Wat gebeur met jou testament as jy ná jou maat se dood weer trou? Jou keuses kan verreikende gevolge hê vir jou boedel, jou nuwe huwelik en selfs vir belasting.
Wat gebeur met testament as jy ná jou maat se dood weer trou?
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 17 Augustus 2025
Jy moet weet wat jy doen as jy en jou gade ’n gesamentlike testament opstel of jul boedels laat saamsmelt, skryf Nico van Gijsen.
Ek kyk vandag na gesamentlike testamente en boedelsamesmelting. Dis nie dieselfde ding nie.
’n Gesamentlike testament is nie bindend op enige van die twee partye nie.
Selfs nadat hulle ’n gesamentlike testament opgestel het, kan enige party ’n eie nuwe testament opstel sonder om selfs die ander daaroor in te lig.
Jy kan jou eie testament opstel en oor jou eie goed beskik. Selfs al is jy binne gemeenskap van goed getroud, want jy besit tog die helfte van die gemeenskaplike bates.
Boedelsamesmelting
’n Gesamentlike testament om boedelsamesmelting te bewerkstellig is ’n bietjie ’n perd van ’n ander kleur.
Met boedelsamesmelting kan die gesamentlike testament wel bindend wees. Maar dan weer, ook nie in alle gevalle nie.
Boedelsamesmelting vind plaas waar twee mense saam ’n testament opstel waarin hulle bepaal dat by die dood van die eerssterwende die twee se afsonderlike boedels sal saamsmelt in een boedel.
Dit werk só:
Kom ons sê A en B is getroud – dis onnodig om getroud te wees – en hulle wil hul onderskeie boedels laat saamsmelt by die dood van die eerssterwende om byvoorbeeld ’n kind te bevoordeel.
Dan sal hulle die testament só opstel dat die kind byvoorbeeld ’n plaas erf en die langslewende ’n beperkte reg, byvoorbeeld ’n vruggebruik, oor die plaas sal kry in ruil vir eie bates wat aan die saamgesmelte boedel oorgedra word.
Die eerste belangrike punt wat ek hier wil uitlig, is dat so ’n testament geensins bindend is terwyl albei lewe nie. Enigeen kan te enige tyd, selfs sonder om die ander in te lig oor sy of haar besluit, ’n latere nuwe testament opstel.
Verder, selfs ná die dood van die eerssterwende, het die oorlewende party steeds ’n reg (eintlik ’n verpligting) om óf die voorwaardes in die gesamentlike testament te aanvaar óf te verwerp. Die regsbeginsel hier, volgens gesag, is eintlik meer een van keuse as van boedels wat saamsmelt.
Regspraak
As die oorlewende sy of haar besluit geneem het, dan is dit bindend. As die voorwaardes verwerp word, behou die langslewende sy of haar bates, maar verbeur dan ook die voordeel wat sy of hy sou kry uit die saamgesmelte boedel.
Die belangrikheid daarvan is onlangs weer in die saak Anderson v. du Plessis N.O. en ander [2025] ZAWCHC 243 in die hooggeregshof in Kaapstad bevestig.
Die egpaar HJA en KRA het in 2001 ’n gesamentlike testament opgestel waarin hulle hul onderskeie boedels laat saamsmelt het met die doel om vererfde bates in Duitsland binne die familie te behou.
Ná KRA se dood, is HJA met BR getroud. Tydens dié huwelik het HJA twee keer nuwe testamente opgestel waarin hy al sy bates aan sy nuwe vrou, BR, bemaak.
By sy dood het die vraag ontstaan oor die bates wat deel was van die oorspronklike boedelsamesmelting tussen HJA en KRA.
En dis hier dat die regsvraag oor keuse weer bevestig is. Die hof het beslis dat HJA by die sterfte van sy eerste vrou (KRA) die boedelsamesmelting en die voordele daarvan aanvaar het.
Die keuse om te adieer (aanvaar) of repudieer (verwerp) is bindend en kan nie omgekeer word nie.
Dít is baie belangrik. En dit het breë implikasies vir die oorlewende gade. Jy kan nie later van plan verander nie. Selfs nie met bates bekom uit die voordele wat jy gekry het uit die saamgesmelte boedel nie.
Bates wat jy self later bekom het, is uiteraard uitgesluit van die saamgesmelte boedel en jy kan daarmee handel soos jy wil.
Belasting
Hier is ’n ander strik wat mense nie altyd voorsien wanneer hulle saam testamente opstel waarin hulle hul boedels laat saamsmelt nie.
Ons weet nou die oorlewende party gee sy of haar besitreg prys op eiendom wat deel uitmaak van die nuwe saamgesmelte boedel, in ruil vir ’n beperkte reg, soos ’n vruggebruik.
Die waarde van die vruggebruik verkry, word by die dood van die langslewende as eiendom opgeneem in sy of haar boedel vir die berekening van boedelbelasting. Dis nie die ergste nie; ’n mens kan dit verwag.
Wat van geskenkebelasting?
Dit word gereeld misgekyk en soos ek hier bo noem, as jy eers die besluit geneem het, is dit bindend.
Dit kom daarop neer dat as die waarde van die bates wat die oorlewende gade tot die saamgesmelte boedel bydra in waarde (markwaarde) meer is as die waarde van die voordeel wat uit die saamgesmelte boedel gekry word, dan kan Jan Taks eis dat geskenkebelasting betaal word op die verskil.
Geskenkebelasting is 20% op skenkings onder R30 miljoen en 25% daarbo. Wat van kapitaalwinsbelasting?
Net só. Eiendom wat deur ’n langslewende gade prysgegee word in ’n boedelsamesmelting, sal onderworpe wees aan kapitaalwinsbelasting (KWB).
Dis anders as ’n skenking tussen gades in lewe. Dan is die skenking vrygestel van geskenkebelasting en geen KWB is betaalbaar nie omdat die basiskoste net na die ander gade oorgedra word.
Dit geld eweneens by dood, sou ’n bate soos vaste eiendom aan ’n gade vererf. Maar in die geval van boedelsamesmelting is die bate wat deur die oorlewende gade prysgegee word, nie ’n bemaking aan ’n gade nie.
Jou testament is een van die belangrikste dokumente wat jy in jou lewe gaan opstel. Maak seker jy verstaan elke woord daarin.