Pasop vir slang in die gras met boedelbelasting

Dis maklik om te dink ’n lewenspolis is ’n eenvoudige geskenk aan jou geliefdes — maar daar kan ’n gevaarlike slang in die gras skuil. Lees verder om te ontdek hoe boedelbelasting jou goedbedoelde planne kan byt en wat jy nou kan doen om dit te voorkom.


Pasop vir slang in die gras met boedelbelasting

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  12 Oktober 2025

Kyk mooi waar die slang in die boedelbelasting-gras lê wanneer jy ’n lewenspolis aan iemand begunstig, skryf Nico van Gijsen.

In my rubriek hier verlede Sondag, “Met lewensversekering eer jy jou geliefdes”, het ek gefokus op die plek, of doel, van lewensversekering in jou finansiële beplanning. Vandag wil ek stilstaan by ’n paar praktiese oorwegings en gevolge van lewenspolisse.

Laat ek sommer wegspring en ’n mite oor lewenspolisse die nek inslaan. Die opbrengs van ’n lewenspolis op jou lewe word in berekening gebring vir boedelbelasting in jou boedel, al betaal dit direk aan ’n begunstigde uit. Moenie dat enigeen jou anders vertel nie.

Hier is ’n paar belangrike punte rakende lewenspolisse wat goed is om van kennis te neem.

Lewensdekking – hoeveel is genoeg?

Lewensdekking is nie iets wat jy koop omdat die smous ’n gladdebek het nie. Of omdat jy voel jy moet dit hê, want “almal moet tog ’n lewenspolis hê” nie.

’n Lewenspolis, ingesluit ander risikopolisse, soos ongeskiktheids- en gevreesdesiektepolisse, het ’n sekere doel in jou algehele finansiële beplanning. Dit moet voorsien as jy nie meer kan nie.

Logies sou dit dus tog vir ’n mens sê as jy te min lewensdekking het, kan jou geliefdes daaronder ly, soos wat ek verlede week hier geskryf het. Maar as jy te veel lewensdekking het, gee jy onnodig geld uit. Ek het egter nog nooit gehoor van iemand wat gehuil het oor te veel erfgeld nie.

Doen behoorlike finansiële beplanning. Die somme sal vir jou wys hoeveel nodig is. En jy sal sommer ook weet oor hoeveel jy moet spaar vir aftrede, ensovoorts.

Begin deur in ag te neem vir wie se onderhoud jy verantwoordelik is. Dit kan vir daardie persoon lewenslank wees, byvoorbeeld ’n oorlewende gade, of vir ’n termyn, byvoorbeeld ’n jong kind wat versorg moet word en dalk nog moet gaan studeer.

Dink. Doen die somme. Moenie net koop nie.

Die premies op ’n lewenspolis

Die kernboodskap vir hierdie onderafdeling is: Pasop vir goedkoop premies.

Al ons versekeraars bedryf hul sake in dieselfde sosio-ekonomiese omgewing. Die risiko is vir almal dieselfde. As die premies baie laer is by een as by ’n ander, moet ’n mens vra: Hoekom?

Wat is uitgesluit? Waarvoor en wanneer gaan die polis nie uitbetaal nie?

Dit is die eerste ding waarna jy moet kyk. Soek dit in die kleinskrif. Daar waar niemand lees nie.

Soms kan premies baie laag begin. Maar styg dan jaarliks. Kyk na die premiepatrone. Sommige styg met sê maar ’n vaste 5% per jaar, ander is ouderdomsverwant, wat ’n hoër jaarlikse styging is. Ek het ook al gesien dat premies ná ’n sekere periode sommer met inflasie plus 10% kan styg.

My voorstel?

Jonger mense? Kies ’n gelykblywende premie, want jy is verlos van stygings. Ouer mense? Jy kan ’n 5%-styging jaarliks oorweeg, nie meer nie.

Sonder mediese onderskrywing?

Ek sien deesdae advertensies wat versekering aanbied sonder mediese onderskrywing.

Daarin lê vir jou ’n groot risiko. Sulke polisse word onderskryf wanneer daar geëis word. Hoe? Deur met ’n fyn bril deur jou antwoorde op die mediese vraelys te kyk. Het jy nie dalk êrens ’n kortpad met die waarheid geloop nie? En dit kan daartoe lei dat daar geen uitbetaling is nie.

My raad is: Laat die versekeraar jou medies laat ondersoek. Dan is die risiko op hom.

Lewenspolisse en belasting

’n Lewenspolis betaal belastingvry uit aan die begunstigde.

Art. 3 (3)(a) van die Boedelbelastingwet (45 van 1955) bring egter die polisopbrengs in as “geagte eiendom” vir die berekening van boedelbelasting.

Goed, nou weet ons dit. Maar wie betaal die boedelbelasting as daar is? En wat is die gevolge vir ander erfgename?

Die polisbegunstigde betaal pro rata die deel van die boedelbelasting wat deur die polisopbrengs in die boedel ingebring is.

En dit is hier waar die slang in die boedelbelasting-gras lê.

’n Voorbeeld

Pa het bates van R3,5 miljoen (ná boedelaftrekkings, soos skuld en sterfbedkoste, en bemakings aan sy vrou) wat hy aan sy twee dogters bemaak. Aan sy seun begunstig hy ’n polis van R2 miljoen.

As ons die polis buite rekening laat, is daar geen boedelbelasting betaalbaar nie. Die netto boedelwaarde aan die dogters is R3,5 miljoen, die boedelbelastingvrystelling is R3,5 miljoen en die belasbare boedel is dus R0.

Maar met die polisopbrengs ingesluit as geagte bate, is die netto boedelwaarde nou R5,5 miljoen. Die belasbare boedel is dus R2 miljoen (R5,5 miljoen minus R3,5 miljoen) en die belasting daarop (20%) is R400 000.

Omdat die seun (op die polisopbrengs) net pro rata ’n deel van die boedelbelasting betaal, is sy deel R145 455. Die res, R254 545, die grootste deel, moet deur die susters uit die restant (hul erfenis) betaal word. Hulle wat geen deel van daardie polisopbrengs sien nie. Hulle wat geen boedelbelasting sou betaal het as dit nie vir die polis aan die seun was nie.

Maar dit eindig nie hier nie. As die seun nie sy deel van die boedelbelasting betaal nie, sê die wet, moet die eksekuteur instaan daarvoor. Dan betaal die dogters die volle R400 000 boedelbelasting uit hul gesamentlike erfenis van R3,5 miljoen en die seun kry ’n volle

R2 miljoen skoon uit.

Lewenspolisse betaal belastingvry uit. Maar dit is aan die begunstigde. Jou boedel kan, soos ons sien, belasting betaal, al kry die boedel self nie ’n sent van die geld nie.

Scroll to Top