Selfs in vandag se samelewing is daar nog verdrukking binne die politiek en met geldsake. Vroue neem nog te veel binne hierdie kwessies ‘n tweedeklasrol.
‘Bly en bou . . .’ maar wat van jou 2deklas-vrou?
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 28 April 2024
In politiek en met geldsake is daar nog veel verdrukking
Net toe ek begin glo ons Afrikaners begin politieke wasdom toon ná demokrasiewording word ek ontnugter deur Rapport se voorblad- berig verlede Sondag onder die opskrif “Afrikaners: Ons is hier om te bly én te bou”.
Goeie hemel, dit is ses weke voor die verkiesing. Die eerste verkiesing waar dit lyk of ons die spul korrupte kaders ’n bietjie in die bek kan ruk. Maar nou kom ’n groep “Afrikaners” en saai verdeeldheid met die tipiese apartheidsdiskoers van “ons en julle”.
As jy regtig ’n verskil wil maak, hoekom nie jou bek hou en wys nie? Daar is hoeveel Afrikaners en sogenaamde Afrikaanses wat saam met hul landgenote baie hard werk Z en hoogs suksesvol is Z om dinge vir almal van ons beter te maak.
Ons het nie nodig dat die regering ’n “kultuurverdrag met Afrikaners sluit” nie. Of soek na ’n “selfgedefinieerde kultuurgemeenskap Z ’n volk Z en nie bloot ’n taalgroep of rassegroepering nie”.
Dit verdeel net. Dit is ons land hierdie. Dit is ons reg om te leef soos ons wil. Ons hoef nie te pleit, te smeek, of te vra nie. Vir niks nie.
Dalk kan meer gerekende politieke kommentators ons ’n beter sosio-kultu- rele perspektief hierop gee. Waarby ek wil uitkom, is die tweedeklasrol wat vroue in ons samelewing speel.
Waar is vroue in hierdie prentjie?
En as dit lyk of my inleiding ver hiervan verwyder is, dink weer.
Het iemand al opgelet hoedat dit mans is wat die een organisasie op die ander stig om aanmatigend namens “Afrikaners” te wil optree? Het iemand al agtergekom hoeveel mans die gesin se geldsake beheer en vroue nie toegelaat word om naby die finansies te kom nie?
Wie het al die woorde gehoor “ek sal vir jou sorg” of “ek weet wat is die beste vir jou”? Vroue self het skynbaar nie nodig om te weet nie.
Wel, een leser het, en het vandeesweek haar hart in ’n e-posbrief hieroor oopgemaak.
“Ek lees altyd eerste jou rubriek as ek Sondae die Rapport kry! Baie dankie vir jou insiggewende artikels, dis op die man af en verstaanbaar.” En dan vra sy sommer vir ’n reeks artikels oor hoe vroue steeds aan die kortste end trek as dit by geldsake kom.
Dit is toevallig ’n onderwerp wat my baie na aan die hart lê. ’n Reeks artikels is dalk te veel gevra, maar ek kyk graag na ’n paar punte wat sy aanraak.
In baie boerderye (en in huisgesinne, kan ek byvoeg) is die vrou die hartklop van bedrywighede, skryf sy. Maar glo my, nie altyd as dit by erflatings kom nie.
Die plaas word mos aan die seun bemaak, of die dogter nou wil boer of nie.
Sy kry, as sy gelukkig is, ’n polis wat ’n paar rand uitkeer by Pa se dood.
Só skryf sy. En só sien ek dit ook baie keer.
Meisies, lyk dit my, moet maar wag vir daardie sprokiesprins op die wit perd, nie waar nie?
Iemand om jou in sy arms te neem, weg te voer. En te versorg.
Snert.
Hier is my raad: As jy die ma of pa van ’n dogter is, leer haar dat sy ’n mens is met dieselfde regte en vermoëns. Sy kan dieselfde drome koester. Sy hoef nie “versorg” te word nie. Sy wil liewer juis nie versorg word nie.
As jy by trou staan, staan weg van “ek sal vir jou sorg”. Sorg vir jouself. Julle kan deel. Moenie agter hom staan nie; staan langs hom.
Die harde waarheid van ‘ek sorg vir jou’
Eers is daar, as jy nog jonk is, dankbaarheid. Wat daarop volg soos die jare aangaan, is ’n verwagting van dankbaarheid.
Dis ’n reuse-klemverskuiwing.
En die voorloper van afhanklikheid.
Finansiële afhanklikheid laat jou bakhand staan. Jy word ’n slaaf. Jou menswaardigheid is weg.
Moenie wag daarvoor nie. Maak dit duidelik sommer reg van wanneer julle mekaar begin voel en vryf dat julle ’n vennootskap aangaan. Jy wil nie versorg word nie.
Die leser raak ook die kwessie aan van die bemaking van bates aan ’n trust, waaruit die vrou dan “versorg” sal word.
Met die seun of wie ook wat na haar sal omsien. Sy het geen sê nie.
Hierdie trust-ding (waaruit die vrou kwansuis onderhou moet word) word nie altyd mooi verstaan nie. Baie keer ook nie deur diegene wat die testament of trustakte opstel nie.
Ek sien alte gereeld trustakte wat lees dat die trustees “volle diskresie” oor die verdeling van trustbates sal hê. Sommige gooi nogal selfs ’n “uitdruklik” daarby in. Omdat hulle glo hulle weet iets van inkomstebelasting.
Maar dit, die diskresie, “help” juis die oorledene om soveel moontlik aan boedelbelasting te betaal. Daar is geen aftrekbaarheid vir die versorging van ’n langslewende gade in so ’n geval waar die trustees volle diskresie het nie.
Die goeie nuus vir die langslewende gade (vrou, in ons bespreking) met hierdie stuk regsonnoselheid is dat dit vir haar die geleentheid skep om ’n eis teen die boedel in te stel ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990).
Boedelbeplanning moet gedoen word met die vrou teenwoordig. Sy moet weet. Sy moenie verteenwoordig word deur enigeen as haarself nie. Verteenwoordiging ag jou minder. ’n Tweedeklas-mens. Polities of in die huwelik.
Nog raad
Gesamentlike testamente
Enige twee persone, getroud of nie getroud nie, kan saam in een dokument hul testament opstel. Dit is bekend as ’n gesamentlike testament.
Dit is veral gewild onder getroudes en veral in huwelike binne gemeenskap van goed.
Dit is belangrik om te verstaan dat ’n gesamentlike testament nie bindend is vir enige van die twee partye nie. Dit is bloot twee testamente in een dokument.
Enigeen kan te enige tyd ’n nuwe, eie testament opstel. Selfs sonder om die ander party daaroor in te lig.
’n Gesamentlike testament kan dien as slegs die testament van die eerssterwende.
Dit kan ook dien as die testament van die langslewende wanneer hy of sy sterf. Indien só, kan die langslewende die testament te enige tyd herroep en ’n nuwe testament opstel.
As die gesamentlike testament boedelsamesmelting daarstel, en die oorlewende party het die voordele daarvan aanvaar ná die dood van die eerssterwende, kan hy of sy nie in ’n nuwe testament handel met die bates in die saamgesmelte boedel nie. Hy of sy kan met eie bates handel soos normaal.
In die geval van boedelsamesmelting het die oorlewende party ’n keuse om die voorwaardes van die samesmelting te aanvaar of te weier.