Tweede huwelike en kinders se erfgeld

Tweede huwelike kan ‘n komplekse mengsel van liefde en finansiële oorwegings wees, veral as daar kinders is wat later moet erf. Hoe beskerm jy jou kinders se erfenis sonder om die vlam van nuwe liefde te blus?


Tweede huwelike en kinders se erfgeld

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  04 Augustus 2024

Saam intrek bring dadelik jou geld in die gedrang

Mense in tweede verhoudings later in hul lewe worstel baie met die vraagstuk: Hoe kan ek seker maak dat my kinders se erfgeld vir hulle behoue bly? Dit is een van die vrae wat ek dalk die meeste van lesers kry.

Gewoonlik is sulke mense dan reeds in ’n volgende huwelik of in ’n saamwoonverhouding.

Vandag wil ek fokus op verhoudings wat nog besig is om vlam te vat. Jy weet, of hoop, wat gaan kom, maar jy het kinders en jy wil vir hulle voorsien.

Laat ek begin met ’n stelling.

’n Huwelik of langtermyn-verhouding het ’n geldelike komponent van dag een.

Gewoonlik is mense so meegevoer met nuwe liefde en dit wat daarmee saamgaan dat die finansiële kant misgekyk word.

En hier is nog ’n stelling.

As jy wil seker wees dat jou geldjies nie in die gedrang kom nie, vry liewer in die bondel. Die oomblik dat julle by mekaar intrek, raak dit ’n rand-en-sent-storie ook.

’n Gesprek met iemand die afgelope week het my gedagtes aan die gang gesit. Sy en iemand is besig om vir mekaar ogies te maak en dit lyk of dinge na ’n kant toe kan beweeg. Sy lees gereeld hierdie rubriek en weet van die probleme met tweede huwelike en kinders en erfgeld.

Sy het ’n paar miljoen rand op belegging. Is daar ’n manier om daarvan vir haar kinders eenkant te hou, sou dinge op trou uitloop?

Sy het met ’n interessante voorstel gekom: Wat van geld in ’n polis belê en dan die polis aan die kinders begunstig? Ek kom terug na hierdie interessante punt toe.

Wat is die keuses?

Skenk

Jy kan nou geld (of enige bate, selfs ’n huis) aan die kind skenk. Dit is die sekerste, maar nie die sinvolste ding om te doen nie.

Die bate (geld of huis) behoort dan aan die kind. Dit is nie meer joune nie.

Geskenkbelasting kom ter sprake as die skenking meer is as R100 000. Tot R30 miljoen is dit 20% belasting wat jy gaan betaal op die waarde van die bate en dan 25% op die res.

Polis

Jy kan geld in ’n polis belê en die kind die begunstigde maak. Dit sal verseker dat jy jouself nie verarm nie (deur dit andersins te skenk), want jy kan ter enige tyd geld uit die polis onttrek.

By dood val die geld nie in jou boedel nie en betaal direk aan die kind. Neem tog net kennis dat dit wel ’n geagte bate in jou boedel sal wees vir boedelbelasting.

Die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) laat toe dat ’n langslewende gade ’n eis teen die boedel van die oorledene het vir billike onderhoud. Die eis word by die eksekuteur ingedien.

Hier is nou die interessante punt: Ek het gesoek, maar kon nie regspraak hieroor kry nie, so dit is wat ek sou argumenteer as ek in ’n hof sou moes getuig hieroor.

Sien dit dus as my gedagtes. ’n Hof kan anders beslis. Hier is my argumente:

  • Die eis om onderhoud is teen die boedel van die oorledene. Die polis val nie in die boedel nie. Die eksekuteur werk nie daarmee nie;
  • Die poliswaarde is wel ingesluit as geagte bate vir boedelbelasting. Maar dit is vir die doeleindes van ’n bepaalde wet (om boedelbelasting te kan hef ). Dit beteken nie dit kan in ag geneem word vir enige ander rede nie;
  • Die polis word uitgeneem op die lewe van die persoon. Dit is ’n kontrak tussen die versekeraar en die persoon. Deur ’n begunstigde aan te wys word die versekeraar kontraktueel verplig om die geld aan die begunstigde uit te betaal by die dood van die poliseienaar; en
  • Ek sal verder gaan en die kind of kinders as ’n tweede versekerde lewe op die polis voeg. Dan gaan besit van die polis self onmiddellik oor na die kind by die dood van die ouer (die poliseienaar).

Uittree-annuïteit (UA)

Jy kan jou geld in ’n uittree-annuïteit belê en die kind as begunstigde aanwys. Dit is by dood geheel en al uit jou boedel uitgesluit, ook vir boedelbelasting.

Maar hier is (van) die probleme met ’n UA:

  • Jy het nie meer toegang tot die geld nie. Jy gaan ’n pensioen moet koop met die geld (uitgesluit die eenderde wat jy in kontant sal kan neem) sou jy daarvan wou gebruik om van te leef; en
  • Art. 37(D) van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956) laat toe dat die geld in ’n UA in ag geneem kan word by egskeiding.

Trust

Jy kan die geld na ’n trust oordra en die kinders begunstigdes in die trust maak. Dan het jy ook weer dieselfde probleem as om die geld te skenk – geskenkbelasting.

Of jy kan dit aan die trust leen in welke geval die uitstaande lening aan jou ’n opening laat vir enige eiser.

’n Mens wil nie graag aan die hand doen dat iemand wat nuwe liefde vind eers die ander se bankstate nagaan nie (hoewel dit sal help). Dit kan die vuurtjie blus.

Alternatiewelik, en moenie hierdie voorstel geringskat nie, gaan oop arms in jou nuwe huwelik in, maar neem die maksimum lewensversekering uit met jou kinders as begunstigdes.


Nog raad

Uittree-annuïteite en boedelbelasting

’n Leser het die afgelope week navraag gedoen oor twee stellings wat ek vroeër in ’n rubriek gemaak het.

’n Uittree-annuïteit (UA) word nie in jou boedel opgeneem vir boedelbelasting nie.

Ná uittrede kan die geld wat jy in die UA gespaar het en wat jy nie kon aftrek vir belasting nie, ’n belastingvrye inkomste (pensioen) voorsien.

Hy vra of ’n UA dan nie as ’n geagte bate in die boedel opgeneem word vir boedelbelasting nie.

Nee, dit is heeltemal vrygestel van boedelbelasting. Jou bydraes tot ’n UA (of enige pensioenfonds) is aftrekbaar vir inkomstebelasting tot die minste van R350 000 of 27,5% van inkomste per jaar.

Jou boedel hoef geen rekenskap hiervan te gee nie. Jou begunstigdes, as hulle die geld laat uitbetaal, sal belas word ingevolge die tweede bylae van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) of jy die dag voor jou dood uitgetree het. Niks met boedelbelasting te doen nie.

Sou jy meer in die UA gespaar het as dit wat jy kon aftrek vir inkomstebelasting, soos ek hierbo noem, sal daardie deel van die geld wel in jou boedel opgeneem en in ag geneem word vir boedelbelasting. Maar daarna sal dit ’n belastingvrye pensioen voorsien. Totdat dit opgebruik is, natuurlik.

Scroll to Top