Voorsien só vir gade ná jou dood

Ontdek hoe jy vir jou gade kan voorsien ná jou dood terwyl jy ook ander verpligtinge het. Lees meer oor die uitdagings en oplossings vir getroudes en diegende wat saamwoon.


Voorsien só vir gade ná jou dood

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  05 Mei 2024

Hou dít in gedagte as jy ook ander verpligtinge het

Baie mense worstel met die probleem oor hoe om vir ’n langslewende gade voorsiening te maak ná die ander een se dood.

En nou praat ek nie van mans wat hul vroue weghou van die finansies met ’n “ek sal vir jou sorg”-houding waaroor ek verlede week geskryf het nie (“Bly en bou . . . maar wat van jou 2deklas-vrou?”, Rapport, 28 April 2024).

Ek wil vandag fokus op getroudes en diegene wat saamwoon, wat op gelyke voet staan wat hul finansies betref. En dalk uit hul eie bates ook verpligtinge teenoor ander het.

Of iemand anders wil bevoordeel, soos kinders uit ’n vorige huwelik, maar nie hul nuwe huweliksmaat, of lewensmaat, heeltemal wil onterf nie.

Die waarheid is, mense se omstandighede verskil. Mense se vermoëns verskil. Mense se behoeftes verskil.

Daar is wat my betref niks fout met die bemaking van alle bates aan mekaar nie. As julle jul lewe saam begin het, alles wat julle bymekaar gemaak, saam hard voor gewerk en gespaar het, hoekom dan nie maar alles dan eenvoudig aan die ander oorlaat ná die sterfte van die eerste van julle nie?

Durf ek dit sê?

Omdat manlief uit die graf wil regeer? Omdat hy bang is vroutjie kry ’n nuwe man, en nuwe man sit dan dalk op die ou end nie net met sy vrou nie, maar ook met sy geld en goed?

Dit kan andersom ook wees, maar mans sterf gewoonlik eerste, dié dat ek vir manlief as voorbeeld noem.

En daar is tweede huwelike, of tweede verhoudinge wat bedoel is om permanent te wees. Met kinders uit ’n vorige huwelik wat jy graag ook wil bevoordeel. Of minderjarige kinders.

Hoe dan gemaak?

’n Goeie bedrag lewensversekering op elkeen se lewe begunstig aan die ander is die eerste en maklikste oplossing in laasgenoemde geval (tweede verhoudinge). Dit sal bates waarmee julle in die verhouding ingekom het, beskerm vir jul eie kinders, sonder om afbreuk te doen aan die vereiste van wedersydse ondersteuning en versorging in ’n liefdesverhouding.

Maar dit alleen is selde genoeg vir die lewenslange versorging van ’n oorlewende gade, of lewensmaat.

As albei ’n inkomste het, voorsiening gemaak het vir aftrede en eie bates besit, is dit makliker. As een in die verhouding inkom met min of niks en die een wat het, het kinders, is die gort gaar, glo my.

Dit is in sulke situasies waar die sogenaamde beperkte regte ’n rol kan speel. Jy wil vir jou nuwe lewensmaat voorsien, maar jy wil nie jou kinders onterf nie.

’n Vruggebruik oor eiendom is een so ’n beperkte reg. Dit gee aan die vruggebruiker (die oorlewende gade) die reg op die vrugte van die bate waaroor die vruggebruik geskep is. Dit is nie hare (as dit die vrou is) nie. Sy het ’n vruggebruik oor die boom, maar sy is net geregtig op die vrugte aan die boom. Die boom (die blote eiendom) behoort aan iemand anders, jou kind.

In die geval van ’n vruggebruik oor ’n woonhuis kan sy daarin woon of sy kan dit verhuur en die huurgeld vir eie gebruik aanwend. Sy moet die vruggebruikeiendom in stand hou en in dieselfde toestand as waarin sy dit gekry het, oorgee wanneer die vruggebruik verval.

Twee ander beperkte regte wat ’n mens kan oorweeg

’n Gebruiksreg (usus) gee aan haar die gebruik van die “vrugte” wat sy daagliks nodig het. Niks meer nie. Sy sal ’n woonhuis byvoorbeeld nie kan verhuur nie.

’n Woonreg (habitatio) bied aan haar die reg om die eiendom te bewoon, maar sy het geen ander regte nie. Anders as met ’n gebruiksreg, sou sy wel die eiendom kon verhuur.

Laat ek net noem dat hierdie beperkte regte eers goed deurdink moet word in samewerking met ’n kundige finansiële raadgewer. Dit kan probleme vorentoe veroorsaak – probleme waaraan jy niks sal kan doen nie, want jy is dan weg.

Jy kan ook bates aan ’n trust bemaak ten gunste van ’n langslewende gade. Dit verg ook insette van ’n kundige finansiële raadgewer. Om net ’n testament op te stel en ’n trust daarin te skep is bloot nie goed genoeg nie.

Om te verseker dat jy die boedelbelastingaftrekking vir ’n bemaking aan ’n langslewende gade kry ingevolge art. 4(q) van die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955), moet die oorlewende gade die alleenreg op die inkomste hê. Die trustees moet dus nie ’n diskresie daaroor kan uitoefen nie. By sterfte van die langs- lewende gade kan die trust ontbind en die bates tussen die kinders verdeel word.

Die bemaking van die beperkte regte wat ek hier bo noem, is eweneens aftrekbaar vir boedelbelasting ingevolge ’n bepaalde formule wat die waarde van die eiendom en die opbrengs daaruit oor die lewensverwagting van die oorlewende gade in ag neem.

Van boedelbelasting gepraat: Dit sal tot jou voordeel wees om liewer vir ’n langslewende gade voorsiening te maak uit ander bates as uit jou lewende annuïteit of uittree-annuïteit. En laasgenoemde eerder aan die kinders te begunstig.

Die pensioenprodukte val nie in jou boedel vir boedelbelasting nie. Deur dus daarmee te voorsien vir ’n langslewende gade het geen boedelbelastingvoordele nie.

Ander bates val wel in jou boedel. Deur liewer dit te gebruik om vir ’n langslewende gade te voorsien, kan jy die boedelbelastingaftrekking gebruik.


Nog raad

Testamente – wie nie kan erf nie

Sekere persone is nie geregtig om te erf nie (Wet op Testamente (Wet 7 van 1953):

  • Enige persoon wat ’n testament as ’n getuie onderteken het;
  • Enigeen wat ’n testament onderteken in die teenwoordigheid en op aanwysing van die testateur; en
  • Enige persoon wat ’n testament of enige deel daarvan in sy eie handskrif opstel, sowel as die gadevan daardie persoon.

’n Hof mag anders beveel indien die hof oortuig is dat daar geen bedoeling was om bedrog te pleeg of om die testateur te beïnvloed oor hoe om te bemaak nie.

So ’n persoon sou kon erf indien hy of sy ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987) geregtig sou wees om te erf, maar dan beperk tot die bedrag waarop hy of sy as sodanig geregtig sou wees.

In die geval van ’n egskeiding deur ’n bevoegde hof sal enige bemaking aan die voormalige gade gehanteer word asof hy of sy reeds dood was teen die tyd van die egskeiding, as die testament opgestel was voor die egskeiding en die testateur oorlede is binne drie maande ná die egskeiding.

Die gemene reg het ’n paar beperkings oor wie nie mag erf nie. Die “bloedige hand” is een bekende voorbeeld.

Scroll to Top