Vermy dié slaggate in aanwas-eis

Ontdek hoe om die valstrikke in die huweliksaanwaswette te vermy. Nico bied praktiese oplossings vir díé finansiële uitdagings en ondersoek die rol van lewensversekering in die dekking van aanwas-eise.


Vermy dié slaggate in aanwas-eis

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  19 Mei 2024

Die ware doel is om groter gelykheid te bring in huwelike

Ek kyk vandag na die rol van lewensversekering en die huweliksaanwas. Dit is ’n grys area in die reg. ’n Leser wil weet of hy met ’n lewenspolis die aanwas-eis van sy vrou kan dek wanneer hy sterf.

Dis ’n probleem waarmee akademici al lank worstel. En waaroor daar nog geen regspraak is nie, behalwe dalk een saak wat die akademici skynbaar as minder belangrik beskou.

Maar kom ons begin.

Die huweliksaanwas vind jy by huwelike buite gemeenskap van goed wat aangegaan is ná 1 November 1984 en waar die aanwas nie spesifiek uitgesluit is nie. Ons praat van die aanwasbedeling.

In huwelike wat die aanwasbedeling insluit, gaan elke gade voort om sy of haar eie boedel na goeddunke te behartig. Maar by die beëindiging van die huwelik, hetsy deur egskeiding of dood, het die gade (of sy of haar boedel ingeval van dood), wie se boedel die minste groei getoon het tydens die huwelik, ’n eis teen die ander gade (of boedel ingeval van dood) vir ’n bedrag gelyk aan die helfte van die verskil in groei tussen die twee boedels tydens die huwelik.

Neem tog net kennis, dit is nie ’n eis om die helfte van die grootste boedel nie, soos ek al gehoor het lesers vra. Dit is ’n eis om die helfte van die verskil in groei.

Die doel van die aanwasbedeling is om groter gelykheid te bring in huwelike waar die een gade, byvoorbeeld ’n huisvrou (of tuisteskepper, afhangend van die dekade waarin jy jou Afrikaans geleer het), geen groei in haar boedel gehad het nie, terwyl haar man welvaart geskep het.

Akademici praat bont

Nou is die vraag van die leser, sê nou die man het eiendom, of sakebelange, wat hy spesifiek wil bemaak wanneer hy sterf. Maar hy wil ook voorsiening maak vir sy vrou se aanwas-eis, wat hy weet gaan kom.

Ek praat nie van mans wat die aanwaseis probeer omseil nie. Ek praat van mans met integriteit. Dit is net dat hy ’n oplossing soek vir ’n bepaalde finansiële probleem.

Om vir haar voorsiening te maak met lewensversekering sou ’n logiese en eenvoudige oplossing bied. Maar nee, die akademici maak wat akademici met probleme doen. Hulle stry en praat en skryf. Maar van ’n praktiese oplossing kom daar min.

Hier is dit kortliks.

Neem jy lewensdekking op jou eie lewe, uitbetaalbaar aan jou boedel, vergroot jy eenvoudig die waarde in jou boedel. En vergroot jy die aanwas-eis (onthou, jou boedelwaarde is nou soveel meer).

Maar doen jy presies dieselfde en begunstig die opbrengs van die lewenspolis aan jou oorlewende gade, dan sê die akademici, nee, dit verhoog nie háár boedelwaarde nie.

Die rede vir die onderskeid is ’n argument (kortliks) dat die ooreenkoms met die versekeraar wat betref die polis aan die oorledene se boedel sekerheid bied. Hy gaan dood, dan betaal die polis uit.

Maar by die begunstiging aan die gade, so lui die argument, is daar nie daardie sekerheid nie. Want, hoor ek, sy kon dalk voor hom gesterf het. Dit is egter ’n swak argument.

As sy voor hom gesterf het, is daar tog geen vraag nie, is daar? Hoekom dit dan insluit in die argument?

En dan het ons die argument wat gevolg is in die saak Danielz vs. De Wet en andere, waar die hof bepaal het: Dit is eers ná die dood van die oorledene dat die reg op die sterftevoordele ontstaan.

Dit kan dus nie, na my mening, die boedelwaarde (vir doeleindes van die aanwas-eis) van enige party verhoog nie. Bloot omdat dit uitbetaal nadat die huwelik reeds beëindig is.

Maar die akademici verkies om een kant toe te so en anderkant toe te sus. Intussen worstel mense met die probleem om voorsiening te maak vir ’n langslewende gade met lewensversekering.

Kan die langslewende gade nie self die polis uitneem nie? Dan kan dieselfde argument mos gevolg word dat die dood van die eerssterwende seker is en die polis dan aan die langslewende uitbetaal.

Nee, dan, so redeneer die akademici, betaal dit ná dood en vorm dit dus nie deel van die langslewende se boedel nie (soos in Danielz vs. De Wet).

Aanwas gaan oor waarde

Wat van ’n skenking aan die ander gade?

Nee. Skenkings word spesifiek uitgesluit van die aanwas.

Wat van ’n ooreenkoms met die gade? Ek begunstig die polis aan jou, maar jy moet belowe om nie te eis nie. Dit, sou ek sê, is vertroue tot die dood toe. Of langer?

Dis erg baie vertroue.

Maar die vraag oor die persoon met groot sakebelange, wat dalk ’n kind wil help wat betrokke geraak het by die saak.

Ek sou sê die gade met die sakebelang en die kind wat betrokke is, moet ’n koop- en verkoopooreenkoms aangaan, met ’n bedrag lewensversekering wat die kapitaal sal verskaf vir die koop van die oorledene se belang.

Op dié manier sal die kind die belang in die saak bekom, vry van die las van ’n ouer as mede-aandeelhouer.

Die langslewende gade sal presies dieselfde eis teen die boedel van die oorledene hê. Dis bloot die bate in die boedel wat verander het, nie die waarde nie.

Die aanwas-eis gaan tog om die waarde, nie die bate nie.


Nog raad

Effektetrusts – só werk dit

’n Effek en ’n effektetrust is twee verskillende goed.

’n Effek (bond) is die onderliggende instrument waarin jy belê.

’n Effektetrust is die vorm waarin jou belegging gehou word. Dit kan effekte insluit, asook kontant en aandele. ’n Mengsel hiervan, of ’n enkele een, afhangend van die effektetrustfonds se mandaat.

Die nuwe deftige naam vir effektetrusts is kollektiewe beleggingskemas. Meer beskrywend dalk, maar te aansitterig na my sin.

’n Effektetrust-belegging werk so: Beleggers belê hul geld in ’n bepaalde effektetrustfonds, of liewer, fondse om diversiteit in die portefeulje in te bring.

Op die manier kry beleggers blootstelling aan ’n groter poel van beleggingsinstrumente met ’n kleiner kapitaaluitleg. Jy koop eenhede in die fonds.

Dit bied ’n geleentheid om inflasie te klop, want die fondse klop gewoonlik inflasie. Soms baie ver.

Dit bied likwiditeit, sou jy ’n deel van die belegging in kontant wil omskakel. Dit kan aan ’n ander party oorgedra word, of selfs namens iemand anders uitgeneem word.

Jy kan die vordering in jou belegging daagliks dophou in die media of op die beleggingsplatform self.

Die belangrikste aspek is dat jy weet die fondse word deur kundige batebestuurders en hul navorsingspanne bestuur.

Scroll to Top