Nuwe liefdesverhoudings het almal uitdagings en oorwegings. Nico ondersoek die komplekse landskap van liefde en geldsake, insluitend die waarde van ‘n voorhuwelikse ooreenkoms en die noodsaaklikheid van finansiële onafhanklikheid.
Ouma en haar Blink Stefaans
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 21 Januarie 2024
Stel maar eerder daardie kontrak op vir trou (of saambly)
‘Hoe gemaak met Ouma se nuwe liefde?” Ek dog eers dis dalk ’n vraag gerig aan een van Rapport se ander rubriekskrywers. Dr. Jani, dalk, sy wat weet van alles. Of Hanlie Retief, sy wat wíl weet van alles.
Maar vir my? Ek skryf tog oor geld- sake, nie liefdesake nie. Ek dog toe laat ek maar lees, dalk is daar iets in waarmee ek my vrou kan beïndruk. Hier is dit: “Ouma is ’n weduwee en het goed geërf by Oupa,” skryf die leser. Sy is in haar vroeë 60’s en aktief betrokke by ’n aantal ondernemings.
“Sy ontmoet toe vir Blink Stefaans. Die liefde blom en Blink Stefaans wil trou.
“Blink Stefaans sê hy wil nie meer in ‘sonde leef’ met Ouma nie, maar het ook nie geld vir ’n prokureur om ’n huwelikskontrak op te stel nie.
“Blink Stefaans stel voor hy en Ouma hou ‘net ’n seremonietjie’ in die kerk (met ’n gewillige dominee) sonder om die ‘huwelik te registreer’, maar voor God en die getuies is hulle dan getroud sonder al die ‘onnodige papierwerk’.
“Hoe geldig is die ‘seremonie’? Wat sal u vir Ouma aanbeveel om te doen?”
Respekteer gou eers vir Ouma
Kom ons kry net eers die speelveld min of meer gelyk.
Die gebruik van “ouma” hier is vir my ietwat neerhalend. Is iemand skielik dom omdat sy Ouma heet?
Sy is Ouma nie deur haar eie toedoen nie, boeta, jy en jou vrou het haar ’n ouma gemaak.
En hoekom bevraagteken jy haar liefdeslewe? Het sy ingemeng toe jy en jou vrou mekaar begin voel en vat het?
Kom ons begin dus met bietjie respek: Sy is ’n mens. En dit wat sy van Oupa geërf het, is hare om mee te maak wat sy wil. Julle kinders se reg om te erf is totaal afhanklik van haar wil om te bemaak. Net dit. Haar wil.
Goed. Kom ons kyk nou in die algemeen na die tipiese geldgevolge. Nie net vir oumas nie, maar elke ander persoon wat ’n man of vrou aan die dood afgestaan het (of geskei is) en toe weer liefde gevind het. Of julle nou trou of net saamwoon.
Liefde is mooi. Lees gerus 1 Korintiërs 13. Onder meer staan daar: “Dit (liefde) bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Ek weet nie so mooi die “bedek alles” nie, maar kom ons los eers die stuitigheid. Wat ek sowaar nie daar lees nie, is dat jy jou geld op die altaar moet plaas om liefde te wen.
Hou jou geldsake uit die slaapkamer
My raad aan alle vrouekliënte (en mans wat wil luister) is om jou geldsake uit die slaapkamer te hou. As geld en liefde eers verstrengel raak, sit jy sommer gou sonder een van die twee.
Ek verstaan nie Blink Stefaans (in ons leser se brief ) se plan met die skynhuwelik nie. Hy wil nie in “sonde” leef nie, maar tog ’n vals huwelik beklink? En dit (nogal) voor God? Met ’n dominee? Voor ander getuies? Ek meen dan is dit ’n huwelik. Papierwerk of nie. Met al die gevolge van ’n huwelik.
En ek sal sê sommer ook ’n huwelik binne gemeenskap van goed as daar nie ’n voorhuwelikse kontrak opgestel is nie. Wat tot gevolg sal hê dat hulle voortaan alles om die helfte gaan besit. Dit wat hulle nog gaan kry en dit wat hulle reeds gehad het.
Geen mens wil, as jy die liefde-bewerasies begin kry, die ander party se bedoelings bevraagteken nie. “Glo alles, hoop alles,” maar sorg vir jou eie finansiële onafhanklikheid.
Stel daai voorhuwelikse kontrak op
Stel gerus ’n voorhuwelikse kontrak op. En moenie dink as julle net wil saam woon dit nie nodig kan wees om ’n saamwoon-ooreenkoms op te stel nie.
My goeie vriend Pieter, ’n prokureur, het jare gelede al oor ’n glas wyn vir my laat verstaan dat dit beter is om ’n kontrak te hê en dit nie nodig te kry nie as om een nodig te kry en dan nie te hê nie.
Ons howe het in die afgelope jaar of drie al met beslissings vorendag gekom wat, vreemd of nie, die regsgevolge van ’n huwelik eenvoudig deurtrek na saamwoonverhoudings. Ongeag die feit dat almal deesdae die keuse het om te trou of om ’n formele burgerlike verbintenis aan te gaan.
Die groot probleem wat dit skep, is dat by dood die oorlewende party eenvoudig kan aanvoer dat daardie verhouding bedoel was om permanent te wees en siedaar, dis of julle getroud was. En jyself? Jy kan maar bloot die besigheid beloer daar doer vanwaar jy ook die ewigheid gaan deurbring.
Kry dus maar daardie prokureur. En kry daardie kontrak. En dan, kry vir jou ’n goeie finansiële beplanner wat vir jou die geldrisiko’s kan uitwys en jou kan help om jou geld- sake te bestuur.
Ek hoor te veel van (ander) Blink Stefaanse wat saam met die liefde sommer geldbeheer ook oorneem. Nie almal is edel in hul bedoelings nie.
Hierdie is ’n paar riglyne. Goed om aan te dink. Dit is nie voorskriftelik nie. Dit is nie eens “goed bedoelde” advies nie. Maak daarmee wat jy wil. Maar as jy nie finansieel onafhanklik bly nie, gaan jy binnekort by iemand moet bakhand staan.
Nog raad
Pasop vir onnodige belasting op erfgoed
Erfgename kry gewoonlik hul erfbates vry van belasting. Of om meer presies te wees, nadat belasting daarop betaal is. Maar tog gebeur dit soms dat erf- gename hul eie grootste vyande is en skep hulle belasting op erfgoed wat nie belasbaar hoef te wees nie. Soos vaste eiendom.
Die Wet op Hereregte (Wet 40 van 1949) bepaal dat hereregte betaal word op die waarde van enige eiendom wat verkry word by wyse van ’n transaksie of op enige ander wyse.
Hereregte is ’n belasting wat betaal word deur die verkryger van die eiendom. Maar daar is uitsonderings. Art. 9 van die wet bepaal dat hereregte nie gehef word op eiendom bekom van ’n oorledene nie, hetsy dit testamentêr bemaak is of intestaat vererf.
Die probleem is dat erfgename soms nie saamstem met die oorledene se bemaking nie en dan aandring dat die bate verkoop en die geld onderling verdeel word.
As dit kan, moet so iets vermy word, want in sulke gevalle is hereregte wel betaalbaar, al word dit uit die boedel gekoop deur ’n erfgenaam. Dit is beter om ’n herverdelingsooreenkoms van erfbates aan te gaan, in welke geval art. 9 wel van toepassing sal wees.