Baie mense dink lewensversekering is geldmors — totdat hulle besef wat die ware koste van nalatigheid is. Hierdie artikel wys hoekom lewensdekking nie net ’n finansiële besluit is nie, maar ’n daad van eer en verantwoordelikheid teenoor die mense vir wie jy die meeste omgee.
Met lewensversekering eer jy jou geliefdes
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 05 Oktober 2025
Moenie dat jou vrekkigheid daartoe lei dat naasbestaandes jou skuld moet delg nie, skryf Nico van Gijsen. Want iemand sal moet instaan as jy nie genoeg voorsiening gemaak het nie.
Ek wil vandag ’n bietjie stilstaan by lewensversekering.
Ek glo dit is ’n deel van mense se finansiële beplanning wat maklik afgeskeep kan word. Dalk omdat daar nie soveel van die spreekwoordelike blink liggies rondom ’n lewenspolis is as wat daar is met die smousstories oor beleggings nie.
Ek hoor selfs dat lewensdekking geldmors is, “want jy betaal en kry niks daaruit nie”. Watter uiters selfsugtige manier van dink.
Lewensversekering is daar om jou geldelike verpligtinge na te kom. Dit is daar om jou finansiële verantwoordelikhede teenoor jou naasbestaandes gestand te doen.
Deur dood te gaan, kan jy nie wegvlug van verantwoordelikhede en verpligtinge wat jy op jouself geneem het nie. Iemand sal ná jou dood moet instaan as jy nie genoeg voorsiening gemaak het nie.
Dit is hoekom ek sê: Lewensversekering is vir jou. Nie vir ander nie. Dit is ’n finale bevestiging van die eer en waardigheid wat jy teenoor die ander in jou lewe geopenbaar het.
Jy weet dit gaan uitbetaal. Jy weet, of behoort te weet, dat jy eendag sal doodgaan. Nee, jy gaan nie iets oorkom nie, jy gaan dood. As jy geweet het wanneer, kon jy dalk voorsiening maak, maar jy weet nie.
Lewensdekking bied die sekerheid by die onsekerheid oor die wanneer. Jy weet egter wel vooraf presies hoeveel geld uitbetaal gaan word. Jy kan dus beplan.
Kom ons kyk nou na ’n paar praktiese oorwegings vir die koop van lewensdekking.
Boedelkoste
Seker die grootste enkele faktor wat die afhandeling van boedels terughou, is die gebrek aan kontant in die boedel.
Mense bemaak links en regs in hul testamente, selfs kontantbedrae. En dan is daar nie genoeg kontant nie.
Daar is dalk boedelbelasting, daar is die eksekuteurstarief, daar is skuldverpligtinge, daar is uitstaande inkomste- en kapitaalwinsbelasting, daar is siekte- en sterfbedkoste, en so meer. Dit moet betaal word.
As daar nie genoeg geld daarvoor in die boedel is nie, sal vaste bates wat jy aan ’n oorlewende gade en kinders wou oordra, dalk verkoop moet word om dié verpligtinge – jou verpligtinge – te delg.
Op hierdie punt net ’n opmerking: Ek weet baie mense neem lewensversekering uit, en dan, op aanbeveling van sommige makelaars wat hulle baie slim wil hou, word die opbrengs begunstig buite die boedel.
Die rede? Dit kom dan nie in berekening vir die eksekuteurstarief nie. Danksy jou vrekkigheid is daar dan nie geld om jou verpligtinge waarna ek hier verwys, na te kom nie. Met die gevolge wat ek hierbo noem.
Voorsiening vir ander
Is jy getroud of in ’n permanente verhouding? Het jy kinders? Dan het jy ’n plig om vir hulle te voorsien.
Jou plig kom nie tot ’n einde op die dag as jy sterf nie. Hulle het op jou staatgemaak. Hulle het op jou vertrou.
Jy laat hulle nie in die steek deur voortydig dood te gaan nie, maar jy laat hulle wel in die steek as jy nie voorsiening maak vir die risiko dat jy ontydig kan doodgaan nie.
As jy minderjarige kinders het, is dit dalk ’n goeie idee om polisgeld tot voordeel van daardie kinders aan ’n testamentêre trust te begunstig. So ’n trust sal, indien reg opgestel en reg bestuur, in aanmerking kom as ’n spesiale trust met belastingvoordele gelyk aan ’n individu, pleks dat dit as ’n trust belas word.
En jy het die sekerheid dat trustees na die kinders sal omsien en die geld nie in ’n oom of tannie se geldblasery beland nie.
Wat van groter kinders? Jy hoef dalk nie noodwendig vir hulle te “voorsien” nie, maar jy wil seker almal gelyk laat erf. Dis tog wat ouers doen.
En as daar een huis is en drie kinders?
Ek het dit al gesien. Die een wil die huis behou, die ander twee wil geld hê. En nou moet die huis verkoop word.
Met genoeg lewensversekering kan jy vir die ander twee kontant nalaat en die huis vir die een wat dit graag wil hê. Geen bakleiery nie. Almal is tevrede.
Termynpolisse
Daar is twee soorte lewenspolisse – hele lewenspolisse (dit is lewenslank) en termyn-lewenspolisse wat jou vir ’n bepaalde termyn dek, byvoorbeeld 10 jaar.
Termynpolisse word gewoonlik gebruik om skuld te dek, terwyl jy dit afbetaal.
Net ’n opmerking op dié punt: Jy hoef nie afsonderlike versekering te koop om jou skuld te dek nie. En dit is onwettig om dit op jou af te dwing.
Jy kan ’n bestaande lewenspolis gebruik om die lener te beskerm teen die risiko van jou dood. Jy sedeer eenvoudig ’n bestaande polis. Maak net doodseker dat jy dit omkeer wanneer die skuld gedelg is.
Termynpolisse is gewoonlik ’n bietjie goedkoper as ’n hele lewenspolis.
Maar hier is my mening daaroor: As ek weet ek gaan die een of ander tyd dood, hoekom al daardie geld in die water gooi net omdat ek nie betyds doodgegaan het nie?
Ek het respek vir geld. Dit is baie skaars. Betaal liewer daardie paar rand meer en wees seker dat iemand wel eendag uit jou premies gaan voordeel trek.
En as polispremies te duur raak en jy het die dekking regtig nie meer nodig nie? Laat ’n kind die premies oorneem. Moenie die polis kanselleer nie. Dood gaan jy dood. Só kry iemand na aan jou darem die voordeel en nie die versekeraar nie.



