Skelm skemas blom waar gierigheid en desperaatheid saamsmelt – maar wat as die ware gevaar binne jou eie besluite skuil? Ontdek hoe geld-hiënas jou swakpunte uitbuit en leer die waarhede wat jou kan help om slimmer en veiliger beleggingskeuses te maak.
Skelm Skemas: Kyk ook na binne
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 01 Desember 2024
Geld-hiënas het ‘n groot glimlag en selfs ‘n gladder bek
My rubriek hier drie weke gelede, “Geldwolwe teer op gierigheid” (Rapport, 10.11), het ‘n paar lesers erg verontwaardig gemaak en na die sleutelbord laat gryp. Enkele het hul misnoeë uitgespreek omdat ek glo se dis hul gierigheid wat gemaak het dat hulle geld verloor het in een of ander vinnig-rykwordskema.
Maak daarvan wat jy wil.
Die waarheid is dat daar ‘n geneigdheid is deesdae om die slagofferkaart te wil trek elke keer as iemand die nie so onverwagte gevolg kry van sy of haar eie onnosele besluit.
Wat te goed klink om waar te wees, is.
As die groot banke vir jou rente van 9% aanbied en iemand kom met ‘n aanbieding van 20% per jaar, dan kan jy mos voor jou siel weet hy lieg vir jou. Met wettige beleggings (en geld-hiënas wat hulle as makelaars voordoen) is dit moeiliker om die onetiese gedrag te herken. Hy het nie groot ore of tande soos Rooikappie se wolf nie. Hy het ‘n groot glimlag en ‘n gladde bek.
Kom ons kyk na ‘n paar waarhede om beleggingsprobleme.
‘n Goeie belegging neem tyd
Dit gaan nie oor tydsberekening en die speel van die mark nie. Dit gaan oor tyd in die mark.
Kom ons kyk na ‘n voorbeeld.
Die afgelope week kry ek ‘n nota van ‘n kliënt om my te bedank vir die goeie groei wat hy gekry het op wat ek beskou het as maar ‘n beskeie belegging. Ons wou groei hê, sonder om sy kapitaal in gevaar te stel.
Ek het dit in ‘n Old Mutual Max-polis belê. Hier is die syfers (kyk meegaande grafiek).
Belegging van R1 miljoen in November 2010. Nou, 14 jaar later, staan dit op RS 907 369. Dit is groei van gemiddeld 13,53% per jaar.
Anders gestel, sy aanvanklike belegging het met meer as 490% toegeneem. Nog anders gestel, hy het in 14 jaar meer geld bymekaargemaak as wat baie mense na 40 jaar kon spaar om mee af te tree.
Die grafiek toon ook die vergelykbare dollarwaarde van die belegging en die inflasiegroei oor dieselfde tyd.
Nie omdat ek slim was nie. Omdat hy die geduld wat ek voorgestel het, gaan toepas het. En nie die Blinkstefaanse, die ponzi’s, die Herman Pretoriusse en die Louis Liebenbergs van die lewe se snert vir soetkoek opgeëet het nie.
Ek is nie ‘n skoolmeester nie, maar hier is ‘n paar lesse geleer deur jare se werk met mense, praat met mense en ja, selfs vleisbraaivuur-stories waarna ek ordentlikheidshalwe moes luister tydens jagtogte.
Ek het in my vorige rubriek gewys op mense se gierigheid wat deur die geldhiënas uitgebuit word. Ek staan daarby.
Ek is ook bewus daarvan dat dit baie keer desperaatheid is wat geboorte gee aan daardie gierigheid. Mense wil in ‘n kort tydjie vergoed vir dit wat hulle oor ‘n lang tyd verkeerd gedoen het.
En die skelms sien dit. En die geldhiënas sien dit. En hulle belowe die wêreld. Met voorbeelde. Leuens.
Al is dit groeisyfers uit feiteblaaie van wettige beleggingsfondse, as dit belowe word vir die toekoms, stap weg.
Jou beleggingsplan moet voldoen aan jou behoeftes.
Keer vir gierigheid
Wat hierdie mense ook raaksien, is daardie mense wat juis nie baie geld het nie (veral die wat desperaat is).
Dis hulle wat die meeste verloor.
Miljoene word só ingesamel. En wanneer die kaartehuis inmekaar tuimel is dit die wat met die minste begin het wat die swaarste gaan kry. Of met niks gaan eindig.
Kyk ook uit vir belastingstories. As jy hoë rente aangebied word wat hulle sê belastingvry is (jy hoef dit nie te verklaar nie), weet dit is ‘n skelmstreek. Weet ook dat jy dan ‘n deelnemer is aan bedrog en beslis nie ‘n slagoffer nie.
Rente is belasbaar. Saam met jou rente wat jy verdien, moet jy ‘n belastingsertifikaat kry. Anders word jy belieg. En jy gooi jou geld agter die wolwe aan.
En as ek nou op tone trap: Nee, ek is dan nie jammer nie, ek doen dit met graagte.
As jy gebreinspoel word deur die een of ander sportster of “persoonlikheid” wat hierdie beleggingsgeleentheid ondersteun, of veral aanbeveel, loop anderpad.
Ek het in my vroeëre rubriek verwys na Robert Browning se gedig “Die rottevanger van Hameln”.
Daardie mense, die sterre en die persoonlikhede, se groot ego’s word gestreel net soos die rottevanger sy fluit bespeel het. Die wysie is een van hoë opbrengste en kitsrykdom en is meesleurend vir die gieriges en die desperates.
Moenie die fout maak nie. Kyk na jouself. Eers na jouself.
Wat wil jy hê? Wat is jou doelwit?
As jy oornag wil ryk word, glo my, die Lotto is goedkoper. Die verskil is met die Lotto kan jy wen, met skelm beleggings kan jy nie.
As jy Lotto speel, doen dit tog net verstandig.
Iets wat ek gereeld oor die jare beklemtoon, is, kies jy jou beleggingsraadgewer. Pasop as hy vir jóú kom kies.
Hy sien dalk iets in jou wat jyself nie besef nie. Vir hom beteken dit geld, jóú geld. Vir jou beteken dit baie keer net ellende.
Beleggings gaan nie oor oornag-rykdom of oor hoe om die mark reg te speel nie. Dit gaan oor goeie besluitneming en dan om die geduld te hê en die mark toe te laat om sy ding te doen.