Trusts word dikwels as slim finansiële gereedskap beskou, maar min mense besef presies waarvoor hulle hul inlaat. Ontdek waarom trusts soveel onsekerheid en misverstande ontlok – selfs onder regslui – en wat jy móét weet voordat jy een stig.
Waarvoor laat jy jou in met ’n trust?
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 02 November 2025
Baie onsekerheid, intriges en bygelowe bestaan oor trusts, selfs onder regslui en regstudente, skryf Nico van Gijsen. Hier is ’n paar punte ter verduideliking.
“Is ’n trust ’n goeie ding?” wil ’n leser (weer) die afgelope week weet.
Dis ’n vraag wat ek gereeld kry. Dit sê aan my baie onsekerheid bestaan oor trusts.
Laat ek dit ook sommer met die intrapslag sê: Baie onsekerheid bestaan ook onder regslui en regstudente oor trusts. Hiervan getuig die tientalle hofsake waarby trusts en trustees betrokke is. Moet dus nie alleen voel nie. Die trustwêreld is vol intriges en bygelowe.
Maar ek gaan probeer om ’n paar eenvoudige punte oor trusts te maak sodat lesers darem sal weet waarvoor hulle hulle inlaat met die skep van ’n trust of die aanvaarding van ’n trusteeskap.
Wat is ’n trust?
Trusts, sowel inter vivos-trusts (trust in lewe geskep) as testamentêre trusts (geskep by wyse van ’n testament ná die dood van die testateur), word gereguleer deur die Wet op die Beheer oor Trustgoed (wet 57 van 1988) en in ’n groot mate ook deur die gemene reg.
Ons leer ook byna elke dag uit Suid-Afrikaanse regspraak – vandaar my verwysing hier bo na die tientalle hofsake oor trusts.
’n Trust is nie ’n aparte regsentiteit soos byvoorbeeld ’n maatskappy nie. ’n Trust is ook nie ’n persoon nie, hoewel die Inkomstebelastingwet (wet 58 van 1962) ’n trust as ’n persoon beskou vir belastingdoeleindes. Maar ’n trust is nie ’n persoon nie.
Nou wat is dit dan?
’n Trust is ’n kontrak. ’n Drieledige kontrak.
Dis ’n ooreenkoms tussen die oprigter van die trust (die persoon wat die trust wil oprig vir bepaalde doeleindes) en die trustee, waarvolgens die trustee bates in besit neem om te bestuur namens of ten gunste van die derde party, die begunstigde.
Dit, na my mening, is onderliggend aan die grootste enkele probleem met trusts. Mense staan verwonderd by die aanhoor van die voordele van ’n trust, maar maak nie hul ore oop of wil dit nie oopmaak vir die breër implikasies van die oordra van jou goed of geld na ’n trust nie.
Trustbates is nie joune nie
Die kernboodskap vir enigeen wat ’n trust oorweeg, is dat bates wat na ’n trust oorgedra is, nie meer joune is nie. Jy kan dit nie meer beheer nie. Jy kan nie meer daaroor besluit nie. Dit behoort nou aan die trustee in sy of haar hoedanigheid as trustee.
Een van die groot probleme met ’n trust is dat mense dié basiese beginsel van ’n trust nie wil aanvaar nie.
Waar die onsekerheid ontstaan, glo ek – en dis waar baie dit wil uitbuit – is dat die oprigter van die trust wel ook ’n begunstigde van die trust kan wees. Die oprigter kan selfs ook ’n trustee wees.
Die voorbehoud hier is dat die oprigter van die trust nie die enigste trustee en die enigste begunstigde mag wees nie. Daar is regspraak in dié verband.
Die bekendste is seker die Parker-saak, waarin beslis is dat ’n trustee wel ’n begunstigde mag wees, maar die sentrale beginsel is dat die persoon aan wie die beheer van die trustgoed toevertrou is, namens en in die belang van iemand anders sal optree. Kortom, nie net vir homself nie.
As jy jou nie kan vereenselwig met die gedagte dat trustbates nie meer joune is nie, bly weg van ’n trust.
Belastings as jy bates oordra na ’n trust
Jy wat die bate of geld na die trust oordra deur dit te skenk of te verkoop (gewoonlik op leningsrekening), doen afstand van jou besitreg op dié bates of geld.
’n Skenking aan die trust kan geskenkebelasting tot gevolg hê, asook kapitaalwinsbelasting (KWB). ’n Skenking van kontant sal nie KWB trek nie, maar neem net daarvan kennis dat sou jy ’n aandeleportefeulje na ’n trust oordra, KWB wel ter sprake gaan kom.
Die verkoop van ’n bate aan die trust kan ook geskenkebelasting tot gevolg hê indien die verkoopprys minder is as die markwaarde van die bate.
Waar bates aan ’n trust verkoop word op leningsrekening (’n baie gewilde manier om bates na ’n trust oor te dra), sal die uitstaande leningsrekening steeds ’n bate in die verkoper se boedel wees.
Krediteure sal daarop beslag kan lê. As die trustees nie die lening kan terugbetaal nie, kan dit selfs tot sekwestrasie van die trust lei.
Verder is die uitstaande leningsrekening by jou dood ook ’n bate in jou boedel vir boedelbelasting.
Begunstigdes en hul regte
Ek het vroeër genoem dat die trustbegunstigde die derde party in so ’n kontrak (die oprig van ’n trust) is.
Uiteraard kan daar nie verpligtinge op die begunstigde geplaas word bloot omdat hy of sy ’n begunstigde is in ’n kontrak tussen twee persone en hy of sy (die begunstigde) nie deel van die kontrak is nie.
Maar, en hier is dalk ’n belangrike punt, trustbegunstigdes wat wil seker maak dat hul belange (werklik of voorwaardelik) beskerm word, moet die begunstiging aanvaar.
Die oomblik wat dit gedoen is, word die begunstigde ’n party in die kontrak en kan die trustakte nie gewysig word sonder sy of haar instemming nie.
Bostaande is nie ’n allesomvattende verhandeling oor trusts nie. Dis ’n oorsig vir lesers, eenvoudig gestel, om die breër prentjie oor trusts te verduidelik.
Neem daarvan kennis, maar gesels met ’n kenner voordat jy enige besluite neem.



