Spesiale trust doen meer as ‘n volmag

Beheer oor jou finansies is uiters belangrik, veral wanneer ouderdom of gesondheid jou vermoë om self besluite te neem raak. Nico ondersoek hoe ’n spesiale trust meer beskerming bied as ’n volmag en watter stappe jy kan neem om jou en jou geliefdes se finansiële toekoms te verseker.


Spesiale trust doen meer as ‘n volmag

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  07 Julie 2024

Wees bewus van jou finansiële sake soos die jare aanstap . . .

Ons kyk vandag na die sogenaamde volmag. Wat behels dit? Watter krag het dit? En dan, hoe vergelyk ’n volmag met ’n spesiale trust as daar omgesien moet word na iemand wat nie meer sy of haar eie besluite kan neem nie?

Laat ek begin met hierdie stelling. ’n Volmag is ’n gerief. Dit beteken niks as die doel daarvan is om iemand se sake namens hom of haar te bestuur as daardie persoon nie meer in staat is om na sy eie sake om te sien nie.

Dit is ’n gerief. Dit is al. Ek vermoed van my regsgeleerde kollegas sal seker wil hare kloof hieroor, maar dit is wat dit is. ’n Gerief.

Ek het ’n bankrekening in my naam. Om die beslommernis en koste van ’n tweede bankrekening te vermy, het my vrou ’n volmag by die bank. Sy kan onttrekkings maak soos sy wil. Sy kan elke sent daarin uitgee as sy wil. Maar, en hier is die enkel belangrikste punt oor volmagte wat verstaan moet word, ’n volmag is nietig as die persoon wat die volmag gegee het, sterf, of nie meer handelingsbevoeg is nie. Dit is net geldig vir solank as wat die persoon wat die volmag gegee het in staat (geestelike vermoënd) is om daardie volmag te kan kanselleer.

As jy dus by wyse van ’n volmag beheer oor ’n ander, byvoorbeeld ’n ouer, se geldsake het; dit bly net geldig terwyl daardie persoon in staat is om self op te tree. Sonder jou. Indien nie, is daardie volmag niks werd nie.

Nou kom ons voor die vraag, hoe gemaak as jy vir iemand moet sorg, uit daardie persoon se eie bates, wat nie bevoeg is om na sy of haar eie sake om te sien nie? Die persoon het byvoorbeeld demensie, of Alzheimer se siekte.

Ek sou meen ’n trust is ’n goeie voertuig waarin dit hanteer kan word. Mits die reëlings hiervoor getref is vóór die siekte te ver gevorder is. Die persoon moet nog handelingsbevoeg wees om bates na ’n trust toe te kan oordra.

Daar is gevalle bekend waar die ontvanger van inkomste ’n bindende belastingbeslissing gegee het wat bepaal dat bates wat vir hierdie doel na ’n trust toe oorgedra word, sal oorgaan sonder dat geskenkbelasting gehef sal word. As jy jou in so ’n situasie bevind, is die geleentheid daar om so ’n aansoek in te dien.

Die alternatief, sou daardie persoon weens hoë ouderdom, ernstige siekte, of gebrek, nie in staat wees om sy of haar eie sake te behartig nie, kan jy die hooggeregshof versoek om ’n kurator (curator bonus) aan te stel. Die kurator moet dan in die beste belang van daardie persoon optree.

Die verskillende soorte trusts

Dit is egter, soos met finansiële beplanning, altyd beter om ’n bietjie vooruit voorsorg te tref. Jy wag tog nie totdat die storm jou tref voor jy die deure en vensters toemaak nie, of hoe? En dit is waar die gebruik van ’n trust tot sy reg kan kom.

Dit kan ’n trust inter vivos (in lewe opgerig), of ’n testamentêre trust (by wyse van ’n testament ná jou dood) wees.

Dit voorkom die aanstelling van ’n kurator en plaas die besluitneming in die hande van die trustees, wat dikwels baie nader aan die persoon is na wie se belange omgesien moet word.

