spaar in ’n polisbelegging.
Die vereiste is dat jy vir ’n minimum termyn van vyf jaar sal spaar sodat jy die belastingvoordele van die polis kan benut.
En dit is: Jy betaal inkomstebelasting teen net 30% op rente- en huurinkomste teenoor andersins jou marginale koers, wat tot 45% kan wees. Jou kapitaalwinsbelasting is beperk tot 12%, waar dit andersins tot 18% kan wees.
Jou rentevrystelling en kapitaalwinsuitsluiting waarna ek hier bo verwys, val weg omdat die belasting in die polis gehef word en nie in jou naam nie. As dit dus net gaan om belasting, kyk tog na die volledige prentjie voordat jy besluit.
As jy spaargeld in ’n trust bestuur, is ’n polisbelegging die enigste sinvolle opsie. Anders betaal die trust inkomstebelasting teen ’n vaste koers van 45% (teenoor 30%) en kapitaalwinsbelasting teen ’n allemintige 36% (teenoor 12%) as die geld in die trust gehou word en nie aan ’n begunstigde uitkeer nie.
Uittree-annuïteite en belasting
Elke leser, glo ek, weet van uittree-annuïteite (UA’s). Baie van dié “weet” is ongelukkig gegrond op mites of sommer net ondeurdagte snert.
Kom ons kyk.
’n UA is die enigste spaarmedium waar jy jou bydraes, dit wat jy maandeliks of jaarliks spaar, van jou inkomste kan aftrek. Dit is dus vrygestel van inkomstebelasting en wel tot ’n maksimum van R350 000, of 27,5% van jou inkomste, welke een die laagste is.
Dis ’n aansienlike besparing. As jou belastingkoers 35% is, spaar jy effektief R65 van jou eie geld en Jan Taks dra R35 daartoe by vir elke R100-voordeel wat jy kry.
Al die groei in jou UA is belastingvry. Jy betaal nie inkomstebelasting op die rente verdien, kapitaalwins- of dividendbelasting nie.
En by dood is die geld gespaar in ’n UA boonop nie vatbaar vir boedelbelasting nie.
As jy meer gespaar het as wat jy vir inkomstebelasting kon aftrek, is die deel wat jy nie kon aftrek nie, wel vatbaar vir boedelbelasting.
Maar daar is nog.
Belastingvrye pensioen met ’n UA
Wie sal nie opgewonde raak by die gedagte aan ’n belastingvrye pensioen ná aftrede nie?
Dit is moontlik. Met dissipline.
Diegene met groot bedrae geld op belegging of wat dalk bates, byvoorbeeld ’n huis, verkoop het en met ’n klomp geld sit, kan dit gerus oorweeg om ’n groot deel daarvan in ’n UA te belê.
Jy sal nie in so ’n geval jou bydrae tot die UA vir inkomstebelasting kan aftrek nie. Maar jy systap onmiddellik die belasting op die groei op jou belegging, soos waarna ek hier bo verwys. Oor tyd kan dit aansienlik wees.
Ná aftrede uit die UA moet jy ’n pensioen aankoop. Die pensioen is normaalweg belasbaar as inkomste.
Uit die deel van jou bydraes waarop jy nie die inkomstebelasting-aftrekking kon kry nie (omdat jy mos beperk was tot R350 000 per jaar), kan jy nou ’n belastingvrye pensioen onttrek. Terwyl die res van jou kapitaal steeds belastingvry groei.
Kom ons dink nog ’n bietjie breër.
As jy getroud is of saamwoon en jou wederhelf is primêr ’n tuisteskepper terwyl jy die pot aan die kook hou, kan jy vir hom of haar geld in ’n UA belê.
Geskenkebelasting is nie ter sprake nie. En só bou hy of sy ’n eie neseier vir aftrede in ’n belastingvrye belegging. En by aftrede kan sy of hy ’n lekker belastingvrye pensioen onttrek, aangesien die bydraes mos nie aftrekbaar was nie.
Met dié plan kan jy selfs jou eie ná-aftrede-inkomstebelasting verminder.
Wat nou van boedelbelasting?
Die deel wat jy tot ’n UA bydra en wat meer is as wat jy vir inkomstebelasting kon aftrek, val in jou boedel (of in die boedel van jou wederhelf) vir boedelbelasting.
Dié geld sou in elk geval vatbaar wees vir boedelbelasting. Intussen het jy darem belastingvrye groei daarop gehad.



