Oupa weet beter, luister maar as hy oor geld praat

Oupa se stories is meer as net herinneringe—dikwels is daar wysheid in sy finansiële sienings. Nico wys hoe grootouers ’n verskil kan maak sonder om hul eie toekoms te benadeel.


Oupa weet beter, luister maar as hy oor geld praat

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  11 Mei 2025

Hy glo nie eintlik aan studielenings nie, skryf Nico van Gijsen. Maar eerder só.

Grootouers weet beter as ouers. Van die lewe. Van kinders grootmaak. En van geldsake. Hulle weet veral van geldnood.

Menige oupa en ouma sal kan getuig van moeilike dae en hoe die geldsake soms geknyp het. Van hoe hulle hulself tekort sou doen sodat hul kinders kon studeer om uiteindelik ’n loopbaan te kon begin sonder studieskuld.

Ek wonder soms hoeveel oupas en oumas geldelik baie meer gerieflik daaraan toe sou kon wees as hulle meer vir aftrede kon belê en minder aan studiegeld vir hul kinders moes betaal.

Maar vandag praat ons nie aftrede nie. Hoewel die twee onderwerpe baie na aan mekaar lê.

Hier is ’n kort sommetjie ter voorbeeld. As ek 20 jaar gelede se R1 miljoen (dit was meer) vir studiegeld belê het teen 10% opbrengs per jaar, sou ek vandag R6 727 500 meer tot my beskikking gehad het.

Dit sommer net om ’n punt te maak. Die werklike syfer is nie ter sake nie. En liefde het nie ’n prys nie.

Maar dit bring my by vandag se vraag van ’n leser. ’n Oupa.

Eers ’n belangrike punt wat hy maak. “Ek glo nie aan studielenings nie.”

Ek stem nogal saam. Dit maak skuld. Soms kan dit nie anders nie, maar skuld kos geld. In sigself kos dit geld. Aan rente.

Maak liewer voorsiening. En dis sy eintlike vraag.

Wat is ter sake?

Hy en Ouma het drie kleinkinders en hulle wil graag ’n bedrag per maand vir elkeen spaar.

Hoe gemaak?

Vraag: Spaar in die kind se naam, met Oupa of Ouma as die gevolmagtige waar hy/sy eers op 18 jaar oud toegang verkry tot die geld. Belastingimplikasie vir die kind se ouers?

Julle kan ’n belegging doen in die kind se naam. Daar is nie belastingimplikasies vir die ouers nie.

Kinders kan registreer as belastingbetalers en sal persoonlik aangeslaan word vir die groei op die belegging. Dit word as inkomste beskou.

Hulle sal kan voordeel trek uit die jaarlikse vrystelling van R23 800 op rente-inkomste en die R40 000 per jaar uitsluiting vir kapitaalwinsbelasting (KWB).

Vraag: Spaar in Oupa of Ouma se naam en skenk die geld op die 18de verjaardag en/of bemaak die geld?

Dis selde ’n goeie idee. Spaar in jou naam, maak dit jou geld, nie die kind se geld nie. Dis in jou boedel en vatbaar vir eise teen jou of jou boedel. En dit val in vir boedelbelasting as jy die dag sterf.

Daar is nie fout om geld te bemaak nie, maar as jy spesifiek beplan en jy het die vermoë, hanteer dit liewer anders.

Vraag: Kan ’n uitree-annuïteit (UA) vir ’n kind begin word by geboorte?

Ja, jy kan.

Uiteraard is daar geen belastingaftrekking vir die kind nie, aangesien hy of sy nie inkomste het waarteen dit afgetrek kan word nie.

Dit bly ’n belegging met belastingvrye groei. En dis in ’n UA, wat beskerming bied teen skuldeisers. Maar dis ’n belegging wat nooit heeltemal gaan uitbetaal nie (as ons dink aan studiegeld is dit belangrik).

Die kind het eers toegang (die een derde in die tweepotstelsel wat onttrek kan word, danksy ons regering se breinfloute uitgesluit) tot die geld ná die ouderdom van 55 jaar en dan ook net tot ’n derde, die res moet aangewend word vir ’n pensioen.

So, tensy jy beplan dat die kind eers moet gaan studeer op 55 jaar, los liewer. Maar as jy wil help met die kind se aftrede eendag, is dit ’n skitterende idee.

Die beleggingsopsies

Opsie 1: As jy vir ’n kind die moeite van inkomstebelasting op die groei wil help voorkom, is ’n polis die aangewese produk.

In ’n gewone uitkeerpolis word belasting gehef binne die polishouersfonds. Maar dis 30% op inkomste en daar is geen vrystelling soos ek hierbo noem nie. So, geldelik is dit dalk nie aangewese nie.

’n Belastingvrye spaaropsie is dan die meer aangewese produk. Jy kan tot R36 000 per jaar per kind (elkeen met sy eie belegging) daarin belê met ’n maksimum van R500 000 (per kind in die kind se leeftyd).

Neem net kennis dat jy en jou vrou elkeen R100 000 per jaar kan skenk vir die kinders voordat geskenkebelasting gehef word.

Opsie 2: Julle kan vir die kinders in direkte effektetrustbeleggings in hul eie name ’n belegging begin. Die belastings word dan gehanteer soos ek hierbo noem in hul eie naam onderskeidelik.

Dié belegging het die probleem dat jy geen sekerheid het dat die geld behoue gaan bly totdat die kind wil gaan studeer nie. Dit kan onttrek word.

Opsie 3: ’n Studiepolis is dalk die aangewese produk. Nie noodwendig vir almal nie, maar ’n goeie oorweging as jy begin met jou beplanning vir die kind.

Die polis kan byvoorbeeld uitkeer op 18-jarige ouderdom. Jy hou beheer en die kind is die begunstigde. Die grootste voordeel daarvan is na my mening die sekerheid wat dit bied.

Oupas en oumas leef nie noodwendig totdat hul kleinkinders afgestudeer het nie.

Dié polis kan jy koppel aan jou lewe sodat sou jy voor die tyd sterf, is die premies op die polis verseker. Dit gaan net aan totdat dit uitbetaal.

Net ’n laaste woord: Watter plan jy ook al volg, maak die kind deel daarvan.

Scroll to Top