So ’n trust, opgerig vir die doel wat ek hierbo noem, sal as ’n spesiale trust beskou word. Daar is niks werklik “spesiaals” aan ’n spesiale trust, wat hom anders maak as enige ander trust nie. Sy “spesiaal” lê daarin dat hy spesiale behandeling kry vir belastingdoeleindes.

Die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) maak voorsiening vir ’n kategorie belastingbetaler genaamd “spesiale trust”. Só ’n trust word belas teen die koers vir natuurlike persone, tussen 18% en 45%, teenoor die vaste koers van 45% vir trusts.

Die wet definieer twee tipes “spesiale trusts”. ’n Trust wat geskep word uitsluitlik tot die voordeel van ’n persoon wat ly aan ’n “geestelike siekte” soos omskryf in die Wet op Geestesgesondheidsorg (Wet 17 van 2002), of ’n ernstige liggaamlike gebrek en so ’n persoon is nie in staat om ’n inkomste te verdien vir selfonderhoud nie, of as so ’n persoon nie sy of haar eie sake kan behartig nie.

Die tweede geval is ’n testamentêre trust wat geskep word vir die minderjarige naasbestaandes van ’n testateur, die sogenaamde “onder 21-spesiale trust”. Die groot verskil in belastings is dat ’n “onder 21-spesiale trust” nie kwalifiseer as “natuurlike persoon” wat betref kapitaalwinsbelasting (KWB) nie, maar wel ten opsigte van inkomstebelasting.

Hier is nou ’n tameletjie vir iemand wat, soos wat ek nie sterk genoeg kan aanbeveel nie, genoegsame dekking teen ’n gevreesde siekte verkry het. Alzheimer se siekte, byvoorbeeld, word gedek deur ’n gevreesdesiektepolis. Maar teen die tyd dat die polis uitbetaal, is die persoon wat daardeur gedek word gewoonlik reeds te ver gevorder en nie meer geestelik bevoeg om geldbesluite te neem nie. Hoe nou gemaak?

Dit is waar ’n trust ’n baie goeie oplossing sou bied deur die polis aan die trust te laat uitkeer. Dan is dit in die hande van die trustees om in die belange van die siek persoon op te tree.


Nog raad

Belastingseisoen – belangrike inligting

Ons is in die belastingseisoen vir persoonlike inkomstebelasting. Belastingopgawes vir die 2024 belastingjaar is nou oop, soos volg:

  • Outomatiese aanslag tussen 1 en 14 Julie 2024. Dit is vir jou gerief. Maak seker dit is korrek. Jan Taks gaan nie sê jammer en vergeet daarvan as hy ’n fout gemaak het nie. Jy wil nie onnodig belasting betaal nie.
  • Individuele belastingbetalers (nie voorlopige belastingbetalers) tussen 15 Julie 2024 en 21 Oktober 2024.
  • Voorlopige belastingbetalers tussen 15 Julie 2024 en 20 Januarie 2025.
  • Trusts tussen 16 September 2024 en 20 Januarie 2025.

Aftrekbaarheid van bydraes tot ’n pensioenfonds of uittree-annuïteit

  • Art. 11F(2)(a) van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) is gewysig. Waar ’n persoon se jaar van aanslag minder as 12 maande is, word die toegelate aftrekbare bydrae (tans R350 000) voortaan pro rata toegepas.

Belastingvrye beleggings

  • Art. 12T(4)(a) van die Inkomstebelastingwet is ook gewysig. Waar ’n persoon se jaar van aanslag minder as 12 maande is, word die toegelate jaarlikse bydrae (R36 000) pro rata toegepas.

Sonpanele

  • Daar is ’n belastingkrediet beskikbaar vir individue op nuwe en ongebruikte panele wat in gebruik geneem is tussen 1 Maart 2023 en 29 Februarie 2024. ) Die belastingkrediet is 25% van die koste van die sonpanele tot ’n maksimum van R15 000.
Scroll to Top