Nuwe gade? Maak seker jy onterf nie jou kinders

Liefde bring ‘n nuwe begin, maar dit kan ook onverwagte regsgevolge hê. Watter regte het jou nuwe lewensmaat – en kan dit beteken dat jou kinders uit ’n vorige huwelik sonder erfenis agterbly?


Nuwe gade? Maak seker jy onterf nie jou kinders

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  31 Augustus 2025

Met ’n nuwe verhouding is daar ’n werklike kans dat jy jou kinders uit ’n vorige huwelik kan onterf, skryf Nico van Gijsen.

’n Mens wil nie alleen leef nie. Ná afsterwe van die een lewensmaat, of ná ’n egskeiding, is baie mense gou in ’n nuwe verhouding. Die liefde laat hom nie voorskryf nie.

Maar daar is wetlike gevolge. Een van hulle, die een wat ek vandag gaan uitpluis, is dat daar ’n werklike kans is dat jy met so ’n nuwe verhouding jou kinders uit jou vorige huwelik kan onterf. Nie noodwendig nie, maar die kans is daar.

Kom ons kyk. Ek bespreek eers die wet, dan die gevolge.

Die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades

Alles draai rondom die bewoording van die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (wet 27 van 1990). ’n Goedbedoelde wet, meen ek, maar met dalk ook onbedoelde gevolge.

Dié wet bepaal dat die oorlewende gade by die dood van ’n persoon ’n eis teen die boedel van die oorledene het vir die voorsiening van redelike onderhoud tot en met daardie oorlewende se dood, of hertroue, en wel in die mate waarin daardie persoon nie self kan voorsien nie.

Soos die naam van die wet aandui, was dit van toepassing op mense wat getroud was.

Trouens, dit is só in regspraak bevestig in die saak Volks v. Robinson (2005), waarin die hof beslis het dat ’n oorlewende lewensmaat (ongetroud) nie ingevolge hierdie wet teen die boedel van die oorlede lewensmaat kan eis nie. Die argument was: Jy het gekies om nie te trou nie; jy kan nie later die voordele van ’n huwelik kom opeis nie.

Maar toe kom Bwanya v. die Meester (2022) en verwerp hierdie argument. Permanente lewensmaats verdien beskerming, was die uitgangspunt.

Kortliks net, die Grondwethof het uiteindelik bepaal dat sowel die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987) as die genoemde Wet op Onderhoud van Langslewende Gades gewysig moet word.

Die woord “gade” in die wet moet voortaan ingesluit het ’n persoon in ’n permanente lewensvennootskap waarin die vennote wedersyds teenoor mekaar ’n verpligting op ondersteuning onderneem het.

Dis ’n nuwe draai. Enersyds bied dit nou ook beskerming aan mense wat besluit hulle woon saam sonder om te trou. Andersyds maak dit die deur oop vir mense in Ioslappie- verhoudings om ingevolge hierdie wet teen ’n boedel te eis. Of is ek sommer sinies?

Kom ons los dit eers daar.

Regsgevolge van die wet

Die wet (art. 2) bepaal dat so ’n eis voorkeur sal geniet bo enige testamentêre bemaking.

Die eis van die oorlewende gade (onthou, saamblyers ingesluit) het dieselfde regskrag as die eis van ’n afhanklike kind van die oorledene.

Sou ’n eis vir ’n afhanklike kind meeding teen dié van die oorlewende gade, word die eise proporsioneel verminder. Nie-afhanklike kinders moet wag en kyk wat oorbly.

Dit is dus duidelik dat die wet jou testeervryheid kan inperk, want effektief kan daar in die geval van so ’n eis nie altyd gevolg gegee word aan jou testamentêre bemakings nie.

Kortom, jou volwasse, nie-afhanklike kinders kan dan net deel in wat oorbly. Ás iets oorbly.

Wat my bring by die volgende vraag: Vir hoeveel kan so ’n gade eis? Die wet (art. 3) bepaal dat die volgende in ag geneem word:

  • Die grootte van die boedel wat beskikbaar is vir verdeling tussen die erfgename;
  • Die verdienvermoë van die oorlewende gade, ingesluit sy of haar verpligtinge (ook skuld); en
  • Die lewenstyl waaraan hy of sy tydens die huwelik gewoond was.

Laasgenoemde is vir my baie belangrik. Jy kan klaarkom met min geld, maar om ’n sekere lewenstyl te kan volhou, kan heelwat meer kos.

Kortom, die wet help en beskerm, maar die wet kan ook onbedoelde gevolge hê. Soos dat jou volwasse en onafhanklike kinders uit ’n vorige huwelik weens ’n eis ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades onterf kan word.

Hier is ’n voorbeeld. ’n Vrou het ons ná haar man se dood genader. Die twee het saam ’n woonstel besit. Die man het sy helfte aan sy kind uit ’n vorige huwelik bemaak. Die vrou behou haar helfte uit hoofde van hul huwelik binne gemeenskap van goed.

Dit was byna die enigste bate in die boedel. Die vrou het ons genader en ’n eis is ingevolge hierdie wet ingestel. Die uiteinde was dat die vrou die man se aandeel in die woonstel verkry het en die dogter haar erfenis kwyt is.

Wat nou?

Die logiese vraag op baie se lippe is seker: Wat kan ek doen om my kinders se erfenis te beskerm? Die antwoord is problematies.

Eerstens, juis omdat die wet bedoel is om beskerming te bied vir langslewende gades (ingesluit die ander party in ’n saamblyverhouding).

Tweedens, en moet dit nie ligtelik opneem nie, deur met iemand te trou, of saam te woon met die verstandhouding van ‘n lewenslange verbintenis, neem julle wedersyds ook die verantwoordelikheid van ondersteuning en versorging.

Jy is dus onder ‘n morele en etiese verpligting. Die wet sorg bloot dat jy dit nakom. Nietemin, hier is enkele voorstelle om te voorkom dat jou kinders onterf word:

  • Skenk. Jy kan nóú geld (of enige bate, selfs ’n huis) aan die kind skenk. Dit is die sekerste, maar ook nie altyd die mees sinvolle ding om te doen nie. Die bate (geld of huis) behoort dan aan die kind. Dit is nie meer joune nie.

Geskenkebelasting kom ter sprake as die skenking meer is as R100 000. Tot op R30 miljoen gaan jy 20% belasting betaal op die waarde van die bate en dan 25% op die res.

  • Polis. Belê geld in ’n polis en maak jou kind die begunstigde.

Só verarm jy nie jouself nie, want jy het te enige tyd toegang tot die geld. Maar jy is verseker dat by jou dood die geld vir die kind beskikbaar sal wees. Dit word direk aan die kind betaal en gaan nie deur jou boedel nie. Dit val wel in vir boedelbelasting.

  • Trust. Jy kan die geld of ander bate na ’n trust oordra en die kinders begunstigdes in die trust maak. Maar dan het jy ook weer dieselfde probleem as om die geld te skenk – geskenkebelasting.
  • Of jy kan dit aan die trust verkoop op leningsrekening. Maar die uitstaande leningsrekening is steeds oop vir eise teen jou.

’n Mens wil nie graag aan die hand doen dat iemand wat nuwe liefde vind eers die ander se bankstate nagaan nie (hoewel dit sal help) – dit kan die vuurtjie blus.

Finansiële beplanning het kinkels. Maak seker jy doen dit met kundige hulp.

Scroll to Top