Betaal jou skuld. Raak eers van jou sogenaamde “duur skuld”, soos kredietkaarte en winkelkaarte, ontslae. En maak ‘n punt daarvan om ekstra geld eerder te belê, veral met die oog op aftrede.
Spaar of betaal jou skuld: Wat maak sin?
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 03 Desember 2023
Raak eers ontslae van slegte laste en sit dan geld opsy
Ek kry die vraag van tyd tot tyd. Spaar ek my geld of betaal ek skuld af?
Daar is ’n maklike antwoord: Moenie skuld maak nie. Spaar.
Spaar meer as wat jy dink nodig is. Kyk veral na jou aftrede. Jy gaan meer geld nodig hê as wat jou werkgewer se aftreefonds gaan bied. Glo my maar. Aftreebeplanning is wat ons doen.
Maar omstandighede rondom die vraag is gewoonlik so dat ek nie die maklike antwoord kan gee nie. Gebruik dit dus net as ’n riglyn. Vóórdat jy gaan skuld maak.
Kom ons fokus op die moeiliker vraag: Jy het reeds skuld. Betaal jy jou skuld vroeër af of spaar jy liewer daardie ekstra geld per maand?
Voordat ek by die syfers kom, moet ons darem net eers kyk na die vorm van die skuld. Is dit kredietkaartskuld, ’n persoonlike lening, skuld op meubels en klere of ’n huisverbandlening? Logika sê vir ons dat skuld terugbetaal moet word (hoewel ek soms wonder as ek na die kooplus van sommige mense kyk). Die geldslang met skuld is die rente wat gehef word.
Op jou kredietkaart kan jy debietrente betaal van tot 22,25% per jaar. Kredietrente, as jy ’n positiewe balans op jou kredietkaart het, kan so min as 0,75% wees; duidelik nie die plek om te spaar nie.
Op ’n persoonlike langtermynlening by ’n groot bank is die rente tans ’n minimum van 17,5% per jaar tot ’n maksimum van 29,25% per jaar. En ja, jy sal basies die bank moet oortuig dat jy die geld nie regtig nodig het nie om daardie laer rentekoers te kry. Amper of jy die bank ’n guns doen.
Van hierdie soort skuld moet jy so gou moontlik ontslae raak as jy enigsins kan. Veral die kredietkaartskuld. ’n Kredietkaart is net ’n gerief as jy ’n positiewe balans daarin kan hou of minstens elke maand jou debietbedrag “skoonmaak”. Andersins is dit ’n geldslang wat jy in jou sak dra en hy teer op jou gebrek aan dissipline wat betref koop.
Soek jy die bewys in syfers?
Kom ons neem ’n rentekoers van 22% per jaar. Vir eenvoud hou ek die berekening op een keer per jaar; rente kan ook kwartaalliks of maandeliks bereken word.
Op uitstaande skuld van byvoorbeeld R20 000 is die rente oor ’n jaar R4 400. Dit is wat jy meer betaal op daardie item as wat hy regtig kos.
Terug by ons vraag: As jy ekstra geld het, spaar jy dit of betaal jy liewer die uitstaande skuld? Skuld word betaal met na-belaste geld. Kortom, jy verdien jou salaris en betaal inkomstebelasting. Van dit wat oorbly, betaal jy skuld af.
Kom ons sê jou gemiddelde belastingkoers vir die jaar is 20%. Jou skuldterugbetaling kos jou in werklikheid dan ’n yslike 27,5%, ná belasting.
Dit is die minimum opbrengs wat jy uit die belegging moet kry om dit vir jou net so voordelig te maak as om jou skuld te betaal. Dit moet ’n gewaarborgde na-belaste opbrengs wees. En dit gaan jy nie kry nie. Dalk met een of ander piramide- skema, maar as jy jou daar begewe, moet jy maar jou pak vat en nie rubrieke soos dié lees nie.
Wat van skuld op ’n huisverband?
Ek het hierbo genoem dat die vorm van die skuld belangrik is. Om ’n huisverband te moet afbetaal, is in my oë goeie skuld. Jy betaal aan ’n kapitaalbate wat (hopelik) goeie groei gaan bring, terwyl dit vir jou ’n woonplek bied. Rente op jou verband is gewoonlik laer. Die primakoers is 11,75% en vir die meeste mense is prima plus 2% die algemene verbandkoers. As jy ’n goeie kliënt is, dan dalk prima minus 1,5%.
Ons kan nou dieselfde som doen as hierbo. Kom ons sê jou verbandkoers is 13%, dan, met dieselfde gemiddelde belastingkoers as hierbo (20%), kos jou verbandterugbetalings ná belasting jou 16,25%. Dit is die na-belaste opbrengs wat jou belegging moet lewer om beter te doen.
Help dit om jou verband vroeër af te betaal? Ja, vir seker, maar is dit realisties?
Kom ons sê jy het geen ander skuld nie, dan eers moet dit ’n oorweging wees om jou verband te betaal. Die verskil in rente skreeu dit vir ons.
Belê tog jou ekstra geld
Maar ek sal sê belê tog jou ekstra geld en laat die huisverband na homself kyk.
Eerstens, omdat ’n mens gou gewoond raak aan die verbandpaaiement elke maand. Ja, ook maar net totdat hoër rentekoerse jou tref, maar dan sal ek sê trek die band stywer en beur voort.
Tweedens, omdat min mense genoeg voorsiening maak vir aftrede. Ek noem dit hierbo ook. Dit is belangrik. Mense spaar in die meeste gevalle 15% van hul inkomste 40 jaar lank om dan vir die volgende 40 jaar daarvan te moet leef. Dit is nie genoeg nie.
Derdens, spaar is ’n manier van dink oor geld. Ek sien dit in myself. Ek sien dit in my kliënte; hulle mors nie geld nie.
Kortom, raak ontslae van slegte skuld, kredietkaartskuld, ensovoorts, en spaar dan. Bestuur jou sinvolle skuld soos die huisverband. En moenie daarteen gaan leen en gierigheid die oorhand laat kry nie.
Nog raad
Belastingvrye Kersgeskenk
Dit is daardie tyd van die jaar: Wat koop ek vir die kinders vir Kersfees?
Wat van ’n Kersgeskenk wat in waarde toeneem? Wat van ’n Kersgeskenk wat nie belasbaar is nie? Hier is die syfers.
’n Mens kan tot R36 000 per jaar in ’n belastingvrye belegging spaar. En die jaar waarvan gepraat word, is ’n belastingjaar, dus tot einde Februarie. Jy kan by ’n versekeraar tot so min as R250 per maand so belê. Net nie meer as die R36 000 per persoon per jaar nie.
Jy kan nie dit wat jy minder spaar per jaar, minder as R36 000, oordra na ’n volgende jaar nie. Op dit wat jy meer in ’n jaar in so ’n belegging spaar, is ’n boetebelasting van 40% betaalbaar.
Byvoorbeeld, jy spaar R40 000, dan is daar belasting van R1 600 betaalbaar. Dit word by jou belasting vir die jaar getel. Die maksimum bedrag oor ’n leeftyd wat belê kan word, is R500 000. Die groei in die belegging is heeltemal belastingvry en dit betaal belastingvry uit. Die groot voordeel, soos met enige belegging, lê in die saamgestelde jaarlikse groei op groei, so dink langtermyn met so ’n belegging.