In ‘n saamwoonverhouding is daar finansiële risiko’s betrokke, en die vraag oor trou of ‘n saamwoon-ooreenkoms is ‘n geldige oorweging.
Saamwoon of trou: Dit bly ’n geldstorie
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 22 Oktober 2023
Trou eerder of stel ’n ooreenkoms op as julle saamwoon
“Tot die dood ons skei.” As jy in ’n saamwoonverhouding is, is dié woorde van die huweliksformulier dalk die enigste stukkie finansiële gemoedsrus wat jy het. Hy gaan eers móét lepel in die dak steek. Dis ’n vereiste. Liefs sonder jou hulp, asseblief. Maar laat ek nie weghardloop hiermee nie.
Ons onderwerp vandag begin by ’n vraag van vriende van ons, albei geskei en in ’n baie gelukkige saamwoon-verhouding. Dink jy ons moet liewer trou? Kom ons kyk. Die belastingwette is al so aangepas dat bemakings (en skenkings) tussen mense in langtermynverhoudings, wat bedoel is om permanent te wees, dieselfde aftrekkings en kortings teenoor mekaar geniet as getroudes.
En by dood van een van julle?
Dit kan dalk ’n geveg afgee as familie of erfgename begin stry oor geld. Dan sal die oorlewende lewensmaat moet begin bewyse aan ’n hof voorlê oor hoekom sy (dis gewoonlik die vrou) meen die verhouding was bedoel om permanent te wees (die vereistes). Dit terwyl sy die belangrikste getuie nie kan roep nie.
Ek het al voorheen hieroor geskryf en gewys op die uitspraak in die saak Bwanya v. die Meester (2022), “Saambly: Dink mooi voor jy intrek”, (Rapport Beleef, 19 Maart 2023). Ek wil graag net eers met respek erkenning gee aan Kgopotso Maunatlala, lektor in die departement privaatreg aan die Universiteit van Pretoria, se aanbieding vandeesweek by die 13de Jaarlikse Fisa-konferensie in Sandton waarin sy spesifiek die Bwanya-saak behandel het. En soortgelyke vrae daaroor opper as ek. Net meer van hulle. En meer akademies gefundeer.
Ek leen vryelik hieruit, maar sonder om alles wat ek skryf op haar brood te wil smeer. Ek skryf wat ek skryf en ek staan soos altyd self pa daarvoor.
Weet wat die Grondwet bepaal
Kortliks net, die konstitusionele hof het bepaal (in Bwanya) dat die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987) en die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) aangepas moet word. Die woord gade (spouse) moet voortaan insluit ’n persoon in ’n permanente lewensvennootskap waarin die vennote wedersyds teenoor mekaar ’n verpligting op ondersteuning onderneem het. Dis baie meer langdradig, maar dit is die kern.
Dit is lynreg teenoor die uitspraak in die saak Volks v. Robinson (2005) waarin die hof beslis het dat ’n oorlewende lewensmaat nie kan eis teen die boedel van die oorlede lewensmaat nie. Die argument was, jy het gekies om nie te trou nie, jy kan nie later die voordele van ’n huwelik kom opeis nie. In Bwanya is hierdie betoog verwerp op grond daarvan dat permanente lewensmaats beskerming verdien, soos ek noem in my rubriek van 19 Maart. Terloops, die wetswysiging is nog nie aangebring nie (dit moes 30 Junie gewees het).
Hoe raak dit jou?
Dis die ellelange agtergrond. Hoe raak dit jou as jy in ’n saamwoon-verhouding is? En ons vriende se vraag, moet hulle liewer trou?
Alles gaan nie altyd net oor geld nie, so kom ons dink net eers oor die verhouding self en die emosionele kant daarvan. Veral in ’n verhouding ná ’n egskeiding.
