’n Trust klink dalk na ’n slim manier om jou boedelbelasting te verminder — maar pasop vir die belasting-slang wat stilletjies in die gras lê en wag. Lees verder om uit te vind hoe verkeerde aannames jou duur te staan kan kom.
Pasop vir die belasting-slang van ’n trust
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 09 November 2025
Die sterkste verkooppunt van wat ons ’n tipiese familietrust kan noem, is nie soseer om vir iemand anders te voorsien nie, maar veel eerder op die boedelbelastingvoordeel wat dit inhou vir die oprigter van die trust, skryf Nico van Gijsen.
Ek kyk vandag kortliks na belastings rakende trusts.
Trusts word belas as ’n aparte entiteit ingevolge die Inkomstebelastingwet (58 van 1962).
’n Trust (uitgesluit ’n spesiale trust) betaal inkomstebelasting teen ’n koers van 45% vanaf die eerste rand op inkomste verdien. Dis soortgelyk aan die hoogste effektiewe marginale koers vir natuurlike persone. ’n Trust kry ook nie die jaarlikse rentevrystelling of belastingkortings soos natuurlike persone nie.
Inkomstebelasting en art. 25B
Wanneer inkomste wat deur ’n trust ontvang word, in dieselfde belastingjaar aan ’n begunstigde uitkeer, kom art. 25B van die wet ter sprake. Ons noem dit die deurvloeibeginsel.
Dit laat ons toe om inkomste wat die trust toeval, aan ’n trustbegunstigde uit te keer of toe te ken. Die inkomste behou sy vorm en dit word dan belas in die hande van die begunstigde teen die meer gunstige belastingskaal vir natuurlike persone.
Die bedrag word dan geag ’n bedrag toegeval aan die begunstigde tot sy of haar onmiddellike of toekomstige voordeel, wat dan ’n gevestigde belang daarop kry.
In sekere gevalle kan die belasting ook gehef word in die hande van die trust-oprigter en selfs ook iemand anders wat bates na ’n trust oorgedra het.
Dit word bereg deur art. 7 van die wet, die sogenaamde teenvermydingsmaatreëls. Dis te lank en omvattend om volledig hier te bespreek, maar dit kom daarop neer dat sekere inkomste van ’n trust belas kan word in die hande van die trust-oprigter, of iemand anders en nie in die hande van die begunstigde nie, al is dit aan die begunstigde toegeken.
Boedelbelasting en trusts
Die doel met ’n trust is om voorsiening te maak vir iemand anders, genoem die begunstigde, soos ek verlede week hier geskryf het.
Maar die sterkste verkooppunt van wat ons ’n tipiese familietrust kan noem, is nie soseer om vir iemand anders te voorsien nie, maar veel eerder op die boedelbelastingvoordeel wat dit inhou vir die oprigter van die trust.
Bates in ’n trust, mits dit korrek bestuur is, val nie in jou boedel vir boedelbelasting nie. Dis waar.
In gevalle waar die bates aan die trust verkoop is op leningsrekening, sal die uitstaande leningsrekening steeds ’n bate in jou boedel wees vir die berekening van boedelbelasting. Die groei in die waarde van die bate, tussen die tyd dat jy dit aan die trust oorgemaak het en jou dood, val buite jou boedel. Dit is dus nie vatbaar vir boedelbelasting nie. Dis ook waar.
Maar wat gebeur?
Oom Pietie se boekhouer vertel hom van trusts en boedelbelasting en oom Pietie rig ’n trust op. Hy dra bates, onder meer ’n strandhuis, oor na die trust.
Kom ons sê hy skenk dit, dan sal hy geskenkebelasting betaal teen 20% (25% op die bedrag bo R30 miljoen), dieselfde as sou dit in sy boedel belasbaar wees by dood. Maar nou is dit uit sy boedel uit en nie vatbaar vir boedelbelasting nie.
Kom ons sê hy verkoop dit op leningsrekening aan die trust. Die uitstaande leningsrekening is steeds ’n bate in sy boedel, totdat die trust die skuld aan hom terugbetaal het. Dit val in sy boedel vir boedelbelasting en krediteure het daartoe toegang.
Maar nou hoor oom Pietie ook van die kwaai koers waarteen die trust inkomstebelasting betaal en sy boekhouer sê: “Toemaar, oom Pietie, ons ken die inkomste toe aan die trustbegunstigdes en dan word dit in hul hande belas.” (Art. 25B, waarna ek hierbo verwys.)
En oom Pietie dink, sjoe, maar dis slim.
Maar dis nie altyd so slim nie. Deur die inkomste toe te ken aan ’n begunstigde, kry dié begunstigde ook ’n gevestigde reg op die groei wat die belasting tot gevolg gehad het.
Die waarde daarvan val nou in die boedel van dié begunstigde. Hy of sy sal daarop boedelbelasting moet betaal wanneer hulle sterf, sou boedelbelasting betaalbaar wees.
Die begunstigde se krediteure sal kan beslag lê op dié belang sou so ’n begunstigde in ’n geldpenarie beland.
Die verdere punt is die bate se waarde groei nie in die trust nie; die groei beland in die hande van begunstigdes, met die gevolge wat ek hierbo noem.
Oom Pietie betaal dus baie geld en bereik eintlik nie veel nie.
Sou die trustees besluit om die strandhuis te verkoop, moet ons kyk na par. 80 van die 8ste skedule van die inkomstebelasting, saam met art. 25B. Dit hanteer kapitaalwinsbelasting (KWB).
Die kapitale wins kan eweneens, soos gewone inkomste, aan ’n begunstigde toegeken word, in welke geval die begunstigde die KWB sal betaal.
Weereens, gebeur dit, kry die begunstigde ’n gevestigde reg op die kapitale wins. Met dieselfde gevolge vir boedelbelasting en blootstelling aan krediteure waarna ek hierbo verwys.
Wat kan jy doen?
Beleggings deur ’n trust, sou ek sê, “moet” in ’n polis gedoen word. Die inkomstebelasting betaalbaar in ’n polis is 30%, teenoor 45% in die trust. KWB word gehef teen 12%, teenoor 36% in die trust. Enigeen kan dit seker verstaan.
Ná vyf jaar kan begunstigdes ’n belastingvrye inkomste uit die trust kry. Dis onnodig om belastingspeletjies, soos hierbo bespreek, te probeer speel en effektief die werklike nut van ’n trust tot niet te maak.
Om die uitstaande leningsrekeningprobleem op te los, kan ’n lewenspolis deur die trust uitgeneem word om die agterstallige skuld te dek.
Dan is die trustbates beskerm.



