Kry jou finansiële raad van regte kenners

Jou finansiële beplanning is net so sterk soos die raad waarop dit gebou is. Vermy duur foute deur jou raad van kundiges te kry – hier’s wat jy moet weet.


Kry jou finansiële raad van regte kenners

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  20 Julie 2025

Ek wil vandag sommer so drie onderwerpe, wat vir my in dieselfde klas val, saamgooi. En as ’n mens nie daarop bedag is nie, kan dit tot finansiële ellende lei. Dit gaan hier oor produkte, finansiële produkte, wat dikwels moeilik is om te verstaan. Maar laat ons begin.

Die dokter se raad

Ek het die afgelope week van twee lesers gehoor wat “finansiële raad” by hul dokter gekry het.

Leser een sê haar dokter se raad is: “Kry vir jou die goedkoopste mediese skema.”

Ja? En gaan die dokter sy rekening verminder as jou mediese skema nie die volle rekening vereffen nie?

Of gaan jy jou, soos ek onlangs gelees het, tot skare-finansiering wend as daar nie geld is nie? Bedel, in ander woorde.

Nee, kry die beste mediese-skema-voordele wat jy kan bekostig. Dalk kan jy dan selfs ’n verantwoordelike dokter bekostig. Een wat fokus op jou en nie probeer om windmaker te wees oor sake waarvan hy klaarblyklik niks weet nie.

Leser twee se gevreesde-siekte-polis-eis is van die hand gewys. Die siekte is in so ’n vroeë stadium dat dit nog nie aan die gekontrakteerde definisie voldoen nie.

En, soos wat dikwels gebeur, kry ’n mens die ou storie van “die versekeraar is gou om jou premies te vat, maar as dit by uitbetaal kom, dan weier hy”.

En die windmaker-dokter vererger die situasie deur die versekeraar te verwyt. Hy het duidelik nie ’n idee van versekeringskontrakte nie, maar hy wil finansiële raad gee.

Daar is definisies. Jy kies, soos met jou mediese-skema-dekking, die opsies en daarvolgens betaal jy ’n premie.

Jy kan mos sowaar nie verwag die versekeraar moet betaal vir dit waarop julle nie kontraktueel ooreengekom het nie. Jy kry waarvoor jy betaal.

Kry jou finansiële raad by ’n raadgewer wat verantwoordelikheid vir sy raad moet aanvaar en wat die produkte ken.

En wees bly as jy risikodekking het en nog nie nodig het om te eis nie. Dit beteken dit gaan goed met jou.

Aftree-inkomste

’n Derde leser, Anton, vra hoe besluit hy as individu om die jaarlikse persentasie onttrekking uit sy lewende annuïteit (tussen 2,5% en 17,5%) te verhoog.

“Ek neem in ag kontantvloei, my ouderdom (62), gesondheid, ensovoorts.

“Ongelukkig blyk dit dat die kool nie die sous werd was nie, al neem ek belastingtoegewings in ag. As ek al my premies oor die jare in ag neem, blyk dit dat ’n gewone spaarplan tot en met ouderdom 60 meer werd sou wees.”

Anton, en ander wat so dink, dié redenasie neem nie die feite in ag nie.

Ek weet nie wat bedoel word met ’n “gewone spaarplan” nie. Jou beleggingsgroei kom nie uit die produk nie, dit kom uit die onderliggende fondse waarin jy belê is.

As jy die regte fondse kies, sal jou groei goed wees. Belê jy in swak fondse, of in gister se blinkstefaanse, of in die geldmark, dan kan jy verwag dat jou geld nie eens saam met inflasie gaan groei nie, laat staan nog beter doen.

Ek kry die redenasie nogal gereeld. “As ek liewer dit of dat, dan sou ek . . .”

Nee, as jy behoorlike finansiële raad gekry het, met ’n plan gewerk het en vroeg begin het, sou jy met ’n geruste hart kon aftree.

Aftredebeplanning is nie so moeilik nie. Jy moet weet waarheen jy wil en wanneer. Dan kan jou raadgewer vir jou sê hoeveel gaan nodig wees en hoeveel jy moet spaar om daarby uit te kom.

Regtig maklik, maar dit vereis vir eerstens kennis van die raadgewer en ten tweede dissipline van jou kant af.

En wat betref die verskil in produkte, is daar geen manier wat jy kon beter doen met ’n “gewone spaarplan” nie. Al het jy presies dieselfde onderliggende fondse, waarna ek hier bo verwys, gebruik en presies dieselfde bedrag gespaar.

Om met ’n lewende annuïteit te kon aftree, moes jy eers gespaar het in ’n pensioenfondsproduk soos ’n pensioenfonds of uittree-annuïteit (UA).

En dan het jy die belastingvoordeel van spaar in die produk gehad. Jou premies sou aftrekbaar wees vir inkomstebelasting. Jy spaar dus minder vir meer geld in jou belegging. Ander beleggings het nie die voordeel nie.

As jou inkomstebelastingkoers 30% is, spaar jy in ’n pensioenfondsproduk R70 vir ’n onmiddellike R100 beleggingsvoordeel – 30% groei op belegging net daar.

En dan is die groei in die pensioenfonds of UA geheel vrygestel van belasting. Dit is sowel inkomstebelasting as kapitaalwinsbelasting. Met ’n “gewone spaarplan” het jy nie daardie voordeel nie.

Inkomste uit lewende annuïteit

Oor hoe jy besluit oor watter bedrag jy jaarliks uit ’n lewende annuïteit kan onttrek vir ’n inkomste, is die antwoord heel eenvoudig.

Vergeet van die 17,5% waarteen jy kan onttrek. Jy gaan nie daardie groei kry nie. Die gevolg is sekerlik vir ’n gr. 1-laaitie duidelik: Jy gaan jou kapitaal opgebruik.

My voorstel sou wees om nie meer as so 6% per jaar te onttrek nie. En dan moet jy belê in goeie fondse waarin jou kapitaal gaan groei. Andersom gestel, jy moet groter groei kry as wat jy onttrek.

Ouderdom kom met skete en kwale en jy kan doen met beleggingsgroei sodat jy nie in finansiële ellende beland as jy geld nodig het vir mediese uitgawes nie.

Scroll to Top