Die sogenaamde diskresionêre familietrust het sy plek as boedelbeplanningsinstrument. En, reg aangewend, kan ’n trust regtig waarde toevoeg in boedelbeplanning en die versorging van jou naasbestaandes en afhanklikes. Die moeilikheid begin wanneer mense dink dat ‘n trust gebruik kan word om belasting te omseil.
Familietrust: Pasop vir dié belastingspel
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 19 November 2023
Hou bates tot voordeel van die trustbegunstigdes
’n Leser vra nou die dag of ek bewus is van hoeveel mense om die bos gelei word deur die sogenaamde deurvloeibeginsel met belasting van toepassing op trusts.
Ja, ek weet. So, kom ons kyk. Maar om dit verstaanbaar te maak, moet ek eers die truststorie agter die bult gaan haal. Ons praat van jou tipiese sogenaamde diskresionêre familietrust.
Die eerste ding om te verstaan is dat ’n trust nie ’n aparte regsentiteit is nie. Dit is ’n kontrak. Dit is al. Niks meer nie en niks minder nie. Dit is ’n driehoekige kontrak tussen die trustoprigter, of skenker, wat bates aan iemand anders, die trustee, oorgee om te besit en te bestuur tot voordeel van ’n derde party, die begunstigde/s. Die tweede punt om te verstaan dus, is dat bates wat jy na ’n trust toe oorgedra het, nie meer joune is nie. Dit behoort nou aan die trustee in sy of haar hoedanigheid as trustee.
Reg aangewend kan ’n trust regtig waarde toevoeg in boedelbeplanning en die versorging van naasbestaandes en afhanklikes. Dit is nie bedoel as instrument om belastingspeletjies te probeer speel nie.
Belastingvoordele, vereistes in ’n trust
Daar is wel belastingvoordele. Maar daar is ook vereistes waaraan voldoen moet word.
Bates in ’n trust val byvoorbeeld nie in jou boedel vir boedelbelasting en daarom ook nie kapitaalwinsbelasting by jou dood nie. Bates in ’n trust is normaalweg ook beskerm teen skuldeisers. Dit is omdat die bates nie meer joune is nie. Om dus te praat van “my trust” of “my bates in trust” is verkeerd. En as jy só met die bates omgaan – asof dit joune is – kan jy al die beskerming en voordele wat ’n trust bied tot niet maak. ’n Rits hofsake kan getuig hiervan. Veral met egskeidingsake lig die howe sommer gou-gou daardie sluier. Art. 3(3)(d) van die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955) sluit verder ook spesifiek in eiendom wat die oorledene onmiddellik voor sy dood bevoeg was om tot sy eie voordeel of tot voordeel van sy boedel te benut en maak dit vatbaar vir boedelbelasting. Dis net kortliks hoe jy die pot kan mis sit met ’n trust as jy beheer oor die bates behou.
Wat die deurvloeibeginsel betref
Art. 25B van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) laat toe dat trustinkomste wat in die jaar waarin dit verdien word aan ’n begunstigde uitkeer of toegeken word, in die hande van die begunstigde belas word (mits die agtingsklousules in art. 7, wat trustinkomste in die hande van die skenker belasbaar kan maak, nie van toepassing is nie).
In gewone taal? As die trust rente verdien en die rente word in dieselfde belastingjaar aan ’n begunstigde toegeken, behou die rente sy vorm en word dit as rente in die hande van die begunstigde belas. Dit teen die skaal vir natuurlike persone, wat tussen 18% en 45% is met die jaarlikse rentevrystelling wat ook geld. In teenstelling met die belastingskaal vir trusts, wat ’n vaste koers van 45% hef, sonder enige vrystelling. Dit geld ook vir kapitaalwins wat aan ’n begunstigde uitkeer en wat teen ’n maksimum koers van 18% belas word ná die uitsluiting van R40 000 per jaar vir ’n begunstigde teenoor 36% as dit in die trust behoue bly en daar belas word, sonder enige uitsluiting. Die versoeking om trustinkomste aan ’n begunstigde toe te ken is dus groot. Ongelukkig kom dit ook teen ’n baie duur prys. Daardie begunstigde verkry só ’n gevestigde reg op daardie toekenning, al betaal dit nie aan hom of haar uit nie, maar bly behoue in die trust. Dit verloor al die beskerming wat die trust bied. By dood sal daardie toegekende bedrae in die begunstigde se boedel opgeneem word vir boedelbelasting. In lewe sal sy of haar skuldeisers toegang daartoe hê.
Wat is dus bereik?
Niks. ’n Belastingspeletjie, nie veel meer nie. En een wat jou kan byt.
Om af te sluit: Gewoonlik word bates aan ’n trust verkoop op leningsrekening. Die uitstaande leningsrekening is steeds ’n bate in jou boedel. Die argument ten gunste van ’n trust is dat jy met dié skuif die verdere groei in waarde van daardie bate uit jou boedel gehaal het. Die groeigedeelte sal dus nie in jou boedel val vir boedelbelasting nie. Maar as die trustees elke jaar die inkomste (veral as ons praat van beleggingsgroei) aan begunstigdes toeken, is jy mos besig om die groei – dit wat jy in die trust wil beskerm – in die begunstigdes te vestig. Dit verydel die hoofdoel van die trust.
Net ’n heel laaste punt oor trusts en inkomste aan begunstigdes. ’n Gereelde uitbetaling aan ’n begunstigde val nie onder die deurvloeibeginsel nie. Rente bly nie rente nie en word nie as rente belas met die gepaardgaande rentevrystelling nie.
So ’n gereelde uitbetaling is ’n annuïteit ingevolge die wet en dit is uitgesluit van art. 25. ’n Annuïteit word altyd belas as inkomste. Die hele bedrag. En as sodanig belas.
Ek sê weer, ’n trust het sy voordele en kan nuttig wees. Maar sy primêre doel is nie om belastings te probeer omseil nie, dit is om bates te hou tot voordeel van die trustbegunstigdes. Daar rus ’n fidusiêre plig op trustees om toe te sien dat die trust só bestuur word.
Nog raad
Meer oor art. 7 van die wet
In die hoofrubriek verwys ek na die agtingsklousules van art. 7 van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962). Ek gee hier meer inligting hieroor.
Art. 7 bevat ’n aantal teenvermydingsmaatreëls wat ten doel het om belastingvermyding te voorkom. Dit bepaal onder meer byvoorbeeld dat inkomste wat iemand toeval en wat voortspruit uit ’n skenking aan ’n gade, minderjarige kind, of nie-inwoner in die hande van iemand anders belas kan word. Kortom, dit word nie in die hande van die persoon wat die inkomste ontvang het, belas nie. Dit is belangrik om te verstaan as jy ’n skenking aan ’n trust gemaak het en daar is sulke persone as begunstigdes in die trust.
Ek het in die hoofrubriek gewys op die deurvloeibeginsel in art. 25B van die wet en hoedat rente ontvang byvoorbeeld in die hande van ’n begunstigde belas kan word as dit in dieselfde jaar aan ’n begunstigde toegeken word. Art. 7 kry egter voorkeur bo art. 25B. Al word die inkomste aan so ’n begunstigde toegeken, kan dit belas word in byvoorbeeld die hande van die skenker en nie in die hande van die begunstigde nie. Loop lig vir dié een.