As jy jou geld blaas, gaan jou kinders dieselfde doen

As jy dink jou kinders gaan vanself leer om met geld verantwoordelik om te gaan, dink weer – hulle kyk na wat jy doen, nie na wat jy sê nie.


As jy jou geld blaas, gaan jou kinders dieselfde doen

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  13 Julie 2025

Eindelose prekies oor geld beteken nie veel nie – kinders leer veel meer uit die spaar-voorbeeld wat hul ouers stel, skryf Nico van Gijsen.

Ek en die moeder owerste van ons gesin doen baie dinge saam met die tweede geslag. Ons lag saam, jag saam, speel saam en leer saam.

Wat leer ek?

My oudste kleindogter (14), as sy nie besig is om te padvinder, of te ysskaats, of te rotsklim nie, sit met sulke swart goetertjies wat uit haar ore hang – ek verneem dit is speakers.

Dit verstaan ek nog. Wat ek vreemd vind, is haar voorkeur vir ’n skynbaar nuwe soort graanvlokkies. Glo K-pop, of iets.

Jy kan so na aan jou kinders en kleinkinders beweeg soos jy wil. Dit is goed. Maar daar is ’n stuk vernuwing by die nuwe geslag. Nuwe manier van dinge doen. Nuwe manier van kyk na die lewe. En hulle vind nuwe oplossings vir ou probleme.

Jy kan by hulle dieselfde dissipline kweek wat betref die verantwoordelike hantering van geldsake. Die manier om by die antwoord uit te kom, kan verskil. Die onderliggende motivering daarvoor is anders.

Ons ouer geslag fokus ons spaardoelwit op aftrede. Ek hoor nie kinders praat van aftrede nie. Maar hulle weet van welvaart skep.

Ek het na die Beatles loop en luister. Sy na K-pop. Maar ons luister albei musiek.

Leer hulle vroeg

Jy gaan nie by kinders ’n verantwoordelike omgaan met geld vestig as jy nie vroeg reeds daarmee begin nie.

En glo my maar, ek is al lank in die land: Kinders leer meer uit die voorbeeld van pa en ma, ouma en oupa, as die prekies wat vir hulle afgesteek word. Of uit die verpligtinge wat op hulle geplaas word.

Kinders wil pa en ma sién spaar. Daar moet ’n voorbeeld wees. ’n “Manier van doen in ons huis”.

Nie net ’n preek oor spaar nie. Hulle wil ook soms hoor dat daar nie genoeg geld is vir die of daai nie.

Nie omdat daar nie die geld is nie, net omdat jy nie alles koop wat jou oë sien nie. Al het jy die geld. Dit is geld-dissipline.

Ons kleinkinders het almal beleggings. Hulle sien hoe dit groei. Hulle dra self daartoe by. En daarom onttrek hulle maar moeilik. Al wil hulle iets graag hê.

Hoe vroeër jy met hulle begin, hoe beter. Geld groei en dit is eers wanneer jy groei op groei begin kry dat hulle die waarde besef.

As die groei op R1 000 in jaar een 10% was, het jy aan die einde van daardie jaar R1

100. Maar oor vyf jaar, sonder verdere bydraes, teen 10% per jaar, het jy R1 610,51. As die kind natuurlik R1 000 per jaar kan spaar, sal hy of sy oor vyf jaar R6 715,61 hê.

Moenie hulle verveel met groeikoerse nie. Wys vir hulle die bedrag soos dit meer word. Groeikoerse is wollerig. Maar almal verstaan geld. Veral verstaan hulle geld wat meer word.

Wat lekker is, is dat dit meer word sonder enige bydrae van jou af. Groei op groei is waar die werklike waarde van beleggings lê, nie hoeveel jy kan spaar nie.

Hoe vroeër hulle kan begin, hoe beter. En hoe meer gaan hulle hê.

Die hoe van spaar vir kinders

Ek kry gereeld navrae van lesers wat graag geld wil “wegsit” vir ’n kind of kleinkind. In die meeste gevalle vir studies. Maar daar kan ander redes wees. Sommer net ’n meevaller op 18-jarige ouderdom is ook goed.

Maar is dit nie baie soos ’n geskenk nie? Daar is niks fout met geskenke nie. Ek weet van niemand wat gaan huil oor ’n paar duisend rand se meevaller uit die bloute nie.

Maar wat is die les?

Niks.

’n Dankie, ja. Maar het die kind geleer van werk met geld? Nee.

Die probleem vandag is dat mense nie werk of wil werk om iets te bereik nie. Daar is ’n algemene verwagting om te ontvang. Die verantwoordelikheid lê oral behalwe by my.

Moenie jou kind, of kleinkind, in daardie denkrigting grootmaak nie.

Goed bedoel is edel. En dit wat uit die hart kom, is kosbaar. Meer kosbaar as die bedrag wat jy vir die kind spaar.

Maar is dit nie beter om, soos ek hierbo beklemtoon, die kind saam op die pad te neem nie?

Ek meen, “kom ons begin spaar vir jou” is beter as om net self te spaar. Neem die kind saam op hierdie uitstappie. Dit kan net so opwindend wees as om die eerste keer saam met oupa te gaan jag, of saam met ouma koeksisters te bak.

Maak die kind deel daarvan. Dan sal hy of sy dit baie gou op sy of haar eie wil doen.

Die produkte

Laastens net ’n kort gedagte oor waarin om die geld te belê. Die sogenaamde belastingvrye spaarproduk is goed. Dit het ongelukkig net ’n beperking van R36 000 se bydrae per jaar. Met R500 000 oor ’n leeftyd. Maar die groei is belastingvry.

’n Belegging direk in ’n effektetrust is nie belastingvry nie. Maar dit moet ’n goeie jaarlikse groeibedrag oplewer voordat belasting ’n werklikheid kan begin word. Die eerste R23 800 rente-inkomste is vry van belasting. Daarmee saam ook die eerste R40 000 se kapitaalwins.

Help jou kind om hom- of haarself te help. Daarin lê die antwoord.

Scroll to Top