Jou huweliksdag is nie net ‘n viering van liefde nie, maar ook ‘n finansiële kontrak met verreikende gevolge. Ontdek hoe aanwasbedeling jou kan beskerm – of jou onkant kan vang – en wat die wet sê oor jou regte.
Aanwas in die huwelik: Hier’s wat kan haak
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 24 November 2024
Verskeie stukke wetgewing ter sprake in so ‘n geval
As jy trou, sluit jy ‘n kontrak. Julle sluit terselfdertyd ook ‘n finansiële kontrak. Een van wedersydse onderhoud. Maar daar is ‘n verdere kontrak. Jy sluit ook ‘n kontrak wat betref die finansiële gevolge by beëindiging van die huwelik. Hetsy deur dood of egskeiding.
In ‘n huwelik binne gemeenskap van goed gee jy eintlik op jou huweliksdag die helfte weg van alles wat jy reeds bymekaargemaak het (dit wat jy nie in ‘n voorhuwelikse kontrak uitgesluit het nie) en alles wat jy nog bymekaar gaan maak.
Die probleem hier is dat die een party geen finansiële bydrae hoef te lewer nie, maar tog gelykop deel in die ander party se vooruitgang. En andersom.
Trou met ‘n huweliksvoorwaardekontrak is baie mense se geloof in die sin dat dit beskerming bied teen daardie finansiële kontrak wat kan opduik by die beëindiging van die huwelik.
Dit is nie so eenvoudig nie.
Byvoorbeeld, ‘n vrou wat trou met ‘n boer. Haar lewe lank wei sy haarself daaraan om vir hom rykdom te skep. Dan kom nuwe poppie. En sy staan met leë hande.
Ja, daar is regsweë om die probleem te hanteer. Die punt is, sy het niks, sy moet in die hof gaan baklei vir ‘n deel van dit waaraan sy so hard gewerk het.
En dan is daar trou met die aanwas, soos ons dit in gewone taal noem. Dit behels, kortliks, dat dit wat die partye voor die huwelik gehad het, uitgesluit kan word in die huwelikskontrak. Tydens die huwelik hanteer elkeen sy of haar bate na goeddunke. By beëindiging van die huwelik (dood of egskeiding) het die party met minste groei in batewaarde tydens die huwelik ‘n eis ingevolge die Huweliksgoederewet (Wet 88 van 1984) teen die ander party om die helfte van die verskil in die netto groei tussen die boedels.
Dit verg nie veel van ‘n verbeelding oor maniere om die aanwas-verpligting te omseil nie. Die eis ontstaan tog eers by die beëindiging van die huwelik.
Ons sien byvoorbeeld dat bates skielik na ‘n trust oorgedra word om dit buite die boedel te kry.
Gelukkig maak die wet darem voorsiening vir die beskerming van so ‘n eis teen kwaadwillige optrede.
Jy kan ‘n hof nader
As jy ‘n eis teen jou man (of vrou) se boedel sou hê as die huwelik beëindig word en dit word ernstig benadeel deur sy of haar optrede of beoogde optrede (soos om bates skielik na ‘n trust oor te dra) kan jy ‘n hof nader.
Solank as wat derde partye (byvoorbeeld skuldeisers) nie daardeur benadeel gaan word nie, kan die hof ‘n onmiddellike verdeling van die bates gelas. Of ‘n ander uitspraak maak wat die hof billik ag.
Die hof kan selfs gelas dat die huweliksvorm gewysig word om die aanwas te verwyder.
Goed, dit kortliks oor die kern van die ding wat ek noem die finansiële kontrak wat jy met ‘n huwelik sluit ingevolge die drie huweliksvorm onderskeidelik.
Die groot onsekerheid gaan gewoonlik oor die laasgenoemde huweliksvorm trou met die aanwasbedeling van toepassing. So, kom ons trek die vergrootglas bietjie nader.
Alle persoonlike (eie) bates word in ag geneem vir die bepaling van die netto groei in batewaarde, vaste eiendom, sowel as nie-vaste eiendom.
Die sleutelwoord is boedelbates. Geskenke en erflatings is ingevolge die aanwasbedeling uitgesluit uit jou boedel. So ook bates in ‘n diskresionêre trust. So ook jou pensioenbelang.
Jou pensioenbelang word beskerm deur art. 37 A en 37B van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956). Onder meer ook teen skuldeisers. Dit val nie in jou boedel nie en daarom vorm dit nie deel van die aanwaseis by egskeiding of dood nie.
By egskeiding kom ‘n ander wet ter sprake
In 2007 is die Pensioenfondswet gewysig om die “skoonbreuk”-beginsel by egskeiding in te bring.
Art. 37D(l)(d) magtig nou ‘n hof om ‘n bedrag uit ‘n pensioenfonds in sekere omstandighede aan ‘n nie-lid-gade (of ander persoon) toe te ken. Dit het met die aanwaseis niks te doen nie.
Verder moet ons kyk na die Egskeidingswet (Wet 70 van 1979) en art. 7(7)(a) wat ‘n hof die mag gee om ‘n party in ‘n egskeidingsgeding se pensioenbelang as geagte bate deel van sy of haar bates te maak vir die doeleindes van verdeling of onderhoudsbevel.
Dit is nie die intrek van ‘n pensioenbelang om die aanwas te bepaal nie. Die aanwaseis gaan om die verskil in die netto groei in boedelwaarde en word gereël deur die Huweliksgoederewet (Wet 88 van 1984).
Om ‘n verdeling van ‘n pensioenbelang te maak, of ‘n onderhoudsbevel, vereis ‘n hofbevel, wat gereël word deur die egskeidingswet en die Pensioenfondswet soos hierbo bespreek. Dit wat betref die pensioenbelang en die aanwas.
Wat nou as jy reeds ‘n lewende annuïteit (pensioen) aangekoop het met jou pensioengeld? Dit is mos nou nie meer ‘n “pensioenbelang” nie.
Dit val steeds buite jou boedel en vorm steeds nie deel van die aanwas nie. Dit is presies wat die hooggeregshof in Johannesburg in die saak M vs M (2016) beslis het. Die persoon het nie die reg op toegang tot die kapitaal terwyl hy leef nie en daarom vorm die kapitaal nie deel van sy boedel nie. En daarom is dit ook nie vatbaar vir die aanwaseis nie.
Nog raad
Hanteer uittree-annuïteit buite jou testament
‘n Leser vra die afgelope week hoe sy haar uittree-annuïteit (UA) in haar testament moet benader.
Sy is glo aangeraai om vorms te voltooi vir die verdeling van die waarde in die uittree-annuïteit.
Dit is heeltemal korrek.
Jou uittree-annuïteit (enige pensioenfondsgeld) vorm nie deel van jou boedel nie. Dit val ook buite jou boedel vir die doel van boedelbelasting.
Jy hoef dit nie in jou testament te hanteer nie. Inteendeel, dit is beter om dit nie in jou testament te noem nie.
Jy wys begunstigdes aan wie jy die geld wil oordra by dood. Dit word dan direk aan die begunstigdes oorgedra, wat óf ‘n inkomste kan neem daaruit óf die kontant.
Neem net kennis dat art. 37C van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956) wat bepaal dat die trustees van die fonds eers moet seker maak van die afhanklikes voordat enige geld uitbetaal word aan ander begunstigdes. Jy kan dit nie omseil deur die UA in jou testament in te trek nie. Al wat jy gaan regkry deur nie begunstigdes aan te wys nie is dat die geld in die boedel gaan beland.
Hoewel dit steeds vrygestel is van boedelbelasting sal dit wel onderhewig wees aan die eksekuteurstarief.