Die risiko is altyd daar dat (die vrou in die meeste gevalle) vir altyd deur die man se vriendekring en sy groter familie as die “ander vrou”, of “Ou Gert se girlfriend” gesien gaan word. Haar status is net op ’n mindere vlak, of mense dit wil erken of nie. En as daar kinders is, is dit gewoonlik nóg erger (gegewe my ervaring uit lesers se opmerkings deur die jare). Al word die vrede bewaar solank as wat pa nog leef, bars die swere oop sodra hy sterf en die bakleiery oor geld begin.
Maats in saamwoon-verhoudings kan nou eis teen die boedel
Die Bwanya-saak het die deur oopgemaak vir saamblyers om te kan eis teen die boedel. Dit maak nie saak of daar aan die langslewende lewensmaat ’n testamentêre bemaking gedoen is nie. Dit is baie kere (gewoonlik?) te min en dan moet daar ’n eis ingestel word ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades. En dit is waar sy bewyse gaan moet begin gee.
Hoe bewys jy dit was ’n “permanente lewensvennootskap”? Hoe bewys jy die “wedersydse verpligting op ondersteuning”? Hoe lank is “permanent”? As julle net ’n maand saam was? Of is dit ’n jaar?
En die ander risiko, terwyl ons op die punt is, wat as dit regtig net ’n los verhouding was waar julle ’n ruk saam ingetrek het en jy skop die emmer. Om by jou geld uit te kom, kan sy mos maklik sê, ja, maar dit was bedoel om lewenslank te wees.
Was dit bedoel as lewenslank?
Ja, ja, ek weet dit was lewenslank, maar was dit so bedoel? En ouer mans met jonger bokkies, so verneem ek, kan maklik ’n hartaanval kry van die te veel inspanning.
Hoe ook al, my eintlike punt vandag is nie dat lewensmaats nie kan erf of eis nie. Hulle kan. Maar eers as hul lewensmaat dood is. Dis die punt.
Daar is geen beskerming vir jou vir onderhoud as die ander party besluit dis nou genoeg, jy kan maar gaan nie. Die Egskeidingswet het geen beskerming vir lewensmaats nie. Trou is sekerder. Vanuit ’n persoonlike en emosionele oogpunt. Ook vanuit ’n geldelike oogpunt, sonder die vereiste van dood. ’n Oplossing sou dalk wees om ’n saamwoon-ooreenkoms op te stel. Dis soos ’n huweliksvoorwaardekontrak. Hoekom dan nie maar trou nie?
Nog Raad
Dié belasting is nie so eenvoudig
Iemand noem dat hy raad gekry het om sy lewende annuïteit aan sy kinders te begunstig en sy ander beleggings aan sy vrou. Die argument sou wees dat die lewende annuïteit nie in jou boedel val nie en dus uitgesluit is van boedelbelasting. Die ander beleggings val in jou boedel en kom dus in berekening vir boedelbelasting.
Bemakings aan ’n gade – ingesluit ’n lewensmaat in ’n permanente langtermynverhouding – is aftrekbaar vir boedelbelasting. Kortom, doen jy dit op dié manier – geld aan jou vrou (aftrekbaar) en die lewende annuïteit aan jou kinders (uitgesluit uit jou boedel) – is geen boedelbelasting betaalbaar nie.
Nee, dink weer. Boedelbelasting word gehef op die belasbare boedel teen 20% (as die boedel onder R30 miljoen is). Dit is ná alle aftrekkings en die boedelbelastingkorting van R3,5 miljoen. As die kinders die lewende annuïteit in kontant omskep (en hoeveel erfgename gaan dit nie doen nie?), is belasting daarop betaalbaar op ’n glyskaal tussen 18% en 36% (op alles bokant R1 155 000). Trek hulle ’n inkomste uit die lewende annuïteit is dit belasbaar as inkomste tussen 18% en 45% (sonder inagneming van enige kortings). En dit om belasting van 20% te vermy.
Kry liewer jou finansiële raad by spesialiste.