Hoe gemaak as Lucas se miljoen in jóú skoot val?

Wat sal jy doen as ’n miljoen skielik in jou rekening verskyn? In hierdie artikel deel Nico van Gijsen praktiese én verrassende insigte oor hoe om so ’n finansiële meevaller verstandig te benut — of jy nou reeds gemaklik leef of net droom van daardie een kans.


Hoe gemaak as Lucas se miljoen in jóú skoot val?

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  06 April 2025

Net die mees welvarendes kan bekostig om hul erfgeld sorgeloos aan luukshede soos vakansies te bestee, skryf Nico van Gijsen.

“Ek sou kon doen met ’n miljoen.”

Dis nou al bykans 14 jaar ná sy dood en nou kom hierdie liedjie van die gewilde Afrikaanse sanger Lucas Maree weer in my kop draai.

Al langer as ’n week. Veral verlede week, toe ek in die hospitaalbed lê – ’n onbeplande besoek en die oorsaak vir waarom daar nie verlede week ’n rubriek was nie.

Die pad terug in die verlede na Maree se liedjie is danksy ’n leser se brief. Dit het my laat dink aan ’n rubriek oor die onderwerp. Veral toe ek agterkom my onderwerp rym mooi met die oorspronklike wysie.

Sing dit: “Wat om te doen met my miljoen.”

Die leser wil graag weet wat om te doen met sy miljoen (dis ’n bietjie meer). ’n Meevaller wat hy en sy vrou uit ’n boedel geërf het.

Kom ons bekyk net eers weer Maree se liedjie, die “moeg vir die gesukkel”, die “gewonder oor die geld”, die “karre wat nie werk nie”, ensovoorts. Wie kan nie daarmee assosieer nie?

Vir ons leser is dit egter anders.

Hy en sy vrou het “meer as genoeg om van te leef”. Hulle het goeie pensioene. Hulle het nie kinders wat moet erf nie. Hulle het ook aansienlike bedrae by groot banke – “soveel so dat ons erg belasting betaal”.

Kan lesers nou verstaan hoekom ek die rubriek eers begin sing het voordat ek dit begin skryf het?

Belê verstandiger

Die geld by die banke kan beter belê word. Liefs nie deur jou ouditeure nie. Ek dink te veel van hulle hou hulle slim oor alles, maar aanvaar dan nie verantwoordelikheid as die spreekwoordelike pô-pô die waaier tref nie.

Laat hulle doen waarin hulle spesialiseer. Kry vir jou ’n gelisensieerde finansiële beplanner om jou beleggings en finansiële risiko’s te bestuur.

Ek kan jou byvoorbeeld nou al sê jy betaal onnodige belasting. Die opbrengs op bankbeleggings hou boonop ook skaars tred met inflasie.

Dit eers daar gelaat. Wat om te doen met sy miljoen?

Dis nou die dilemma. Ek is seker die eerste een wat sal sê jy moet verantwoordelik met geld omgaan. Altyd. Selfs al is dit ’n onverwagse meevaller.

Maar ek meen ook ’n mens moenie ophou leef nie. Spaarsaamheid is ’n deug. Inhaligheid is ’n pyn.

Jy leef net een keer.

Dit klink my julle het alles wat die hart begeer, of ten minste redelikerwys na kan uitsien.

Hoekom nie ’n lekker vakansie gaan hou nie? Hoeveel van ons kan bekostig om geborgde vakansies te gaan hou? Geniet dit.

Die res kan jy belê. Vir kapitaalgroei of vir meer inkomste. Beplan dit saam met jou finansiële raadgewer.

Maar wag nou. Dit is sommer los gedagtes vir iemand wat klaarblyklik geldelik heel vermoënd is. Wat van die res van ons?

Om ’n erf-meevaller sommer so te gaan uitgee op vakansies, of wat ook al, is in baie gevalle, indien nie die meeste gevalle nie, uiters kortsigtig. Eintlik dom.

Na gelang van jou geldbehoeftes en die dringendheid van jou geldprobleme sal ek sê wag net so ’n bietjie. Laat die meevaller eers sy plek in jou kop inneem waar hy hoort en nie allesoorheersend is nie.

Skuld

Kyk na skuld wat jy kan aflos. Te veel mense sit met te veel skuld op te veel onnodige goed. Dis die waarheid.

Raak daarvan ontslae as jy kan. Of van soveel daarvan as wat jy kan. Bygesê, moet dan nie weer gaan skuld maak nie.

Min mense besef dit, maar om skuld af te los bring onmiddellik vir jou ’n maandelikse belastingvrye inkomste. Wat meer wil jy hê?

Kom ons sê die rente op jou skuld is 15% per jaar. En onthou, dit word boonop betaal met nabelaste geld, dus nadat Jan Taks al sy deel gevat het.

Kom ons sê jy skuld R1 miljoen. Teen rente van 15% per jaar (ek werk maar op eenvoudige rente om ’n punt te maak, die skuld-werklikheid lyk baie slegter) bespaar jy maandeliks R2 500. In my oë ’n belastingvrye inkomste – meer geld in jou sak elke maand.

Erfgeld is nie, soos die gesegde lui, altyd swerfgeld nie. Dis baie keer ’n helpende hand. Maak sinvol daarvan gebruik.

Aftrede en inkomste

Na gelang van waar jy in jou lewe is wat aftrede en aftredebeplanning betref, bring so ’n meevaller in berekening by jou langtermyn- finansiële beplanning.

Te veel mense het te min voorsiening gemaak vir aftrede. Dit is dalk die geleentheid om die risiko van te min voorsiening vir aftrede aan te pak en seker te maak dat jy nie eendag op ander se nek moet gaan lê nie.

As jy reeds afgetree het, kry hulp van ’n finansiële beplanner om vir jou die somme te doen om te kyk of jy regtig so gemaklik daaraan toe is as wat jy dalk dink.

Belê dan die geld vir bykomende inkomste. Gewaarborgde inkomste as jy kan – dis boonop belastingvriendelik ook.

En moenie vergeet om jou gesondheid self te verseker met so ’n meevaller nie. Baie mense het nie ’n goed genoeg mediese skema (goedkoop opsie gekies) of dekking vir gevreesde siektes nie.

Hou ’n neseier vir siektes. Dit kan duur word om aan die lewe gehou te word.

Scroll to Top